Estimated reading time: 7 minutes
Die vyfde Karoo Winterwolfees het vanjaar weer bewys waarom dit een van die belangrikste byeenkomste op die Karoo-landboukalender geword het. Wolprodusente, bedryfsleiers, navorsers, entrepreneurs, ontwerpers, kunstenaars en gemeenskapslede het van regoor die land na Middelburg gestroom vir ’n naweek waarin wol, innovasie, opvoeding en Karoo-kultuur gevier is. Volgens die organiseerders was vanjaar se bywoning merkbaar hoër as in vorige jare, met meer deelnemers en groter plaaslike betrokkenheid.
“Daar was beslis meer mense as verlede jaar en die jaar voor dit,” het Sarah van Lingen, een van die organiseerders, gesê. “Hierdie groei is beslis ’n weerspieëling van die toenemende belangstelling in wol en die breër wolwaardeketting.” Volgens Marlize Moolman, mede-organiseerder van die Wolfees, is die geleentheid van meet af geskep met die oog op die toekoms. “Ons het hierdie wolfees begin om iets na te laat vir toekomstige geslagte,” het sy gesê.
’n Feestelike afskop
Die fees het amptelik afgeskop met OVK se gala-aand by die historiese Rusoord-wolskuur, waar die fokus op die mense agter die wolskerms geval het.“Ons vier die bedryf en die wonderlike vesel waarvoor ons almal lief is,” het Jacques le Roux, OVK se hoofbestuurder van vesel, gesê.
Tydens die gala-aand is uitnemendheid gevier by wyse van toekennnigs in die Wolinnovasiekompetisie, Beste Enkelbaal Wolkompetisie en die Santam OVK Skolewolkunskompetisie. Talitha Potgieter het die Wolinnovasiekompetisie gewen met ’n handgemaakte Merino-wolkledingstuk, terwyl die DL Conroy Testamentary Trust as wenner van die Beste Enkelbaal Wolkompetisie aangewys is.
Freddie van Zyl, vise-voorsitter van die Oudit- en Risikokomitee en voorsitter van die Sosiale en Etiekkomitee by OVK, het ook ’n meer positiewe prentjie van die bedryf geskets. “Wolpryse is aansienlik hoër as ’n jaar gelede, wat welkome verligting bring ná ’n lang tydperk van druk op produsente,” het hy gesê.
Wol se storie op nuwe maniere vertel
Een van die grootste trekpleisters van die fees was Wool World: Karoo Kraal. Dit is die tweede keer dat hierdie unieke tentoonstelling van wolontwerpe deur Hoven en Viviers saamgestel is. Die uitstalling het gewys hoe wol, bokhaar en ander natuurlike vesels veel verder as hul tradisionele gebruike aangewend kan word. Hoven se Nisha van der Hoven het verduidelik dat die konsep vanjaar rondom die idee van die kraal as plek van samekoms en gemeenskap ontwikkel is.
Die uitstalling het vier wolbedekte joerte (nomadiese tente) wat verskillende leefwêrelde en argetipes verteenwoordig, ingesluit. Binne die ruimtes is natuurlike vesels op kreatiewe maniere in kuns, binnenshuise ontwerp en argitektuur gebruik om nuwe moontlikhede met wol te demonstreer.
Monica Ebert, bemarkingskonsultant by Cape Wools SA, het gesê die organisasie ondersteun die fees sedert sy ontstaan en sien groot waarde daarin om verbruikers aan nuwe toepassings van wol bloot te stel. “Dit gaan daaroor om die natuurlike vesel-heelal bymekaar te bring,” het sy gesê. “Dit is belangrik dat ons as bedryf dink oor waar wol op ander maniere ’n doel kan dien – nie noodwendig net in jou klere nie, maar dalk in jou huis.”
Volgens die feesorganiseerders was Karoo Kraal een van die gewildste elemente van die fees en het dit opnuut belangstelling in wol as ‘n ontwerp- en leefstylproduk geskep.
Gesprekke plaas landbou in die kollig
Die Boerepraatjies-program het weer sterk belangstelling gelok, met gesprekke wat gewissel het van vertroue en media tot tegnologie en die toekoms van landbou. Johann Kotzé, hoof-uitvoerende beampte van AgriSA, het gesê georganiseerde landbou se opregtheid kom uiteindelik van produsente self. “Die gesig van landbou is elke boer wat hier sit,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat vertroue voortdurend verdien moet word. “Vertroue is iets wat jy verdien. Dis nie iets wat jy kry omdat jy ’n titel het nie.” Ivor Price van Food For Mzansi het daarop gewys dat die landboubedryf veel groter is as slegs kommersiële boerdery en dat miljoene mense op verskillende vlakke tot voedselsekerheid bydra.
