Monday, February 3, 2025

Bek-en-klouseer breek in Duitsland uit

Estimated reading time: 3 minutes

Die geval van bek-en-klouseer (BEK) wat onlangs op ‘n plaas by Hönow in Duitsland uitgebreek het, is van die O-stam van BEK, wat nie in Suid-Afrika voorkom nie. So sê die direkteur van die Veearts Netwerk, dr Danie Odendaal. Die stamme SAT 1, 2, en 3 kom in Suid-Afrika voor. Hoewel die uitbreking dus niks met Suid-Afrika te doen het nie, sal die geval sonder twyfel die sensitiwiteit rondom BEK by die EU verskerp en die feit bevestig dat BEK potensieel op enige plek kan uitbreek.

Die Berlyn-uitbreking, sê hy egter, is baie gelokaliseerd en vinnig onder beheer gebring.

Duitse owerhede het vroeër bevestig dat hierdie uitbreking by Berlyn in ‘n kudde waterbuffels die eerste sedert 1988 is.

Beheermaatreëls is onmiddellik in plek gestel waarvolgens die waterbuffels van kant gemaak is en ‘n buffersone van 3km en ‘n moniteringsone 10km rondom die betrokke plaas ingestel is. Geen diere of diereprodukte mag uit hierdie sones geneem word nie.

Volgens euronews.com is nog 55 bokke en skape, 170 varke en drie beeste binne ‘n radius van 1km van die buffelplaas as voorsorgmaatreël van kant gemaak.

Ondersoeke tot sover dui daarop dat die siekte nie verder versprei het nie.

Streng beperkings op die horison

Intussen berig Reuters dat Duitse uitvoere van vleis en melkprodukte na buite die EU nou streng beperkings in die gesig staar. Volgens die reëls van die Wêreld-organisasie vir Dieregesondheid (WOAH) kan baie veterinêre sertifikate vir uitvoere na buite die EU nou nie meer uitgereik kan word nie. Uitvoere na ander EU-lande sal waarskynlik voorgaan omdat die huidige reëls bepaal dat uitvoere slegs gestaak moet word vanuit streke in ‘n EU land wat direk deur die uitbreking geraak word.

Volgens pigprogress.net is dit egter moontlik dat die virus reeds na ander dele in die omgewing versprei het, deels omdat die diere reeds vir ‘n lang tydperk met die virus besmet kon gewees het. Vatbare diere word dus binne ‘n radius van 3km rondom die geïnfekteerde plaas vir die virus getoets.

Suid-Korea het reeds ‘n verbod op die invoer van varkvleis uit Duitsland ingestel. Die Suid-Koreaanse ministerie van landbou het na berig word aangedui dat sowat 360 ton Duitse varkvleis wat sedert 27 Desember 2024 ingevoer is, onder kwarantyn geplaas is en getoets word vir moontlike BEK kontaminasie.

Die WOAH het intussen erkenning gegee aan die vinnige amptelike aankondiging van en optrede teen die uitbreking. Hoewel die BEK-virus nie as ‘n openbare gesondheidsrisiko beskou word nie, is dit krities vir dieregesondheid as gevolg van die maklike en vinnige verspreiding daarvan en die beduidende ekonomiese impak wat dit kan hê.  – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Popular stories