Estimated reading time: 4 minutes

Die Vrystaatse sambreelvereniging vir brandbeskerming, FSUFPA, beklemtoon voortdurend die belang van brandbane ter voorbereiding vir vanjaar se brandseisoen. Johann Breytenbach, algemene bestuurder van FSUFPA, sê die maak van voorbrande is ook uiters noodsaaklik vir grondeienaars se eie risikobestuur.

Alle grondgebruikers word wetlik verplig om te voorkom dat onbeheerde brande op hul eiendom ontstaan of versprei. Brandbeskermingsverenigings (BBV’s) speel ’n belangrike rol om grondgebruikers met inligting te ondersteun om aan die bepalings van wetgewing wat betrekking op veldbrandbestuur het, te voldoen.

Samesmelting van BBV’s

Johann sê die strategiese plan is om die sowat 42 BBV’s in die provinsie tot vier distriks- en drie streeks-BBV’s te verminder, sodat dié BBV’s meer volhoubaar is en met sterker strukture beter ondersteuning aan hul lede kan bied.

Volgens hom word die samesmeltingsproses wyd ondersteun. “Dit is ’n geruime tyd al op die agenda, maar het momentum verloor toe die staatsdepartemente in 2019 herrangskik is. Die Covid-19-pandemie het dié proses verder belemmer.

“Dinge is egter weer op dreef en daar is reeds vyf van die sewe beoogde distriks- en streeks-BBV’s wat gedeeltelik of in geheel saamgesmelt het.” Noordoos-Vrystaat se streeks-BBV, die Mangaung Fire Protection Association (’n distriks-BBV), asook Imperani, Bethlehem en Vaal-Eden, wat elk streeksontwikkelings-BBV’s is, skakel almal by FSUFPA in en is hoogs funksioneel.

Die sambreelliggaam

FSUFPA is in 2013 gestig ingevolge die Wet op Veld- en Bosbrande, 1998 (101 van 1998). Die organisasie bestaan uit die sewe geaffilieerde BBV’s, provinsiale rampbestuur, grondeienaars en die Vrystaatse veldbrand-adviesforum. Verskeie belanghebbendes soos regeringsdepartemente, kundiges van die Suid-Afrikaanse Weerdiens en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging, lewer tegniese insette. FSUFPA dien ook in die provinsiale advieskomitee vir brandweerdienste en die provinsiale forum vir rampbestuur.

Johann sê hoewel FSUFPA in lyn met die nasionale rampbestuurwetgewing en struktuur is, bly die uitdaging om al die BBV’s in die Vrystaat te help met die samesmeltingsproses. “Die poging om beter funksionerende BBV’s in die provinsie te bewerkstellig sal tyd neem, maar FSUFPA hou aan om kleiner, ongeaffilieerde BBV’s wat steun vra, by te staan.”

Vooruitsigte vir die brandseisoen

Vooruitsigte vir die komende brandseisoen in die Vrystaat, sê hy, dui op ’n bogemiddelde nat winter. Hoë lugvog word verwag, met bogemiddelde lae temperature, terwyl ryptoestande, wat ’n groot rol speel om te bepaal wanneer gras verdor en meer brandbaar is, eers later in die winter gaan voorkom.

Daarom word die Vrystaat se brandseisoen eers later as normaal verwag, met ondergemiddelde maksimum temperature. Dit gaan ’n matige winter wees met ’n kans op bogemiddelde reënval tot laat in die winter. Daarmee saam gaan die brandseisoen korter as vorige seisoene wees en wegholbrande kan moontlik eers in Augustus en September ernstige afmetings begin aanneem.

Dié vooruitsigte verskil van verlede jaar, toe wegholbrande reeds in Junie en Julie ernstig begin toeneem het. Dit gaan dus ’n intensiewe, maar kort brandseisoen wees. “Boere praat van goeie weiveld; ek praat van hoë brandstoflading.” Belanghebbendes het wel langer tyd gehad om daarop voor te berei, veral om strategiese brandbane te maak.

Brandbane as voorsorg

Brandbane verhoed nie net die verspreiding van wegholbrande nie. Dit dien ook as toegangsroetes na brande en as ontsnaproetes uit gebiede waar dit brand. Dit word ook as ’n beheerlyn gebruik, vanwaar ’n beheerde brand ’n aankomende brand kan keer om verby ’n spesifieke beheerlyn te versprei. Bestaande brandbare plantmateriaal word vernietig sodat aankomende vlamme in ’n beheerde brand kan uitbrand. Dit is een van die belangrikste funksies van brandbane, sê hy.

Die beste tyd om brandbane te maak is wanneer plantmateriaal in die veld nie meer aktief groei nie. Daar is reeds in Maart begin om onkruiddoder op grasvelde, wat as brandbane dien, te spuit. Dít vergemaklik die maak van brandbane, omdat dooie plantmateriaal dan beskikbaar is wat maklik brand, waarna op ’n meganiese wyse binnepaaie geskraap kan word.

“Daar is geen beperking op wanneer brandbane gemaak kan word nie en dit is ook nie te laat om in Junie te begin nie. ’n Provinsiale verbod kan slegs onder sekere omstandighede deur plaaslike owerhede in samewerking met brandverenigings en rampbestuur ingestel word.

“Dit is wel belangrik dat brandbane volgens brandgevaarindekse gemaak word. Daaglikse weerstoestande gee ’n aanduiding of voorbrande gemaak mag word of nie. Daarmee saam kan dié brande nie sonder ’n permit uitgevoer word nie. Brandverenigings het ’n wetlike verpligting om gereeld en redelikerwys ’n brandindeks aan hul lede beskikbaar te stel.

“Indien voorbrande sonder ’n permit gemaak word, kan die grondeienaar aanspreeklik gehou en wetlik aangekla word. BBV’s moet dus permitte aan hul lede beskikbaar stel en dié verenigings moet die permitte by hul onderskeie munisipaliteite kry. ’n BBV moet ’n mandaat van die munisipaliteit ontvang om as agent in verband met die maak van brandbane op te tree,” sê Johann. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Johann Breytenbach
by 074 467 4450 of epos genman@fsufpa.co.za.

wegholveldbrande