Sunday, March 9, 2025

Alternatiewe energie vir groot boerderye: Kostes en oorwegings

Estimated reading time: 9 minutes

  • Met ’n wêreld wat al hoe meer omgewingsbewus raak, is Suid-Afrika se kragverbruik een van die grootste sondebokke in Afrika. Met ’n steenkoolgedrewe energiesektor is dit nie onverwags dat dit die grootse CO₂-produsent in Afrika is en 14de in die wêreld nie.
  • Daar is ’n paar soorte alternatiewe energie beskikbaar, soos hidro-, wind-, en sonkragenergie. Vir die gemiddelde produsent in Suid-Afrika is sonkrag-energie tans die mees koste-effektiewe opsie.
  • Daar is verskeie sonkraginstalleerders en finansiële instansies wat finansiering hiervoor verskaf. Om sodoende die regte stelsel te kies, is dit baie belangrik om die regte installeerders sowel as finansierders te gebruik.
  • Vir suksesvolle sonkraginstallasie, is dit ‘n goeie begin om jou huidige kragverbruik te verminder. Dit kan gedoen word deur die gebruik van energiedoeltreffende toestelle, LED-gloeilampe, gasstowe in die huis, ensovoorts.
  • Die gemiddelde produsent se kragbenodighede wissel tussen 20 en 50kVa. Die stelsels is grotendeels vir die plaaswoning, skure, werkers se huise, en silo’s.

Met ’n wêreld wat al hoe meer omgewingsbewus raak, is Suid-Afrika se kragverbruik een van die grootste sondebokke in Afrika. Met ’n steenkoolgedrewe energiesektor is dit nie onverwags dat dit die grootse CO₂-produsent in Afrika is en 14de in die wêreld nie.

Soos die meeste lande, verstaan Suid-Afrika die behoefte aan hernubare energie, maar vir die land se produsente is ’n groener land nie noodwendig die rede waarom hulle wil omskakel na alternatiewe bronne van energie nie. Langdurige kragonderbrekings wat hul besighede belemmer, is eerder die rede vir omskakeling. Die impak van beurtkrag is inderwaarheid so groot, dat alternatiewe energie nie meer ’n luukse is nie, maar ’n noodsaaklikheid vir boerdery-ondernemings.

Daar is ’n paar soorte alternatiewe energie beskikbaar, soos hidro-, wind-, en sonkragenergie. Vir die gemiddelde produsent in Suid-Afrika is sonkrag-energie tans die mees koste-effektiewe opsie. Afrika is bekend vir sy oorvloedige sonkragbronne en Suid-Afrika is nie ’n uitsondering nie. Figuur 1 is ’n kaart van Suid-Afrika wat die land se sonenergie-potensiaal aantoon. Volgens die Global Solar Atlas wat deur die Wêreldbank in samewerking met Solargis beskikbaar gestel is, is Suid-Afrika se sonenergie-potensiaal enorm.

Lees meer oor alternatiewe energie-bronne.

Figuur 1: Suid-Afrika se termiese sones met langtermyn gemiddeldes van direkte normale bestraling. (Bron: Solargis, 2020)

Die direkte normale bestraling (DNB) toon die hoeveelheid sonstraling per eenheid oppervlakte aan. Die provinsie met die hoogste DNB is die Noord-Kaap wat meer as 9kWh/m²daagliks bereik. Die potensiaal van sonkrag in ons land is niks nuut nie en talle produsente het al omgeskakel na sonkragstelsels.

By dié wat nog nie oorgeskakel het nie, is daar vrae: Hoe begin ’n produsent die proses om na sonkrag om te skakel? Is dit die moeite werd om die stelsels te installeer en wat kos dit?

Leer meer oor sonkraggedrewe plase in die Karoo.

