Bedryfsprekers kuier by Kovsies

Estimated reading time: 3 minutes

Alex Jenkins, tegniese hoof by Allied Nutrition, en prof Reinaldo Cooke, ’n dierkundedosent verbonde aan die Texas A&M Universiteit, het die week met die meesters- en finalejaar- BSc veekunde-studente van die Universiteit van die Vrystaat kom gesels oor werksgeleenthede en produksiedoeltreffendheid.

Jenkins het die oggend afgeskop met ’n praatjie oor Curriculum Vitae’s (CV’s) en werksekuriteit. Hy het gefokus op die uiteenlopende werksgeleenthede wat vir veekundiges in die landboubedryf beskikbaar is – ’n onderwerp waaroor veral finalejaarstudente dikwels nadink.

Hy het verduidelik dat daar ’n groot verskeidenheid poste in ’n voermaatskappy is wat by verskillende persoonlikhede kan pas, mits jy bereid is om onder te begin en hard te werk. Voorbeelde hiervan sluit poste soos produksiebestuurder, verkoopsbestuurder, tegniese adviseur en bestuurder en laboratoriumbestuurder in, om maar ’n paar te noem.

Laat jou CV uitstaan

Verder het Jenkins beklemtoon dat dit belangrik is dat jou CV moet uitstaan. Wanneer daar deur honderde CV’s gewerk word, kry slegs ’n paar werklik aandag – dus moet joune die werkgewer se oog vang. Kleur en ’n interessante uitleg kan help om dit te bereik. Enige spelfoute laat egter dadelik ’n slegte indruk en kan jou kanse belemmer.

Jenkins het benadruk dat die inhoud van jou CV die kernfokus moet wees, en dat dit verkieslik op een bladsy moet pas. Inligting soos ouderdom, geslag, geloof, ID-nommer en bestuurslisensie is oorbodig en hoort nie op ’n CV nie.

Links bo moet jou belangrikste besonderhede duidelik aangedui word, soos jou naam en selfoonnommer. Volgens hom trek ’n kort, eenbladsy-CV die aandag, en maak dit makliker vir die werkgewer om ’n onmiddellike indruk van die kandidaat te vorm. Hy moedig studente aan om “buite die boks” te dink – ’n unieke uitleg wat nie algemeen is nie, kan dadelik die leser se aandag vasvang.

Bespreking van dieregesondheid

Vervolgens is prof Cooke aan die woord gestel. Hy het in 2008 sy Ph.D. in Veekunde aan die Universiteit van Florida in die VSA voltooi en fokus tans op die bevordering van produksiedoeltreffendheid in beesboerdery. Tydens sy gesprek met die studente het hy die temas van dierestres, probiotika en die belangrikheid van dieregesondheid uitgelig. Hy verduidelik dat stres by kalwers deur enige faktor veroorsaak kan word wat hulle uit hul gemaksone ruk –  soos speen, inentings of vervoer. Sulke stres verswak die immuunstelsel en skep geleentheid vir sekondêre infeksies om pos te vat.

Hy het verder verduidelik dat die prestasie van kalwers tussen sewe en agt maande ’n beduidende invloed op langtermynproduksie het. Dit is dus noodsaaklik om gesondheid en groei in hierdie fase optimaal te bestuur.

Cooke het ‘n studie bespreek waarin Bovacillius, ’n probiotika van Envarto, aan speenkalwers gevoer is. Die resultate was positief: Omdat die dermkanaal – die grootste immuunorgaan in die liggaam, wat sowat 70% van die immuunselle produseer – gesonder gebly het, het die kalwers minder siektes ontwikkel en was daar ook minder sterftes. –Timon Dedekind, Universiteit van die Vrystaat

The wild side of nutrition

Estimated reading time: 4 minutes Various game animals roam the vastly different landscapes of South...

Geniet sukses met ’n goeie winterlekprogram

Estimated reading time: 4 minutes Deur ’n goed-deurdinkte winterlekprogram te volg, kan jy die toekomstige...

Dynamics of the South African lucerne hay industry (Part 4): Producer prices

Estimated reading time: 8 minutes The previous articles in this series focussed on aspects relating...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...