Agri-Expo ledeskoukongres: Landbouskoue bly die hartklop van die platteland

Estimated reading time: 4 minutes

Volhoubare landbouskoue speel ’n veeldoelige rol: Hulle bevorder landbou, stimuleer plaaslike ekonomiese ontwikkeling en toerisme, en hou die sosiale weefsel van die platteland lewend.

Dít was die kernboodskap tydens die 2026 Agri-Expo Ledeskoukongres, wat van Donderdag 18 tot Vrydag 19 Junie by Houw Hoek buite Grabouw aangebied is. Vanjaar het 20 skoue uit die Wes-, Noord- en Suid-Kaap daar byeengekom om uitdagings en geleenthede in die bedryf te bespreek, idees uit te ruil en by kundiges te leer.

Die kongres, met die tema “Samewerking rondom uitdagings en geleenthede”, het sowat 60 afgevaardigdes verwelkom en vorm deel van ’n jarelange tradisie van opleiding en ontwikkeling vir verteenwoordigers van landbouskoue.

“In Agri-Expo se 195ste bestaansjaar is dit ’n voorreg om steeds aan skoue die geleentheid te bied om van kenners én van mekaar te leer en met nuwe denke na hul onderskeie skoue terug te keer,” het Chris Fourie, president van Agri-Expo, tydens die kongres gesê.

“Ons is trots op hierdie dinamiese skoue wat elkeen unieke waarde toevoeg, en steeds groei en verander om ’n stuk lewensbloed in hul gemeenskappe te bly. Elke skou het besonderse sterkpunte, en as skoubestuur is ons slegs die kurators daarvan, maar ons moet ook aanhou om hierdie suksesverhale te vertel.”

Minister beklemtoon ekonomiese én sosiale impak

Die geleentheid het ook ’n besoek van dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, gelok. Meyer het die kongresgangers bedank vir die verreikende en verrykende rol wat skouvrywilligers van jonk tot oud speel.

“Die Wes-Kaapse regering is verbind tot landbouskoue, want landbouskoue is die primêre basis van plaaslike ekonomiese ontwikkeling. Maar dit is meer as dit – dit is die hartland van die platteland, die kultuurwarmte wat versprei word en die platform waarop sosiale samehorigheid gebou word. Dit is ook die plek waar ons menswaardigheid terugbring. Wanneer jy in menswaardigheid belê, belê jy in eiewaarde, groei en ontwikkeling – en dít is die waarde van landbouskoue in Suid-Afrika.”

  • Van links is Chris Fourie, president van Agri-Expo, dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, en Lize Marié du Toit, streeksbestuurder van die MPO Wes-Kaap.

Mentor vereer vir bydrae tot Hackney-perderas

Danie Alberts, ontvanger van ’n eerbewys vir sy lewenslange bydrae tot die Hackney-perderas en die Suid-Afrikaanse skoubedryf, saam met sy vrou, Alta Alberts.

’n Eretoekenning is aan Danie Alberts oorhandig vir sy lewenslange bydrae tot die Suid-Afrikaanse skoubedryf. Volgens Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, het Alberts oor baie jare ’n onuitwisbare stempel op skoue afgedruk, veral op die Hackney-perderas.

“As teler en beoordelaar van hierdie gesogte perderas word hy wêreldwyd erken vir die gehalte van sy Hackneys. Hy tree ook as mentor vir talle mense in die skouperdbedryf op, veral binne die gemeenskap van die Kaapse Vlakte.” Milford het beklemtoon dat dit belangrik is om erkenning te gee aan diegene wat die ekstra myl stap.

Vyf ledeskoue is ook vanjaar vir hul prestasies op verskillende terreine vereer:

  • Innovasie: Riversdalskou.
  • Gehalte-aanbieding: Swartlandskou.
  • Nuwe toetreder – Ontwikkeling: Willistonskou.
  • Gemeenskapsbetrokkenheid: Heidelbergskou.
  • Jeugontwikkeling: Loeriesfonteinskou.
Vyf ledeskoue is vanjaar vir hul prestasies vereer. Hier is Chris Fourie (links) en Breyton Milford (regs) van Agri-Expo saam met, van links, De Kock Steenkamp namens Willistonskou, AJ van Wyk, bestuurslid van Riversdalskou, Pieter van Deventer, president van Heidelbergskou, Henk Kearney, bestuurslid van Loeriesfonteinskou, en Louis Doman, terreinbestuurder van Swartlandskou.

Kundiges deel insigte oor uitdagings en geleenthede

Volgens Milford het vanjaar se program gefokus op hoe skoue uitdagings kan oorkom, geleenthede kan aangryp en sodoende hul volhoubaarheid kan versterk. “Kongresgangers kon vanjaar meer leer van verskeie kundiges in die landbousektor, verskillende bemarkingstrategieë bespreek en ook idees uitruil.”

Chris Fourie, Agri-Expo-president en besturende direkteur van Dairy Management Consulting (DMC), het die jongste verwikkelinge rondom bek-en-klouseer bespreek. Andries Wiese, hoof van landbou by Hollard, het as borg van die kongres oor risikobestuur gesels, spesifiek vir skoue, met ’n fokus op onstuimige weerstoestande en die verantwoordelikheid van skoue om bates en mense te beskerm. Jan Olivier, skaap- en wolbeampte van BKB en ook ’n borg van die geleentheid, het skoue se belangrike rol as vennoot van die privaatsektor beklemtoon.

Suzaan Smit, president van Swellendamskou, het lesse oor risikobeperking gedeel, insluitend hoe hulle danksy konsekwente risikobeplanning ’n groot terugslag in 2025 kon oorleef toe die skou uitgereën het. Heidelbergskou se visepresident, Esja Oosthuizen, het oor gemeenskapsbetrokkenheid gesels en vertel hoe die skoubestuur hul skou binne sewe maande in ’n ware gemeenskapskou omskep het.

Lize Marié du Toit, streeksbestuurder van die die Melkprodusente-organisasie (MPO) Wes-Kaap, ook bekend as Lize met ’n Z, het die geleenthede en uitdagings van sosiale media vir landbouskoue bespreek, terwyl die landboukommunikasiekonsultant Isabeau Joubert Botha praktiese raad gedeel het oor hoe genootskappe skoue op meer én minder tradisionele maniere kan bemark.

Vir meer inligting oor Agri-Expo se ledeskoue, besoek www.agriexpo.co.za. Vir medianavrae, kontak Isabeau Joubert Botha by 072 247 5868 of isabeau@isabeaumedia.co.za– Agri-Expo-mediaverklaring (verwerk)

Related

Agri Noord-Kaap-kongres: Die toekoms van landbou in die Noord-Kaap

Estimated reading time: 4 minutesDie lewe verander vinnig en die landbou bly nie agter nie. Daar is gedurige nuwe tegnologie wat landbou vergemaklik en...

Calls for South Africans to stand ‘stronger together’ against rabies

Estimated reading time: 3 minutesSouth Africa joins the global community on 28 September to commemorate World Rabies Day under the theme, “Stronger together”. The...

Mohair in demand, despite lower prices

Estimated reading time: 2 minutesProducers should not panic about the first winter auction’s lower prices for adult mohair, caused by a slight oversupply of...