Doen dit reg

Daar is verskeie sonkraginstalleerders en finansiële instansies wat finansiering hiervoor verskaf. Om die regte stelsel te kies, is dit baie belangrik om die regte installeerders sowel as finansierders te gebruik. Daar is bepaalde stappe wat die produsent kan volg.

Om die regte stelsel te kies, is dit baie belangrik om die regte installeerders sowel as finansierders te gebruik.

Verminder die huidige kragverbruik

Vir suksesvolle sonkraginstallasie, is dit ‘n goeie begin om jou huidige kragverbruik te verminder. Dit kan gedoen word deur die gebruik van energiedoeltreffende toestelle, LED-gloeilampe (veral in groot skure), gasstowe in die huis, ensovoorts. Kyk na jou huidige verbruik en hoe jy dit kan verminder om soveel as moontlik koste te bespaar.

Meet jou kragverbruik

Wie nie meet nie, weet nie. Om die regte sonkragstelsel te kies, moet die produsent weet wat sy kragverbruik behels. Dit word gewoonlik gedoen deur ’n meter te installeer wat kragverbruik vir ’n tydperk meet voordat daar op ’n stelsel besluit word. Dit is belangrik om te onthou dat jou boerdery ’n besigheid is en dat ’n té groot stelsel nie die antwoord is nie. Om kostedoeltreffend te wees moet jy die regte grootte stelsel installeer.

Identifiseer ’n geregistreerde installeerder

Indien jy van bankfinansiering gebruik gaan maak, is dit uiters belangrik om ’n installeerder te gebruik wat volledig gekeur, geakkrediteer en deur die Suid-Afrikaanse fotovoltaïese bedryfsvereniging (SAPVIA) (PV GreenCard) erken word. Alle PV GreenCard-geregistreerde maatskappye voldoen aan ’n reeks vaardigheidsassesseringsprosesse en onderneem om te voldoen aan veiligheidstandaarde sowel as tegniese vereistes. Dit bied aan banke die gemoedsrus dat die werk reg gedoen gaan word.

Kies jou tipe stelsel

‘n Baie belangrike besluit is of jy heeltemal van die kragnetwerk wil afgaan, of wil jy sonkrag net gebruik as ’n aanvulling tot die bestaande kragnetwerk. Jy kan besluit of jy krag in batterye wil stoor sodat jy deur die nag ook krag het, of jy kan sonkrag installeer as rugsteun tydens beurtkrag deur die dag.

Kwotasies

Sodra die produsent weet hoeveel krag verbruik word en watter stelsel nodig is, moet kwotasies van minstens drie PV GreenCard-geregistreerde installeerders verkry word. Goedkoop is duurkoop. Kry kwotasies van installeerders wat al lank in die bedryf is en wat aan standaarde soos die PV GreenCard voldoen.

Finansiering

Nadat kwotasies verkry en ingedien is vir ‘n finansieringsaansoek, gebruik die bank hul eie spesialiste om jou kwotasie te ondersoek en seker te maak die pryse is markverwant en dat die installeerder nie die produsent indoen nie. Hierdie spesialiste maak seker dat die installeerder aan die PV GreenCard-vereistes voldoen.

Die ideaal is dat die paaiement wat betaalbaar is die huidige elektrisiteitskoste sal vervang, maar dit is gewoonlik net die geval waar totaal oorgeskakel word na sonkrag of ‘n ander alternatiewe bron. Die ideaal vir die bank is om ’n kontantvloei-neutrale punt te bereik. Soms is die eerste jaar nie neutraal nie, maar met die konstante verhogings in kragtariewe word hierdie punt binne sowat twee jaar bereik.

Koste van oprigting

Die kostes verbonde aan die oprigting van sonkrag bestaan uit verskeie aspekte, enersyds omdat elke sonkragstelsel na elke produsent se behoeftes opgestel word, en andersyds omrede daar verskeie handelsname en tipes sowel as installeerders is, elk met sy eie pryse. Tabel 1 verskaf ’n voorstelling wat sonkragstelsels vir plase kan kos.

