Estimated reading time: 2 minutes

Met al hoe meer verbruikers wat hul aankoopbesluite op die volhoubaarheid en naspeurbaarheid van produkte skoei, asook groter mededinging tussen die onderskeie handelsmerke, moet ’n koste-effektiewe en deursigtige, naspeurbare wolwaardeketting daargestel word om Suid-Afrika as ’n voorkeurwolverskaffer in die wêreld te laat uitstaan.

Daarom is ’n ooreenkoms onlangs tussen Cape Wools Suid-Afrika (CWSA) en die Australiese Wolbeurs (Australian Wool Exchange), of te wel AWEX, gesluit. Hierdie ooreenkoms berus op samewerking tussen SustainaWOOL Green and Gold wat deur AWEX besit word, en die Suid-Afrikaanse Cape Wools Volhoubaarheidstandaard.

Die samewerkingsooreenkoms tussen die twee lande ondersteun integriteit en die naspeurbaarheid van volhoubare gesertifiseerde wol regdeur die wolwaardeketting. Luidens Cape Wools se hoofbestuurder, Deon Saayman, kan dit as ’n geskiedkundige gebeurtenis beskou word, veral in die lig daarvan dat Australië die grootste wolverskaffer in die wêreld is, en Suid-Afrika as die grootste verskaffer in die wêreld vir volhoubare gesertifiseerde wol beskou word.

Dit word al hoe belangriker om volume wat aan die volhoubaarheid van wol voldoen vir die verwerkers, sowel as deursigtigheid wat regdeur die wolwaardeketting waarneembaar moet wees, te skep. Saayman voer aan dat een van die redes vir die ooreenkoms tussen die twee lande daarop berus dat baie verwerkers, veral dié van Europa, versoeke vir gesertifiseerde wol ontvang.

“Die verwerkers benodig dus verbeterde deursigtigheid wat hulle sal help om die volhoubaarheidstatus binne-in die verwerkingslot te identifiseer,” sê hy. “Ons moet om daardie rede in ag neem dat ’n klomp wol in die verwerkers se kamlotte vanuit Suid-Afrika afkomstig is, wat weer eens beklemtoon dat Suid-Afrika ’n rolspeler in die wêreld van volhoubare wol is.”

Geleentheid om aan sertfisering deel te neem

Deur die Suid-Afrikaanse volhoubaarheidsbasis in die wolbedryf verder te verbreed, kan Cape Wools aan soveel meer produsente die geleentheid bied om aan ’n sertifiseringstelsel deel te neem. Die probleem wat wel dikwels daarmee gepaardgaan, is die koste-implikasie vir produsente en vir die res van die wolwaardeketting. Daarom glo Saayman dat daar gepoog moet word om ’n stelsel te implementeer wat aanvaarbaar en werkbaar vir almal in die wolbedryf is.

Behalwe vir die Cape Wools/AWEX-ooreenkoms, sal nog soortgelyke ooreenkomste in die toekoms verder tot waardetoevoeging in die Suid-Afrikaanse wolbedryf kan bydra. Een van hierdie ooreenkomste is die Suid-Afrikaanse Merino-kenteken wat ten doel het om naspeurbare Suid-Afrikaanse wol te identifiseer en te sorg dat die wol vanaf die plaas tot op die winkelrakke nagespeur kan word. Nog ’n goeie voorbeeld waar ’n ooreenkoms bereik is, is die Schneider-groep van Italië wat die Cape Wools Volhoubaarheidstandaard nou ook op hul outentieke platform erken.

Lees meer oor die wolmark.

“Ons is tans in die proses om enkele ander moontlikhede te ondersoek wat spesifiek op die Suid-Afrikaanse wolbedryf betrekking het,” sê Saayman. – Carin Venter, AgriOrbit