Swinburne Boerevereniging: Die hartklop van ’n gemeenskap sedert 1918

Estimated reading time: 4 minutes

Die meeste reisigers op die N3 roete tussen Gauteng en Kwazulu-Natal is bewus van die reuse Montrose vulstasie sowat 12km buite Harrismith aan die KZN-kant van die dorp. Min is egter bewus van die geskiedkundige klein dorpie langs die vulstasie – Swinburne.

Die dorpie het in die laat 1800’s ontstaan as ‘n oorstaanplek by ‘n drif deur die Wilgerivier, op die wapad tussen die kus en die binneland. In 1892 is ‘n brug oor die rivier gebou wat die beweging van verkeer aansienlik vergemaklik het. 

Herstel na oorlog

Ná die Anglo-Boereoorlog, toe boere weer hul plase moes herbou en produksie opnuut aan die gang moes kry, was daar ‘n dringende behoefte aan gestruktureerde ondersteuning — veral ten opsigte van infrastruktuur, veilings, mieliemarkte, lokomotiewe vir vervoer en die beskerming van vee teen diefstal en siekte. Hierdie behoefte het gelei tot die stigting van die Swinburne Boerevereniging in 1918 –  vandag algemeen aanvaar as die oudste ‘plattelandse vereniging’ in die Vrystaat. Sedertdien het die Swinburne Boerevereniging ‘n kern-rol in die lewens van die gemeenskap rondom die dorp gespeel.

Die eerste punt op die agenda van die nuut-gestigte organisasie was die bou van ‘n boeresaal om as hoofkwartier te dien. Dié saal is op 31 Desember 1919 in die vorm van ‘n groot nuwejaarsfees amptelik geopen.

Die nuwe saal wat in 1958 in gebruik geneem is. (Foto: Verskaf deur Biebie de Vos)

Met die bou van die teerpad tussen Johannesburg en Durban in die 1950’s, het dit egter geblyk dat die boeresaal te ná aan die nuwe hoofpad is, en moes verskuif word.

Die nuwe saal is op 15 Februarie 1958 amptelik in gebruik geneem, en het oor die mees moderne geriewe van daardie tyd beskik. Daar is ook destyds besluit om die veilingskrale te skuif en met die nuwe hoofkwartier te integreer. Die veilingskrale is só beplan dat die vee direk van die veiling af na die laaibank van die Swinburne spoorwegstasie aangejaag kon word vir versending na die verskillende bestemmings.

Leierskap

Piet Roets was die voorsitter in 2018, toe die vereniging sy honderd-jarige bestaan gevier het. Volgens hom kan die rol van die vereniging oor die jare met die naaf van ‘n wawiel vergelyk word. Dit het die kern gevorm van die gemeenskap se aktiwiteite op verskillend vlakke. Nie alleen was die vereniging ‘n spreekbuis vir die boeregemeenskap op ‘n amptelike vlak nie, maar die ou saal het ook aanvanklik as skool gedien. Verder was dit die spilpunt van die meeste sosiale geleenthede in die gemeenskap. Die Nuwejaarsfeeste, boeresport en boeredanse wat daar aangebied is, was wyd bekend.

“Die vereniging se lede, insluitende die Swinburne-tak van die Vroue Landbou-Unie wat in 1947 gestig is,” vertel hy, “het dikwels ingespring om tydens rampsituasies soos brande, vloede en droogte ‘n helpende hand te verleen. Verder het die vereniging die ruimte verskaf waarbinne nuwe en jong boere wat plase oorneem, leiding en mentorskap ontvang het. Vir die kinders van die distrik was die vereniging die plek waar waardes soos hulpvaardigheid, eerbaarheid en volharding van geslag tot geslag oorgedra is.”

Volgens Albert Potgieter, die huidige voorsitter, is die huidige fokus van die vereniging, afgesien van betrokkenheid by georganiseerde landbou op provinsiale en nasionale vlak, die koördinering van veiligheidsaksies rondom plaasaanvalle en veediefstal, die opleiding van plaaswerkers, en die oordrag van tegniese kennis in die vorm van boeredae.

Steeds bedrywig

Vandag, meer as ’n eeu ná sy ontstaan, speel die Swinburne Boerevereniging steeds ’n dinamiese rol in die gemeenskap. Hoewel die boere minder in getal is en die wêreld rondom hulle ingrypend verander het, bly enkele kernpunte vas:

  • ’n Vereniging waar sake en gemeenskap hand aan hand loop
  • ’n Forum vir probleemoplossing en strategiese beplanning
  • ’n Ankerpunt vir landelike veiligheid, en
  • ’n Bewaker van die streek se geskiedenis en identiteit.

Vir baie boere is die vereniging steeds die plek waar hulle hul grootste uitdagings bespreek, maar ook waar hulle hoop en moed put wanneer tye moeilik raak. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...

AFMA Matrix April 2026 now available

In the April 2026 edition of AFMA Matrix, the spotlight falls on the newly...