Tabel 1: Verskillende opsies ten opsigte van installasie en beoogde gebruik.

Beoogde gebruikKragstelselgrootte (kVa)StelseltoestelleMoontlike prys
Plaashuis (gesin van vier)20–303x8kVa wisselrigters (inverters)28kWh batterye13,32kWp sonpaneleInstallasieR400 000 tot R500 000
Plaashuis, skuur, silo’s, werkers40–503x15kVa wisselrigters96kWh batterye39,96kWp sonpaneleInstallasieR1 tot R1,2 miljoen
Plaashuis, skuur, silo’s, besproeiing (veeprodusent)80–1006x15kVa wisselrigters140kWh batterye60kWp sonpaneleInstallasieR2 tot R2,2 miljoen

Die gemiddelde produsent se kragbenodighede wissel tussen 20 en 50kVa (sien Tabel 1). Die stelsels is grotendeels vir die plaaswoning, skure, werkers se huise, en silo’s. Indien ’n produsent sy huis wil omskakel na sonkragstelsel (20-30kVa) gaan dit hom tussen R400 000 en R500 000 kos. Sou hy sy hele opset soos sy skure, werkers se huise, silo’s, en selfs kleinskaalse besproeiing wil omskakel na sonkrag kan dit rondom R2 tot R2,2 miljoen kos. Hierdie kostes neem nie grootskaalse besproeiingsboerderye in ag nie.

Veeprodusente wat lande deur die dag met behulp van sonkrag wil besproei, kan dit makliker doen as groot besproeiingsboere. Meerjarige weidings wat meestal as voer vir vee aangeplant word, se waterbehoefte is gewoonlik minder as dié van kontantgewasse. So ’n stelsel benodig ook gewoonlik min batterye want die doel is nie om grootmaatkrag te stoor nie, maar om die panele by te staan as dit deur die dag bewolk is.

Vir besproeiingsboere, veral dié wat op groot skaal plant, is dit ’n duurder oefening om voldoende sonkrag op te rig en van die netwerk onafhanklik te raak. Aanduidings is dat dit nog nie vir die meeste van hierdie produsente ekonomies sin maak om totaal oor te skakel na alternatiewe energie nie. Waar kontantgewasse geproduseer word en daar deur die nag ook besproei moet word, sal ‘n groot hoeveelheid batterye vereis word. Sonpanele kan wel in die dag help om verbruik te verminder.

Belastingaspekte

Die Nasionale Tesourie het tydens die 2023 begrotingstoespraak ’n uitgebreide belastingaansporing aangekondig vir hernubare energiebates. Volgens die nuwe Artikel 12BA (wat basies ’n uitbreiding van die huidige Artikel 12B is) kan belastingbetalers ’n toelaag van 125% van die laagste van die koste of markwaarde van hierdie bates aftrek in die jaar waarin dit in gebruik geneem word. Hierdie aansporing is slegs beskikbaar op bates wat vanaf 1 Maart 2023 tot 28 Februarie 2025 in gebruik geneem word. Hierdie toelaag is ’n verhoogde aftrekking teenoor die normale toelaag wat ingevolge Artikel 12B beskikbaar is.

Volgens Artikel 12B(1) (h) wat normaalweg vir hierdie soort bates beskikbaar is, maak dit voorsiening vir ’n aftrekking ten opsigte van die ‘koste’ (laagste van koste of markwaarde) van masjinerie, aanleg, implemente, gereedskap of artikels wat gebruik word in die opwekking van elektrisiteit deur hernubare bronne. Die aftrekking is 50% van die koste in die eerste jaar, 30% in die tweede jaar en 20% in die derde jaar. Dit is dus beperk tot 100% van die koste, teenoor die nuwe Artikel 12BA wat ’n aftrekking van 125% bied in die eerste jaar waarin dit in gebruik geneem word. Artikel 12BA plaas nie ’n perk op die opwekkingsvermoë van sonkrag nie, waar dit tot 1MW beperk word in die huidige Artikel 12B.

