Estimated reading time: 4 minutes
Die eerste Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskap, aangebied deur Agri-Expo, het op Woensdag 23 Julie by Eensgezind buite Durbanville plaasgevind. Met ’n totaal van 456 inskrywings van 66 vervaardigers, was daar twee keer meer inskrywings as wat aanvanklik verwag was.
Die kampioenskap fokus op gepreserveerde vrugte- en groenteprodukte in meer as 100 klasse – van konfyt, marmelade, blatjang en piekels tot pesto’s en ander innoverende skeppings. Slegs produkte wat reeds aan die publiek by winkels, padstalle, aanlyn of markte beskikbaar is, is aanvaar.
Die beoordelaarspaneel van 38 kenners het produkte deur middel van ’n blinde proetoets beoordeel. Die paneel het bestaan uit bekende sjefs, gesoute kosskrywers, klein- en groothandelspesialiste, kundiges uit die gasvryheidsbedryf, sjefstudente, afgevaardigdes van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland, en selfs enkele vervaardigers self.
“Hierdie preserveerkampioenskappe is geskep om topgehalte-produkte te erken, bewustheid oor preservering te verhoog, bemarkingsgeleenthede vir entrepreneurs te bied, en die kuns van voedselbewaring te vier,” sê hoofbeoordelaar, Susina Jooste, ’n koskenner en opleidingspesialis. “Dit is ook ’n platform vir kennisdeling, volhoubaarheid, ekonomiese groei, die verhoging van standaarde, en die vermindering van voedselvermorsing.”
Gehalte, vernuwing, en erfenis
Jooste sê vernuwing was een van die beoordelingskriteria en dat dit bemoedigend is om te sien hoe outentiekheid en kreatiwiteit mekaar ontmoet. “Ek is oortuig daarvan dat hierdie kompetisie ’n impak op gehalte in die mark gaan hê en dat verbruikersvertroue in gepreserveerde produkte sal toeneem. Ons sien uit na die reaksie van verbruikers op produkte wat met ons toekennings vir uitsonderlike gehalte op die winkelrakke gaan spog.”
Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo en organiseerder van die kampioenskap, sê die groot belangstelling toon dat daar ’n duidelike behoefte vir hierdie soort platform in die bedryf is. Die kompetisie is spesiaal vir landbouverwerkers in die vrugte- en groentebedryf geskep. “Die groot aantal inskrywings wys dat daar ’n vraag is na bedryfserkenning vir preserveerprodukte – een wat dit sáám met kaas en wyn op die tafel plaas,” sê Milford. “Ons is dankbaar vir ondersteuning uit die bedryf, met Clemengold en Hollard wat as goue vennote betrokke is. Sonder hul ondersteuning sou dié mylpaal nie moontlik gewees het nie.”
Produkte is na afloop van die beoordeling aan welsynsorganisasies geskenk. Die wenners sal op Dinsdag 19 Augustus by die toekenningsgeleentheid by Lanzerac, Stellenbosch aangekondig word. – Agri-Expo persverklaring geredigeer deur Plaas Media
Vir meer inligting, besoek www.sapreservechamps.co.za of stuur ’n e-pos aan charlotte@agriexpo.co.za.


