In ‘n vorige artikel het ons gepraat oor die wispelturigheid van verskillende bosluisspesies in hul soektog na ’n gasheer. Maar wat gemaak as hulle uiteindelik ’n gasheer wat in hul smaak val, raakloop? Hulle is steeds die ene fiemies, dié keer oor waar op die gasheer hulle nou eintlik wil aansit vir ’n maaltyd. Hier speel waarnemingstrukture aan die monddele ’n belangrike rol om daardie spesiale plekke waar elke spesifieke bosluisspesie die lekkerste en voedsaamste bloedmaal kan inneem, op te spoor.
Die soektog na die regte plekkie op die gasheer is amper soos ’n skattejag. Die bosluis voel-voel met die kaaktasters so al met die aanstap oor die gasheer se vel totdat die sensoriese organe ’n gunstige stimulus kry. Dit laat die bosluis ophou soek, breed glimlag en amper tevrede nesskop.
Eers sprei die kaaktasters wyd oop en skop dit vas teen die vel om die monddele so na as moontlik daaraan vas te druk. Dan word die haakkloue gebruik as ’n klein skêrtjie om ’n snytjie in die vel te maak, totdat dit in kontak met die gasheer se liggaamsvloeistowwe kom, om sensories uit te snuffel of die plekkie geleë is of nie. Eers as die sensoriese terugvoer die bosluis tevrede stel, sal voeding voortgaan.
Sensoriese waarneming
’n Ongunstige sensoriese waarneming kan haar laat besluit om die monddele te onttrek en verder te soek na ’n meer gunstige sitplekkie op die gasheer. Indien sy op die verkeerde gasheer beland het wat glad nie in haar smaak val nie, sal sy laat los, grond toe val en haar soektog na ’n geskikte gasheer weer van voor af aanpak.
’n Gunstige sensoriese waarneming sal die bosluis aanmoedig om volledige penetrasie van die monddele te bewerkstellig deur die hipostoom in die gaatjie, gemaak deur die haakkloue, in te dwing en stewig aan die gasheer vas te heg. Die tandjies, wat in ’n weerhakie-vorm op die hipostoom gerangskik is, help dat dit nie maklik kan uitglip nie.
Die bosluis kan dan enigiets van sewe tot 14 dae, afhangende van die spesie, aan die gasheer vasheg. Om hierdie vashegting verder te versterk, skei die speekselkliere ’n sementagtige stof af wat die bosluis se monddele stewig aan die gasheer se vel verbind.
Geen kans vir terugbaklei
Voordat die gasheer enigsins kan terugbaklei om die onwelkome indringer met ’n teenreaksie kaf te draf, sorg die bosluis dat sy haar geheime speekselkomponente, wat die gasheer se immunologiese reaksie onderdruk, in die voedingspoel inspuit en ook verhoed dat die gasheer se bloed stol en voeding bemoeilik.
Eers dan word vloeistowwe ingeneem, eers huiwerig en stadig met ruspouses, vir die eerste klompie dae. Ongeveer 24 tot 48 uur voordat sy beplan om af te val, gaan sy haarself te buite deur haar magie lekker vol heelbloed te prop, soveel só dat die wyfie tot 100 keer haar oorspronklike grootte kan uitswel.
Dit verklaar dan ook hoekom ’n mens skielik binne ’n dag of twee onverwags ’n klomp groot bosluise op ’n bees sien. Teen daardie tyd ry hulle reeds vir die afgelope vyf tot twaalf dae rustig saam op die beestaxi, terwyl hulle salig weglê aan die heerlike maaltyd.
Gunsteling aanhegtingsplek
Die bloubosluis, wat nie te kieskeurig is nie, sal redelik verspreid oor die gasheer se lyf voorkom. Die larwes en nimfe van die rooipootbosluis sal slegs in die ore van hul gasheer vasheg en die volwassenes verkies die haarlose plekkies onder die stert, wat ook die gunsteling aanhegtingsplek vir die volwasse bontbosluise is.
Die volwasse bontpootbosluise verkies die haarlose anale areas, die stertkwas, bene en pote. Die bruinoorbosluis verkies die oorskulp, maar kan ook op die ooglede, horingarea en nekarea gesien word. As dit nie ’n aanduiding van kieskeurigheid is nie, weet ek nie so mooi nie!- Ellie van Dalen
Vir meer inligting oor bosluisweerstandbiedendheidstoetsing, kontak Ellie van Dalen van die Pestisied Weerstandbiedendheidstoetsfasiliteit by die Departement Dierkunde en Entomologie aan die Universiteit van die Vrystaat by vdalenem@ufs.ac.za of 083 388 5539.