Van toeka tot nou: Slagdag op die plaas

Estimated reading time: 6 minutes

Slagdag was nog altyd ’n belewenis, veral gedurende my grootwordjare. Dit was lank voor die koms van elektrisiteit of die ontydige kragonderbrekings wat ons vandag teister. Ons moes maar staatmaak op paraffienlampe, die ou getroue koolstoof en die donkie – ’n 44-gallon drom wat met hout gevoer en dan aan die brand gesteek word om water warm te maak. Die enigste luukse was die paraffienyskas wat maar baie gelol het as gevolg van roet wat in sy skoorsteen saamgepak het. Dié moes gereeld skoongemaak word om te verseker dat ons kos koud bly.

Buite, onder die groot bloekomboom, was die safe. Dit was ’n stellasie wat amper soos ’n voëltjiehok gelyk het: dubbele ogiesdraad met antrasietstukke tussen die twee lae het die hokkie gevorm, met ’n watersak bo-op die kas wat gereeld effens gekantel moes word sodat die water oor die kante kan loop en die antrasiet natmaak. Sodoende het die safe koel gebly wanneer die wind daaroor waai en kon ouma haar pekelvleis, karringmelk, sult (wat ons ook ken as brawn) en botter daarin stoor.

’n Tipiese slagdag op die plaas

Tydens slagdag is ’n jong os, ’n vark en ’n skaap of twee geslag. Die diere is ’n dag of twee tevore al in ’n kraal of hok geplaas om hulle rustig te hou. Sodoende was dit nie nodig om hulle rond te jaag en te probeer vang nie, en die vleis bly lekker sag. Indien diere voor slag rondhardloop trek hul spiere saam en dit veroorsaak dat die vleis taai word; altans, dit was die mening van die oumense, maar ek is nogal geneig om saam met hulle te stem.

Hierdie diere is dan op die gegewe dag geslag en in die skuur gehang om af te koel en uit te droog. Die vark en os is gewoonlik met die .22-geweertjie, die saloon, tussen die oë geskiet en die skape is op die tradisionele manier kop afgesny en dan geslag. ’n Groot holte is in die grond gegrawe waarin die vark moes lê nadat hy geskiet was.

Die bees se lot met die .22-geweertjie was ’n perd van ’n ander kleur. Aangesien die bees groot en swaar is, moes hy so na as moontlik aan die slagplek aangekeer word sodat hy nie te ver gedra hoef te word nie. Dit op sigself was ’n ingewikkelde besigheid. Die skut, wat gewoonlik oupa was, moes wag totdat die bees sy kop draai voordat hy hom eensklaps in die kop skiet. My pa en oupa het altyd gesê die bees of vark steek doelbewus hulle koppe weg sodat ’n kolskoot bykans onmoontlik was. Die hedendaagse omgewingsbewaarders sal waarskynlik ’n hartaanval kry as hul so ’n slagdag moet aanskou!  

Natuurlik wou die kleinspan op die plaas by elke teregstelling betrokke wees en alles besigtig; dikwels tot die ontsteltenis van veral die ouer mense wat meen die kinders moet onder die werkers se voete uitkom.

Vele hande maak ligte werk

Die velle is netjies oopgesprei en sorgvuldig met growwe sout besprinkel, opgevou en eenkant gepak. Later is dit dan gelooi sodat ons rieme kon sny, en stoeloortreksels en pantoffels kon maak. Die rieme is gebruik vir swepe, skoenrieme en enige vasmaak-benodigheid, aangesien toue in daardie jare nog nie algemeen beskikbaar was nie.

Die slagters van die dag het ’n karmenaadjie ontvang as deel van hulle loon. Die karmenaadjie het bestaan uit binnegoed, vet, beesstert (vandag ‘n luukse), bene en stukke vleis.

Die vark is in die holte met strooi en kookwater bedek om die hare te versag. Die plaasmense moes kookwater en kegelvormige metaalkrappers gebruik om die hare af te skraap en die vel sodoende mooi en skoon te kry. Om die hare van ’n vark af te krap was die moeilikste taak van die dag.