Tegnologie en kunsmatige intelligensie was nog ’n belangrike tema. Dr Glen Taylor van die Universiteit van die Vrystaat het gesê KI behoort as hulpmiddel eerder as plaasvervanger vir mense gesien te word. “KI gaan nie net oor outomatisering nie. Dit gaan daaroor om menslike intelligensie aan te vul,” het hy gesê. Hy het voorspel dat landbou binne die volgende vyf jaar meer ingrypende veranderinge gaan ervaar teenoor die vorige vyf dekades.
Frikkie Fouché van AgriSETA het egter gewaarsku dat tegnologie net waardevol is indien dit werklike probleme aanspreek. “Tegnologie alleen is nie ’n oplossing nie; dit moet ’n werklike probleem oplos.” Deon Saayman van Cape Wools SA het weer beklemtoon hoe digitale naspeurbaarheid en RFID-tegnologie die Suid-Afrikaanse wolbedryf help om internasionaal mededingend te bly. “Ons moet ons storie vertel en mense wys wat ons doen,” het hy gesê.
Meer as net wol
’n Verdere hoogtepunt was dr Johan van Rooyen se aanbieding oor die rol van kommunale en komende boere in die toekoms van die vee- en wolbedryf. Volgens hom kan biosekuriteit nie van die ontwikkeling van hierdie sektor losgemaak word nie. “Van al die vee in Suid-Afrika word 50% nie op kommersiële plase aangehou nie,” het hy gesê. Hy het aangevoer dat ondersteuning aan kommunale boere nie as liefdadigheid beskou moet word nie. “Ons sien hierdie boere as ons kliënte. Met tyd moet hul plase ontwikkel tot ten volle gekommersialiseerde plase.”
Die Women of the Karoo-paneel was een van die gewildste gespreksessies tydens die fees. Die gesprekke oor entrepreneurskap, aanpasbaarheid en positiewe stories uit landelike gemeenskappe het groot aanklank gevind. Julie Hobson het vertel hoe sy haar korporatiewe loopbaan agtergelaat het om ’n nuwe lewe in die Karoo te begin.“Wat sou ek doen as ek net 99 dae oor het om te leef?” het sy haarself destyds afgevra.
Karin McEwan was ook deel van die paneel en het gesê haar pad in besigheid was een van konstante aanpasbaarheid. Alicia van Schalkwyk het dit mooi opgesom: “Die plaas het my geleer om die beste te doen met wat jy het.”
Fokus op die jeug
Jeugblootstelling aan landbou en die wolbedryf het weer ’n belangrike rol by die fees gespeel. Corné Nel, BKB se streeksbestuurder vir vesel in die Wes-Kaap, het gesê die fees se jeugaktiwiteite bied aan kinders die geleentheid om skape, wol en boerdery eerstehands te ervaar. “Ek wil hê dat wanneer hulle hier weggaan, hulle ten minste moet weet waar wol vandaan kom,” het hy gesê. Hy het beklemtoon dat baie van die kinders nie van plase af kom nie en dat die aktiwiteite daarop gemik is om ‘n begrip vir dierewelsyn, die verantwoordelike hantering van vee en die wolproduksieproses te ontwikkel.
Nog ’n hoogtepunt was die bekendstelling van die Luca The Lamb/Sakkie die Skapie-projek, wat saam met Penguin Random House ontwikkel is. Die kinderboek vertel ‘n storie wat die wolwaardeketting op ’n toeganklike manier aan jong lesers verduidelik. Kinders kon tydens die fees ook met skape en ander aspekte wat in die verhaal uitgebeeld word, kennis maak.
Meer as net ’n fees
Buite die formele program kon besoekers hulle verlustig aan honderde stalletjies wat plaaslike produkte, wolitems, handwerk, kos, toerisme-ervarings en landboudienste ten toon gestel het. Die fees het terselfdertyd gedien as ’n bymekaarkomplek vir produsente, besighede, kunstenaars en gemeenskappe. Die organiseerders is dit eens dat die Karoo Winterwolfees meer as net ’n jaarlikse geleentheid is – dit gaan oor die bevordering van wol oor die langtermyn.
Die fees is ondersteun deur rolspelers soos Cape Wools SA, BKB, OVK, die Nasionale Wolkwekersvereniging, Standard Bank, Plaas Media en ander vennote wat almal saam daarna streef om groter waardering vir natuurlike vesels te skep en nuwe markgeleenthede vir Suid-Afrikaanse wol te ontsluit. Die boodskap is eenvoudig: Die toekoms van die wolbedryf rus nie net op die gehalte van die vesel nie, maar ook op innovasie, tegnologie, ontwerp, opvoeding en mense wat die bedryf passievol vorentoe neem. – Nikilene Steenkamp, Plaas Media









