Agri-Expo vereer met toptoekenning vir bedryfsinnovasie

Estimated reading time: 3 minutes

Landbou-organisasie, Agri-Expo, is tydens die 2026 Wes-Kaapse Ekonomie-innovasietoekennings met ’n toptoekenning vir bedryfsinnovasie vereer. Die geleentheid is op 1 Junie deur die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid (CCCI) in die Kaapstadse stadsaal aangebied. Die landbougenootskap was een van 13 ontvangers in ses kategorieë. Ander baanbreker-inisiatiewe wat vereer is, het die Shoprite-groep se Sixty60-afleweringsdiens vir e-handel en die V&A Waterfront se Quay 7-superjaghawe-ontwikkeling ingesluit.

Volgens Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, bevestig dié erkenning die organisasie se verbintenis om mededingendheid deur innovasie, samewerking en volhoubare bedryfsontwikkeling te bevorder. “Dit erken die impak van ons unieke veelvlakkige model wat produsente, die bedryf, die regering en markte byeenbring om groeigeleenthede regdeur die landbouwaardeketting te skep. Ons is veral trots dat hierdie toekenning sowel nuwe inisiatiewe asook die voortdurende vernuwing van gevestigde projekte erken.”

Erkenning vir innovasie en samewerking

Terwyl Agri-Expo in 2026 sy 195ste bestaansjaar vier – ’n besonderse mylpaal vir ’n landbougenootskap wat in 1831 gestig is – maak hierdie erkenning die prestasie des te meer betekenisvol.

“Dit beklemtoon die organisasie se vermoë om sy nalatenskap te eer terwyl dit steeds in pas met die veranderende behoeftes van die landbousektor ontwikkel. Van die bekendstelling van die Hollard Game Changer-toekenning en die Suid-Afrikaanse preserveerkampioenskappe tot die voortdurende ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse suiwelkampioenskappe en ons ondersteuning van landbouskoue – innovasie bly die dryfkrag agter alles wat ons doen,” sê Milford.

Die benoemings is beoordeel aan die hand van streng, resultaatgerigte maatstawwe, waaronder meetbare ekonomiese impak, praktiese innovasie en die aantal plaaslike ondernemings en werknemers wat regstreeks by elke inisiatief baat vind. Die toekennings plaas ook die kollig op sogenaamde “sistemiese innovasie” – die herontwerp van onderling verweefde stelsels, voorsieningskettings en samewerkingsmodelle wat gedeelde waarde vir verskeie belanghebbendes skep.

Agri-Expo se hoofbestuurder, Breyton Milford (links), en president, Chris Fourie (regs), saam met die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, by die 2026 Wes-Kaapse Ekonomie-innovasietoekennings.
Agri-Expo se president, Chris Fourie (links) en hoofbestuurder, Breyton Milford (regs), saam met die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, by die 2026 Wes-Kaapse Ekonomie-innovasietoekennings.

Vooruitsigte en internasionale betrokkenheid

Terwyl Agri-Expo voorberei om die 31ste Statebond-landboukonferensie van die Koninklike Landbougenootskap van die Statebond (RASC) van 1 tot 5 November 2026 in Kaapstad aan te bied – die eerste keer dat die Moederstad dié gesogte geleentheid aanbied – glo Milford dat hierdie toekenning verdere aansporing bied om voort te bou op vennootskappe wat die landbou en landelike ekonomieë versterk, en mense, bedrywe en geleenthede plaaslik, regoor Afrika en wêreldwyd met mekaar verbind.

“Vir ons gaan hierdie toekenning uiteindelik oor mense – die produsente, entrepreneurs, innoveerders, vrywilligers en gemeenskappe wat elke dag help om die landbou vorentoe te neem. Dankie aan Agri Wes-Kaap vir die nominasie en vir die bevordering van samewerking in die landbou. Ons is trots om hierdie prestasie met ons lede, vennote en die breër landbougemeenskap te deel,” voeg hy by. – Persverklaring, Agri-Expo

Related

SA Canegrowers welcomes DBRP adjustment, but says more is needed to close import...

Estimated reading time: 3 minutesSA Canegrowers welcomes the decision by the government to adjust the dollar-based reference price (DBRP) for sugar imports. The upward adjustment is critical...

Omgewingsnakomingspraktyke en wetgewing: Wat produsente moet weet

Estimated reading time: 7 minutesOmgewingsnakoming raak toenemend ’n praktiese werklikheid vir produsente, veral waar landbou, mynbou en hernubare energie-ontwikkelings mekaar op dieselfde grondgebied ontmoet....

RPO-konferensie 2026: Strategieë vir die suksesvolle toekoms van die bedryf

Estimated reading time: 9 minutesDie Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se jaarlikse konferensie, wat op 13 Augustus 2026 by The Capital Hotel in Menlyn Maine, Pretoria,...