Estimated reading time: 4 minutes
In Suid-Afrika word die skroewe vir abattoirs al hoe stywer gedraai en raak dit al hoe moeiliker om hierdie diens aan die rooivleisbedryf te lewer. Bedryfskoste soos arbeid, brandstof en elektrisiteit, om maar ’n paar te noem, styg voortdurend, terwyl vleispryse grootliks onveranderd bly. Abattoirs moet elke maand meer slag om hul deure oop te hou, terwyl winsmarges al hoe kleiner word.
Dit is maklik om die vinger na abattoirs te wys wanneer slagpryse as te laag beskou word, maar min mense besef hoeveel uitdagings daar is om ’n abattoir finansieel aan die gang te hou.
Uitdagings vir abattoirs is legio
Barend Maritz, bestuurder van KLK Abattoir op Upington, sê die vyfdekwart was voorheen gewoonlik die winsfaktor vir die abattoir, maar selfs dit lewer nie meer genoeg inkomste nie.
“Die prys van velle was gewoonlik ’n beduidende faktor, maar die afgelope vier of vyf jaar is dit so laag dat dit byna nie meer die moeite werd is om in berekening te bring nie. Afval is ook seisoensgebonde. In die somermaande is die vraag na afval baie laer as in die winter, en pryse kom dan ook onder druk,” sê hy.
Hy is ook bekommerd oor die krimpende hoeveelheid kleinvee uit Suid-Afrikaanse geledere wat vir abattoirs beskikbaar is. Volgens hom neem die aantal kleinvee waarmee geboer word af, omdat meer produsente na grootvee oorskakel. Hy skryf dit toe aan grootskaalse veediefstal, aangesien skape makliker is om te steel as beeste.
Abattoirs moet na buurlande uitreik
Philip Naudé, bestuurder van KLK Landbou, sê hulle redding is om lammers van naburige lande aan te koop om die abattoir se deure oop te hou. Hy verduidelik dat slegs lammers wat uit hul eie voerkraal kom of uit Namibië ingevoer word en in die voerkraal afgerond word, tans vir die uitvoermark geskik is.
Die rede is dat Namibië bek-en-klouseer vry is, terwyl lammers in voerkrale sowat ’n maand vóór slag, deur ’n veearts ondersoek kan word, soos deur uitvoerpermitte vereis word. Die beperkte beskikbaarheid van veeartse, asook die koste daaraan verbonde oor ’n wye gebied, maak dit byna onmoontlik om plaaslike produsente betyds te diens voordat hulle wil slag.
Die meeste boere bemark van die veld af, en daar is nie altyd genoeg tyd om die diere eers te laat ondersoek en dan vir ’n maand in kwarantyn te hou voordat hulle na die abattoir gaan nie.
Is Namibiese lammers goedkoper?
Naudé sê daar was al klagtes uit plaaslike geledere dat Namibiese produsente se lammers goedkoper is as Suid-Afrikaanse lammers, maar meen daar moet na die geheelprentjie gekyk word.
“As alle koste ingereken word, is die prys vir almal eintlik dieselfde. By ons Upington Abattoir speel die getalle uit Namibië ’n baie groot rol om ons deure oop te hou. Onlangs was die plaaslike aanbod nie eens 600 lammers vir die week nie, terwyl die abattoir 6 750 eenhede per week kan slag. Plaaslike markte verkeer onder enorme druk, en sonder uitvoermarkte sal produsentepryse baie laer wees as die huidige vlak,” verduidelik Naudé.
Gert Human van Boomplaats Koras Abattoir buite Upington beaam dat hulle lammers van Namibiese produsente aankoop, maar sê hul prys is vir almal dieselfde.
Abattoirs moet planne maak
Naudé verduidelik ook dat abattoirs in sekere seisoene moeilik oorleef. Van Junie tot Augustus bevind produsente hulle tussen lamseisoene; dan kry die abattoir minder as 50% van sy kapasiteit om te slag. In Junie vanjaar het KLK byvoorbeeld 3 200 lammers per week geslag, waarvan slegs 500 van Suid-Afrikaanse produsente afkomstig was.
“Ons is afhanklik van ons buurlande om die abattoir oop te hou. As ons nie allerlei planne maak nie, sal ons nie meer hierdie diens aan plaaslike produsente kan lewer nie, en sal dit ’n groot deel van hul wins wegneem as hulle skape na groter abattoirs gestuur moet word.”
Dit kan gebeur dat plaaslike abattoirs wel ’n bietjie minder vir ingevoerde diere betaal, gegewe dat die gehalte van Namibiese lammers effens swakker is weens die droogte daar. Volgens nog ‘n bron veroorsaak die lang reis uit Namibië ook dat die diere gewig verloor en langer in ’n voerkraal gehou word moet om hulle slaggereed te kry, wat die abattoir meer kos.
Vir meer inligting, skakel Philip Naudé by 079 391 5382. – Koos du Pisanie, Plaas Media


