Suid-Afrikaanse Jongwynskou vier 194 jaar van wynuitnemendheid

Estimated reading time: 6 minutes

Die Suid-Afrikaanse Jongwynskou wat jaarliks onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) aangebied word, het vanjaar weer verskeie uitstekende jong deelnemers wat nog in hul babaskoene is, opgelewer. Dit is die grootste Suid-Afrikaanse wynskou en die tweede-oudste skou van sy soort ter wêreld. Dit dien as ’n uitstekende rigtingaanwyser vir wynmakers wat hul nuwe wyn op die proef wil stel.

Vanjaar se jongwyn het, ondanks moeilike toestande, beïndruk met sterk geurkonsentrasie, gebalanseerde sure en suikers, asook uitstekende kleurontwikkeling in rooiwyne.
Van Elsenburg en Universiteit Stellenbosch se studente wat daar was: Henry Viljoen, Tino Januarie, Therlon Hoffman, Liam Witbooi en Jayden Rodriques.

Die deelnemers is op Vrydag, 21 Augustus by die herehuis op Elsenburg beoordeel. Die 17 kampioene van verskillende kultivars en versnitte is tydens ’n formele dinee by die Percheron-saal op Elsenburg aangewys. Twee gesogte trofees was op die spel. Dit is die Generaal Smuts Trofee is vanjaar vir die 75ste keer aan die algehele 2026-wenner met die beste wyn toegeken, en die Pietman Hugo Trofee vir die kelder met die beste vyf inskrywings by vanjaar se skou.

Antony en Hanlie Stiles van Vinochem was ook daar.
Die hoogtepunt van die dinee was die aankondiging van die algehele wenner en kelder met die beste vyf inskrywings.

Erfenis en wyngehalte word gevier

Breyton Milford het vanjaar se Jongwynskou uitgesonder as ’n unieke geleentheid waar die erfenis van die Suid-Afrikaanse Jongwynskou, Agri Expo en Elsenburg gevier is.

Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, sê dit was ’n reuse voorreg vir die organisasie om vanjaar as beskermheer van die Suid-Afrikaanse Jongwynskou by Elsenburg Landboukollege betrokke te wees. “Wat dit nog meer spesiaal gemaak het, is dat ons die erfenis vier van Agri-Expo wat vanjaar 195 jaar oud is, die Jongwynskou wat vanjaar 194 jaar oud is en Elsenburg wat hul 128ste bestaansjaar vanjaar vier.”

Christo Pienaar dien sedert 2017 as voorsitter van die SANWSV.

As voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV), is Christo Pienaar van mening dat die skou ’n goeie toonbeeld is van wat die Suid-Afrikaanse publiek van ’n spesifieke oesjaar kan verwag. Hy sê alhoewel dit nie noodwendig beteken dat al die wyn wat by die geleentheid goed gevaar het op die winkelrakke gaan beland nie, dit wel ’n baie goeie aanduiding of maatstaf is van hoe goed sekere kultivars gedurende ’n spesifieke oesjaar gevaar het.

“Behalwe dat dit ’n tegniese skou is waar die vaardighede van wynmakers beoordeel word, is dit is ook ’n interessante skou vir die wingerdboukundiges. Hulle kan hiervoor ’n blok heeltemal apart hou en besluit oor verskillende hellings, opleistelsels, rigtings, ensovoorts,” verduidelik hy. “Dit is die enigste skou wat vir ’n mens die opsie bied om daardie besluite te neem. Wynmakers by verskillende kelders skuif langs mekaar in om mee te ding. Vir diegene wat goed vaar, dien ‘n toekenning as ’n beloning en bewys dat hul wyn tegnies goed versorg is en dat die spesifieke metodes soos byvoegings of hout wat gebruik is, ’n verskil gemaak het.”

Die hart van die wynbedryf

Bennie Howard is die ondervoorsitter van die SA Nasionale Wynskouvereniging. In die agtergrond is die herehuis op Elsenburg waar al 176 goue medalje-wenners geproe is.

Volgens Bennie Howard het al 176 goue-medalje wenners hul plek verdien. “Die skou is nie net ’n tegniese skou vir die wynmakers nie,” sê hy. “Dit is ook die babas van die wonderlike wyne wat uiteindelik gebotteleer gaan word vir verbruikers en toekomstige geleenthede.”

Wanneer ’n mens die oesjaar van 2026 in oënskou neem, was daar talle uitdagings soos baie wind, hitte en skielike reën wat wynmakers gedurende die parstyd ervaar het. “Dit het bygedra tot ’n moeilike jaar vir ons wingerdboukundiges en wynmakers,” sê Howard. “As ’n mens dit alles in ag neem tesame met die gehalte van die wyne wat ons vanjaar op die skou gehad het, dink ek ons kan uitsien na fantastiese gehalte wyne. Ons wens graag al vanjaar se deelnemers geluk daarmee.”

Jannie en Karin Strydom was ook gaste by vanjaar se geleentheid.

Volgens Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, was dit ’n voorreg om die geleentheid in die Wes-Kaap by te woon en weer herinner te word aan hoe belangrik die wynbedryf vir die provinsie met al sy diverse landbouvertakkings is, en in die geheel vir Suid-Afrika se BBP. Die wynbedryf dra ongeveer R31 miljard tot die Wes-Kaapse ekonomie by.

Strydom het enkele interessante statistieke genoem wat onder andere insluit:

  • Ongeveer 166 000 mense is in diens van die wynbedryf se waardeketting, van produsente tot bottelering, bemarking en, baie belangrik, agritoerisme.
  • Vir elke plaaswerkers wat in diens geneem word op ’n wynplaas, word sewe tot agt werksgeleenthede in die wynwaardeketting geskep.
  • Wyn is ’n groot verdiener van buitelandse valuta met ongeveer 264 miljoen liter wyn wat jaarliks uitgevoer word.

Ná 194 jaar, steeds relevant

Die jaarlikse Jongwynskou gee die wynbedryf en belangstellendes ’n kykie na die gehalte en potensiaal van die nuwe oesjaar, asook vroeë aanduidings van nuwe wyne en wyntendense. Terselfdertyd kry wynmakers en wingerdkundiges erkenning vir hul insette. Boonop bevorder dit ook die gehalte van wyn en goeie gesonde mededinging waar nuwe en opkomende wynmakers ’n geleentheid gebied word om hul vaardighede en wyne te vertoon. – Carin Venter, Plaas Media.

Related

Simbra elite-veiling behaal verskeie rekordpryse

Estimated reading time: 4 minutesDie Simbra-beestelersgenootskap van Suidelike Afrika se elite-veiling, wat by die AfriDome in Parys aangebied is, het weereens bewys dat die...

SA Canegrowers welcomes DBRP adjustment, but says more is needed to close import...

Estimated reading time: 3 minutesSA Canegrowers welcomes the decision by the government to adjust the dollar-based reference price (DBRP) for sugar imports. The upward adjustment is critical...

Omgewingsnakomingspraktyke en wetgewing: Wat produsente moet weet

Estimated reading time: 7 minutesOmgewingsnakoming raak toenemend ’n praktiese werklikheid vir produsente, veral waar landbou, mynbou en hernubare energie-ontwikkelings mekaar op dieselfde grondgebied ontmoet....