’n Paar jaar gelede het onenigheid onder Suid-Afrikaanse uitvoeragente van groente en ander varsprodukte ontstaan, omdat uitvoerreëls nie dieselfde deur almal geïnterpreteer is nie. Die saak het uiteindelik in die hof beland.
Die saak en die onenigheid was weereens ’n bewys dat almal graag die vryheid wil hê om sake te doen. Sonder voldoende reëls is rolspelers egter soos ’n vis buite die water: in die water is hy vry, maar wanneer die struktuur wegval, verdwyn die vryheid ook.
Op 20 Desember 2023 het die hooggeregshof gelas dat die 2018-reëls met betrekking tot uitvoereienaars geherformuleer moet word.
Uit met die oue, in met die nuwe
Hierdie reëls het eerstens ten doel om die regulering van uitvoeragente in die varsproduktebedryf te versterk. Die tweede doel is om te verseker dat regsverpligtinge teenoor kliënte nagekom word, finansiële praktyke deursigtig is, etiese gedrag gehandhaaf word en doeltreffende interne meganismes vir die hantering van klagtes bestaan.
Die Raad vir Landbouprodukte-agente (APAC), wat die aktiwiteite van alle varsprodukte-, uitvoer- en lewendehawe-agente in Suid-Afrika reguleer, het saam met ander rolspelers die bul by die horings gepak. Die nuwe stel reëls is deur die regering goedgekeur en op 15 Mei 2026 in die Staatskoerant gepubliseer.
Francois Knowles, registrateur van APAC, sê die nuwe stel reëls is so opgestel dat dit makliker verstaanbaar is, terwyl elkeen steeds die vryheid het om sake te doen.
Hy is tevrede met die herroeping van die 2018-reëls, wat kragtens Regskennisgewing BN 62 in Staatskoerant 54677 gepubliseer is. Die nuwe reëls is uitgereik kragtens artikel 10(b) van die Wet op Landbouprodukte-agente, 1992 (Wet 12 van 1992), saamgelees met artikel 22(2) en (3).
Laai ‘n eksemplaar van die nuwe uitvoerreëls hier af.
Registrasie van agente
Waar die ou stel reëls strenger registrasie en hernuwings vereis het, bepaal die nuwe reëls nou dat hernuwing slegs nodig is wanneer veranderinge plaasvind. Andersins sal jaarlikse onderhoudsfooie voldoende wees. Aansoeke sal voortaan ook belastingsertifikate moet insluit.
Om as uitvoeragent te registreer, gaan egter ook nie meer so maklik wees nie. Volgens Knowles sal meer bepalings geld om die bedryf te beskerm en waarde tot die waardeketting te voeg. Waar daar in die verlede hoofsaaklik op basiese geskiktheid gefokus is, sal aansoekers in die toekoms ook bewys moet kan lewer van integriteit, kennis, hulpbronne, onafhanklikheid en die vermoë om belangebotsings te bestuur.
Opkomende uitvoeragente
Knowles sê daar word ook groter voorsiening gemaak vir opkomende uitvoeragente, met die doel om transformasie te ondersteun. Die raad kan sekere vrystellings aan opkomende agente toestaan.
Boonop is ’n formele kategorie vir opkomende agente geskep, wat deur swart eienaarskap gekenmerk word. Hierdie agente kan spesiale vrystellings en ondersteuning ontvang in lyn met die doelwitte van swart ekonomiese bemagtiging.
Algemene pligte
Daar sal ook van alle agente verwag word om bykomende pligte na te kom ten einde die bedryf te bevorder.
Waar daar in die verlede hoofsaaklik op regspligte gefokus is, sê Knowles die nuwe reëls sluit nou ook verpligte bemarkingsooreenkomste met kliënte in. Die reëls versterk verder ook bepalings oor kennis en opleiding. Agente het boonop verdere verpligtinge ten opsigte van advertensies, werwing, vertroulikheid en risikobestuur.
Daarmee saam sal hulle registrasiesertifikate en ander nodige dokumente in hulle sakepersele moet vertoon om deursigtigheid te bevorder.
Finansiële en administratiewe pligte
Met die nuwe stel reëls sal strenger gekyk word na agente se finansiële en administratiewe pligte. Waar daar in die verlede slegs rekeningkundige rekords en oudits vereis is, gaan die nuwe reëls verder as dit.
Knowles verduidelik dat dit verpligtend is om verslag te doen oor kliënte se buitelandse valuta-rekeninge vir inkomste wat in buitelandse valuta ontvang is. Reëls oor die deposito van verkoopsopbrengste word ook verskerp.
Oplos van klagtes
In die verlede was daar van tyd tot tyd klagtes wat nie behoorlik opgelos is nie, omdat beperkte bepalings oor die hantering daarvan bestaan het. Die span wat die nuwe stel reëls opgestel het, het daarom ook voorsiening gemaak vir die vestiging van ’n informele, interne klagteoplossingstelsel.
Klagtes sal in die toekoms skriftelik ingedien moet word. Ontvangs daarvan moet binne tien werksdae erken word, en die probleem moet binne ses weke opgelos wees. Klagtes moet ook gedokumenteer en vir vyf jaar bewaar word. Indien klagtes nie opgelos kan word nie, kan dit na die raad verwys word.
In ‘n neutedop
Knowles sê die 2026-reëls is meer omvattend, meer modern en sterker transformasie-gerig as die 2018-reëls. Dit strek verder as blote nakoming en spreek ook aspekte soos billikheid, transformasie en bedryfsintegriteit aan.
Volgens Knowles stel die reëls opkomende uitvoeragente aan die bedryf bekend, maak die bedryf meer inklusief, verskerp registrasie-, regs- en finansiële vereistes, formaliseer ’n stelsel om klagtes makliker op te los, en plaas die klem op risikobestuur, deursigtigheid en aanspreeklikheid.
Vir meer inligting skakel Francois Knowles van APAC by 083 415 1640. – Koos du Pisanie, Plaas Media