Die boublokke van goeie lusern

Estimated reading time: 3 minutes

Daar is ’n spreekwoord wat lui: As die berg nie na Mohamed kan kom nie, moet Mohamed maar na die berg toe gaan. Dit is presies die benadering wat Agrofors, ’n saadmaatskappy met sy wortels in Oudtshoorn, gevolg het toe die bemarkingspan onlangs ’n luserntoer na Prieska, Douglas en Jan Kempdorp aangepak het. Die doel was om lusernprodusente en verspreiders in hierdie sleutelproduksiegebiede persoonlik te besoek en bestaande verhoudings te versterk.

David Malan, die besturende direkteur van Klein Karoo Saad Produksie, het tydens die geleentheid vertel dat Agrofors in 2022 gestig is om boere te ondersteun met betroubare weidings- en agronomiese saadoplossings. Die span gee veral aandag aan volhoubaarheid, opbrengs en gehalte. Tans word volledige reekse lusern, voersorghum, gematigde en subtropiese grasse, grane asook dekgewasse in die mark aangebied vir gebruik in verskillende weidings- en produksiestelsels.

Hy sê boere se winsmarges is só klein dat elke inset streng bestuur moet word; daarom kan hulle nie bekostig om swak saad vir aangeplante weiding te gebruik nie. Betroubare variëteite en goeie gehalte saad speel ’n belangrike rol, aangesien die gebruik daarvan ’n bepalende invloed het op ontkieming, standvesting en daaropvolgende produktiwiteit. Plaaslike en internasionale genetiese materiaal word geëvalueer en slegs die beste lusernvariëteite word uiteindelik na die mark gebring.

Nuwe lusernkultivars getoets

Een van die landboukundiges in die Agrofors-span, Bernard Hoepfner, het insigte gedeel oor Agrofors se lusernreeks. Slegs die beste genetika uit verskillende lande word uitgesoek en dan in Suid-Afrika geëvalueer.

Dit is egter nie voldoende is om bloot te bewys dat lusernvariëteite onder ideale omstandighede presteer nie – dit moet ook toon dat dit in verskillende streke kan aanpas. Hiervoor is verskeie lusernproduserende gebiede regoor Suid-Afrika geïdentifiseer, waar produsente die variëteite onder praktiese boerderytoestande aangeplant het.

“Suid-Afrika se landbougebiede is baie divers. Sommige gebiede is droog en warm, terwyl ander weer koeler en natter is,” het hy gesê en bygevoeg dat terugvoer vanaf produsente ’n sleutelrol in die verdere evaluering en ontwikkeling van variëteite speel.

Hoepfner het ook beklemtoon dat deeglike werk vooraf gedoen word om seker te maak dat die lusernvariëteite wat ’n boer aankoop, by sy of haar spesifieke omstandighede pas. Elke plaas is uniek en boerderybestuurspraktyke verskil. Verskeie opsies is beskikbaar om voorsiening te maak vir verskillende produksie- en bestuurstelsels in die praktyk.

“Ons sien verskeie uitdagings waarmee produsente te make het, soos snyfrekwensie, sout- en watergehalte, temperatuurskommelings en bestuursfoute.”

Kernbeginsels van volhoubare lusern

Onafhanklike weidingkundige, Rudi Kuschke, het oor die volhoubare bestuur van lusernlande gesels. Hy het beklemtoon dat boere eintlik met grond boer en dat grond deeglik geëvalueer moet word om te verseker dat variëteite onder die geskikste omstandighede gevestig word. Hy het ook daarop gewys dat ander faktore soos die omgewing, klimaat en grondbestuur belangrik is vir grondgesondheid.

Hy beveel aan dat grondontledings elke nege tot 12 maande gedoen word en dat bemesting dan op grond daarvan aangepas word. Dit sal bydra tot goeie gehalte lusern met ’n goeie nutriëntdigtheid en hoë opbrengs.

Johan Botha, besturende direkteur van Oranjerivier voere, was een van die sprekers tydens die Prieska-dag en hy het gesels oor die gebruik van lusern as veevoer. Wat hom betref is die dier eintlik die kliënt en die produsent moet die voer produseer wat die dier nodig het. Elke dier het sy eie behoefte en daarom moet daardie behoefte deeglik ontleed word. Goeie lusern verskaf energie, proteïene en vesel. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Weidingsgehalte in die berugte doodmaakmaande

Estimated reading time: 7 minutesSuurveld kom hoofsaaklik in die hoëreënvalgebiede van die oostelike dele...

Boost young animals’ immunity before the lambing and calving season

Estimated reading time: 4 minutesVaccinating ewes and cows four to six weeks before lambing...

Klimaatslimboerdery bied kos vir die siel én die veld

Estimated reading time: 8 minutesDit het Veronica Rorich se passie geword om herwinningsboerdery aan...

AFMA Matrix September 2026 – Forum issue now available

Estimated reading time: 2 minutesThe September 2026 edition of AFMA Matrix is a special...