Estimated reading time: 4 minutes
Die Simbra-beestelersgenootskap van Suidelike Afrika se elite-veiling, wat by die AfriDome in Parys aangebied is, het weereens bewys dat die vraag na topgehalte-genetika nie afneem nie. Nasionale rekordpryse is behaal, met sterk gemiddelde pryse wat deurgaans behaal is. Kobus Bester, rasdirekteur van die genootskap, sê dit was ’n voorreg om die tweede veiling van sy soort aan te bied. Vir hom was een ding duidelik, en dit is dat beide stoet- en kommersiële produsente groot waarde aan gehalte diere heg.
Hy beklemtoon ook dat ’n streng keuringsproses gevolg was om te bepaal watter van die land se top Simbra-genetika by die veiling aangebied is.
Ian Grobbelaar, stoetvee-afslaer by Vleissentraal, beskryf dit as ’n ongelooflike veiling. Volgens hom kan die Simbra-genootskap uiters gelukkig wees met die gehalte van die aanbod en die diere. Hy wys daarop laat die goeie pryse wat behaal is, ’n bevestiging is dat hoë-gehalte genetika altyd vir kopers die prys werd is.
Gerrit Viljoen, eienaar van Silwerrandjie Simbra en raadslid (bemarking) van die Simbra-beestelersgenootskap van Suidelike Afrika, stem saam. Hy sê dit was ’n goeie veiling met ’n lekker atmosfeer, waar die beste diere in die Simbra-bedryf op aanbod was. Hy sien reeds uit na ’n suksesvolle veiling volgende jaar.
Nasionale rekordpryse vir verse
Lot 22, Jamica Sushi (JHA23244B) van James en Janco Prinsloo se Jamica Boerdery by Volksrust in Mpumalanga, het ’n prys van R165 000 vir ’n dragtige vers behaal. Hierdie agt- tot nege-maande dragtige vers, met kapasiteit, goeie diepte, breedte, sterk bene en vroulikheid, is deur Johan Snyman van Welgedacht Simbra by Cullinan gekoop. ’n Totaal van 36 dragtige verse is teen ’n gemiddelde prys van R67 361 per vers verkoop.
Lot 15, Rotswand LZ2498 (LZ2498) van Riaan van Zyl se Rotswand Simbras by Winburg, het ’n nasionale rekordprys van R90 000 vir ’n oop Simbra-vers behaal. Hierdie uitsoekvers is deur Schalk Erasmus en Schalk Erasmus (jnr) van DRS Boerdery in Warden gekoop. Altesaam elf oop verse is teen ’n gemiddelde prys van R32 636 per vers verkoop.
Lot 18, Joshlin W68UPH (JSL2424) van Joshlin Simbra, het ’n nuwe nasionale rekordprys van R140 000 vir ’n vers met ’n kalf behaal. Sy is aan Henk Harmse van Harm Boerdery by Bultfontein verkoop. ’n Totaal van vier verse met kalwers is teen ’n gemiddelde prys van R70 000 verkoop.
Nugget steel die kollig
Lot 6, Duo Nugget (ME22150), het ‘n hoogste prys van R475 000 op die veiling behaal. Die verkoper was Duo Simbra by Dewetsdorp in die Vrystaat. Die bul is deur André van Wyk van Jando Simbra naby Edenburg in die Vrystaat gekoop. Agt van die elf bulle wat aangebied is, is teen ’n gemiddelde prys van R272 500 verkoop.
Produsente en topdiere word vereer
Die genootskap het van die geleentheid gebruik gemaak om sy raads- en telersvergaderings te hou, gevolg deur die tradisionele elite Simbra-kuiergeleentheid waartydens verskeie toekennings aan uitstaande produsente oorhandig is. Wenners van die verskeie toekennings was:
BREEDPLAN volledigheid van prestasie
4-ster sertifikaatwenners
- Kobie Doman en Willie Lubbe (Brasim Simbra, Carletonville, Gauteng).
- Diethelm Metzger (Kamab Simbra, Namibië).
- Werner en Dagmar Wilckens (Ondeka Simbra, Namibië).
- Thys en Pieter Meyer (Zimeyer Boerdery, Lindley, Vrystaat).
4.5-ster sertifikaatwenner
- Arné Grobbelaar (Glen-Aggy Simbras, Amsterdam, Mpumalanga).
Teler met die meeste kalwers in ’n jaar geregistreer
- Jacques Swart (Malemba Boerdery, Louwna, Noordwes).
Vaar met die meeste kalwers onder drie jaar
- Rotswand Cruiser LZ1734 – huidige eienaar, Schalk Erasmus (Blouberg Simbras, Warden, Vrystaat).
Teler met die meeste skrotummetings vir manlike diere onder twee jaar
- Kategorie 1: Jenet van Niekerk (Zarissa Simbra, Ficksburg, Vrystaat).
- Kategorie 2: Kobie Doman en Willie Lubbe (Brasim Simbra, Carletonville, Gauteng).
Teler met die meeste netto voerinname-opnames vir diere onder vier jaar
- Thys en Pieter Meyer (Zimeyer Boerdery, Lindley, Vrystaat).
Die bes-bemarkte veiling tussen 1 Augustus 2025 en 31 Julie 2026 het aan die Sirkel S Groep gegaan. Die veiling is op 21 Julie vanjaar aangebied. Die Sirkel S Groep bestaan uit Divan Dreyer (Klipoog Simbras), Lourens Müller (Gerlou Simbras), Rick Dell (R2K Simbras, Ficksburg), Richard Venema (Venema Simbras, Magaliesburg) en Gerrit Viljoen (Silwerrandjie Simbras, Heilbron).
Die Negatief 10-klubtoekenning het aan Lourens Müller van Gerlou Simbras gegaan. Hannes Tredoux van Duinberg Boerdery het die nuwe-lid toekenning ontvang. Die hoogsgeprysde vroulike dier wat tussen 1 Augustus 2025 en 31 Julie 2026 op ’n veiling verkoop is, was die dragtige vers, REG22529B, van Carl Rautenbach se Reggeraai Simbras, wat by die 2025 Simbra elite-veiling verkoop is. Die hoogsgeprysde bul wat tussen 1 Augustus 2025 en 31 Julie 2026 op ’n veiling verkoop is, was die bul, HB21345B, van Hans en Hardus Breedt se Rumba Boerdery, wat by die 2025 SimXtravaganza verkoop is. – Jandrie Klopper, Plaas Media
Vir meer inligting, kontak Kobus Bester by 083 303 4422 of stuur ’n e-pos na kobus@simbra.org.