Vele hande maak egter ligte werk, en daar was beslis genoeg hande en werk op die plaas. Ná ’n slagdag is daar seep gekook, vet en kaiings is uitgebraai, die vleis is met ’n handsaag bewerk, en die vleismesse is geslyp. Die res van die hande het vasgehou, aangedra en verpak.

Vleis is gemaal vir droëwors en gesny vir biltong, waarna dit opgehang is om uit te droog. Aangesien koelgeriewe baie beperk was, was die oumense genoodsaak om soveel vleis as moontlik te droog of gaar te maak om dit vir so lank as moontlik te bewaar.

Slagdag was ’n bedrywige dag vir ieder en elk op die plaaswerf. Daar is lekker gesels, gelag en gekuier, ten spyte van die harde werk en die sweet wat elkeen afgetap het. Aan die einde van die dag is almal met braaivleis en pap of brood beloon.

Smaak vir my na samesyn

Gedurende daardie jare is ou ploegskottels of skare gebruik om die kos buite gaar te maak. Nie soos vandag waar vuur in die skaar gemaak word met ’n vleisrooster bo-op nie – aikôna, die vuur was onder die skottel gemaak. Die skaar het op drie pote gestaan, en in die middel van die skaar was ’n lang pen waarmee ’n mens die skottel kon oplig en rondskuif. Varkvet is in die pan tot ’n vloeistof verhit en die vleis is in hierdie vet gebraai. Sodra die vleis gaar is word die pap in bolletjies gerol en in die warm vet gedoop. Ek wonder wat die cholesterol-ghoeroes hiervan sal sê!

Die vure het hoog gebrand en die reuk van braaivleis en doringhout het die lug gevul. Die samesyn, lekker lag en kampvuurstories het slagdag afgerond. Dit is herinneringe wat ‘n mens vandag nog bybly. Met my besoek aan die supermark die afgelope naweek, toe ek so tussen die kosrakke deurloop en die kitskosse bekyk, het ek weer na daardie dae teruggedink.

Toe het dinge anders geklink as vandag se eentonige wysie van: “Voeg net water by en verhit in die mikrogolfoond vir drie minute, dan is dit gereed om te eet”. Ek moet ook bieg dat die verpakkings telkemaal meer aantreklik as die inhoud lyk. Sommige produkte lyk soos uitgedroogde houtskaafsels of rosyne, terwyl die beskrywings daarop beweer dat dit “hoogs vullend en ryk aan vitamiene” is.

Dan dink ek by myself: Ai, as oupa en ouma net hierdie moderne geriewe en veral ys- en vrieskaste in hulle tyd gehad het, hoe lekker sou hulle kos nie dan gewees het nie – hoewel dit alreeds so lekker was! Ouma se kos het altyd smaakvol en begeerlik gelyk – en sonder aantreklike verpakkings en vals bewerings.

Toeka se eet was baie anders as nou s’n. Elke stukkie vleis is met liefde hanteer en voorberei vir ete. Niks van die slaggoed is vermors nie, en daar was ryklik onder mekaar verdeel. Samesyn en omgee was aan die orde van die dag, werknemer en werkgewer inkluis. Geen slim bemarkingsfoefies of winsbejag nie. Wat jy gesien het, is wat jy gekry het. – Pierré Vlok (Erkenning: Willie Havenga)

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na pierre.vlok@bkb.co.za

Die invloed van individuele spasietoekenning op lammers se voer- en waterinname (Deel 1)

Estimated reading time: 8 minutes Die stygende wêreldvraag na voedsel tesame met ’n afname in...

Agbiz Grain Quarterly May 2026

The May 2026 issue of Agbiz Grain Quarterly boasts an impressive lineup of articles,...

Dinamika en ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse lusernhooibedryf: Produsentepryse (Deel 4)

Estimated reading time: 7 minutes Vorige artikels in hierdie reeks het gefokus op aspekte soos...

Mosdene Borans make their mark

Estimated reading time: 7 minutes When the bid closed on R2 million for the Boran...