Bykomend daartoe kan die koste van enige struktuur waarop die hernubare energiebate gemonteer word of enige beton of ander fondament of ondersteunende struktuur aangebring word, die koste van die struktuur of fondament ook laat kwalifiseer vir die toelaag (indien dit die eerste keer is wat die belastingpligtige dit in gebruik geneem het).

Hou in gedagte dat indien hierdie bate voor 1 Maart 2026 verkoop word, die verhoogde aftrekking dan weer as ’n verhaling ingesluit sal word ingevolge Artikel 8(4) (nA). Hierdie Artikel 12BA aftrekking is beskikbaar vir verskeie hernubare energie-opwekkingsprojekte, naamlik windkrag, fotovoltaïese (FV)-sonenergie van meer as 1MW, FV-sonenergie wat nie 1MW oorskry nie, gekonsentreerde sonenergie, hidrokrag om elektrisiteit van nie meer as 30MW te produseer nie, en biomassa-opwekking wat bestaan uit organiese afval, stortingsterreingas of plantmateriaal.

Hierdie bates moet ook besit word deur die belastingpligtige (eienaar) of verkry word deur die belastingpligtige ingevolge ’n paaiementkredietooreenkoms, soos omskryf in die Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde, 1991 (Wet 89 van 1991). Dit moet ook die eerste keer wees wat die bate(s) in gebruik geneem word as deel van die belastingbetaler se handel.

Hierdie toelaag is beskikbaar vir enige belastingpligtige wat handel dryf volgens die definisie daarvan in Artikel 1 van die Inkomstebelastingwet, 1962 (Wet 58 van 1962). Dit sluit enige beroep, handel, besigheid, indiensneming, beroep of onderneming in, insluitend die verhuring van enige eiendom en die gebruik van of die verlening van toestemming om enige patent te gebruik soos omskryf in die Wet op Patente, 1978 (Wet 57 van 1978), of enige ontwerp soos omskryf in die Ontwerpwet, 1993 (Wet 195 van 1993), of enige handelsmerk soos omskryf in die Handelsmerkewet, 1993 (Wet 194 van 1993), of enige outeursreg soos omskryf in die Outeursregwet, 1978 (Wet 98 van 1978), of enige ander eiendom van ’n soortgelyke aard. Dit kan dus afgelei word dat enige persoon wat voldoen aan die bogenoemde, ongeag of dit as ’n entiteit, vennootskap, alleenhandelaar of trust is, vir die toelaag kan kwalifiseer.

Bykomend tot die toelaag van Artikel 12BA, kan ook genoem word dat die Tesourie ’n belastingkrediet ingevolge Artikel 6C vir individue bekendgestel het. Die krediet is 25% van die koste van nuwe en ongebruikte FV-sonpanele wat vir die eerste keer in gebruik geneem is op 1 Maart 2023 tot en met 1 Maart 2024; dit word beperk tot R15 000 per individuele belastingpligtige. Hierdie krediet is vir sonpanele wat hoofsaaklik vir persoonlike gebruik opgerig is en is dus nie op besighede gemik nie.

Ten slotte

Die oprigting van alternatiewe energie is ’n duur proses maar word allerweë nie meer as ’n luukse gesien nie. Die tempo waarteen elektrisiteitspryse styg behoort ook meer momentum te gee in die oorskakeling van besighede en boerderye na alternatiewe elektrisiteit. Waar hierdie kostes wel aangegaan word, moet die produsent verseker dat die rolspelers betroubaar is en dat die belastingvoordele reg gebruik word. – Danie Naudé, Marese Lombard en dr WA Lombard, Universiteit van die Vrystaat

Vir meer inligting, epos dr WA Lombard by Lombardwa@ufs.ac.za of Marese Lombardby LombardM1@ufs.ac.za.