Estimated reading time: 3 minutes
Landbou-organisasie, Agri-Expo, is tydens die 2026 Wes-Kaapse Ekonomie-innovasietoekennings met ’n toptoekenning vir bedryfsinnovasie vereer. Die geleentheid is op 1 Junie deur die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid (CCCI) in die Kaapstadse stadsaal aangebied. Die landbougenootskap was een van 13 ontvangers in ses kategorieë. Ander baanbreker-inisiatiewe wat vereer is, het die Shoprite-groep se Sixty60-afleweringsdiens vir e-handel en die V&A Waterfront se Quay 7-superjaghawe-ontwikkeling ingesluit.
Volgens Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, bevestig dié erkenning die organisasie se verbintenis om mededingendheid deur innovasie, samewerking en volhoubare bedryfsontwikkeling te bevorder. “Dit erken die impak van ons unieke veelvlakkige model wat produsente, die bedryf, die regering en markte byeenbring om groeigeleenthede regdeur die landbouwaardeketting te skep. Ons is veral trots dat hierdie toekenning sowel nuwe inisiatiewe asook die voortdurende vernuwing van gevestigde projekte erken.”
Erkenning vir innovasie en samewerking
Terwyl Agri-Expo in 2026 sy 195ste bestaansjaar vier – ’n besonderse mylpaal vir ’n landbougenootskap wat in 1831 gestig is – maak hierdie erkenning die prestasie des te meer betekenisvol.
“Dit beklemtoon die organisasie se vermoë om sy nalatenskap te eer terwyl dit steeds in pas met die veranderende behoeftes van die landbousektor ontwikkel. Van die bekendstelling van die Hollard Game Changer-toekenning en die Suid-Afrikaanse preserveerkampioenskappe tot die voortdurende ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse suiwelkampioenskappe en ons ondersteuning van landbouskoue – innovasie bly die dryfkrag agter alles wat ons doen,” sê Milford.
Die benoemings is beoordeel aan die hand van streng, resultaatgerigte maatstawwe, waaronder meetbare ekonomiese impak, praktiese innovasie en die aantal plaaslike ondernemings en werknemers wat regstreeks by elke inisiatief baat vind. Die toekennings plaas ook die kollig op sogenaamde “sistemiese innovasie” – die herontwerp van onderling verweefde stelsels, voorsieningskettings en samewerkingsmodelle wat gedeelde waarde vir verskeie belanghebbendes skep.
Vooruitsigte en internasionale betrokkenheid
Terwyl Agri-Expo voorberei om die 31ste Statebond-landboukonferensie van die Koninklike Landbougenootskap van die Statebond (RASC) van 1 tot 5 November 2026 in Kaapstad aan te bied – die eerste keer dat die Moederstad dié gesogte geleentheid aanbied – glo Milford dat hierdie toekenning verdere aansporing bied om voort te bou op vennootskappe wat die landbou en landelike ekonomieë versterk, en mense, bedrywe en geleenthede plaaslik, regoor Afrika en wêreldwyd met mekaar verbind.
“Vir ons gaan hierdie toekenning uiteindelik oor mense – die produsente, entrepreneurs, innoveerders, vrywilligers en gemeenskappe wat elke dag help om die landbou vorentoe te neem. Dankie aan Agri Wes-Kaap vir die nominasie en vir die bevordering van samewerking in die landbou. Ons is trots om hierdie prestasie met ons lede, vennote en die breër landbougemeenskap te deel,” voeg hy by. – Persverklaring, Agri-Expo

