Nuwe veldramklub ontvang eerste ramme

Estimated reading time: 2 minutes

Die nuutgestigte Riemland Merino Veldramklub het voorverlede week sy eerste groep rammetjies ingeneem. Die ramme sal vir die volgende ses maande op Gert Potgieter se plaas op Tweeling onder veldtoetstande getoets word.

Volgens Jaco Saaiman, OVK se areabestuurder vir die veselafdeling in die Noordstreek, en ook die eerste voorsitter van die klub, is daar heelwat Merino-boere in die Riemlandstreek wat ’n behoefte het om hulle kuddes geneties te verbeter. Die doel van die klub is dus om veld-aangepaste ramme vir die eienaars te identifiseer en dié goeie genetika ook in die omgewing te versprei. 

Die Riemland-gebied strek ongeveer van Cornelia in die noorde, verby Villiers, Frankfort, Tweeling, Reitz en Heilbron tot by Bethlehem in die suide en dan verby Warden en suid van Vrede terug tot by Cornelia.

Die eerste inname van rammetjies bestaan uit ongeveer 160 diere van 10 boere. Die diere is op die eerste dag geskeer en geweeg, en sal dan vir ses maande op die veld loop, waarna ’n finale evaluasie gedoen sal word.

Prestasiedata

Die eienskappe wat gemeet word is gemiddelde daaglikse toename (GDT), wolgroei oor 180 dae, kondisietelling en dan die FAMACHA-telling. Aan die einde van die toets word wolmonsters van elke rammetjie na die Woltoetsburo gestuur vir ontleding van die skoonopbrengs, veseldikte, stapellengte en die gerieflikheidsfaktor. Al hierdie data word dan gebruik om ’n ekonomiese indeks vir elke ram uit te werk.

Sodra die prestasiedata verwerk is, sal ’n produksieveiling teen die einde van September volgende jaar aangebied word waarop die gekeurde rammetjies dan aan die bedryf beskikbaar gestel sal word.

Die telers wat aan die toets deelneem is Andrew Jordaan en Seuns, Reinardt Kock van Preiss & Kock, Adrian McNaughton van Charmac Merinos, Fred en Eric Bibbey van Evenbreed Merinos, Wessel Bibbey en Triegaardt du Plessis van Bibbey Merinos, Nicolas Bester van Villeria Merinos, Frans en Bart Kruger van AC Kruger Boerdery Merinos, Willie en Johan Venter van Venter Merinos, Pieter en Gert Potgieter van Boschmer Merinos, en Paul en Nandi Kruger van Radnor & Kington Merinos. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Jaco Saaiman by 071 673 0745.

Related

SA Canegrowers welcomes DBRP adjustment, but says more is needed to close import...

Estimated reading time: 3 minutesSA Canegrowers welcomes the decision by the government to adjust the dollar-based reference price (DBRP) for sugar imports. The upward adjustment is critical...

Omgewingsnakomingspraktyke en wetgewing: Wat produsente moet weet

Estimated reading time: 7 minutesOmgewingsnakoming raak toenemend ’n praktiese werklikheid vir produsente, veral waar landbou, mynbou en hernubare energie-ontwikkelings mekaar op dieselfde grondgebied ontmoet....

RPO-konferensie 2026: Strategieë vir die suksesvolle toekoms van die bedryf

Estimated reading time: 9 minutesDie Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se jaarlikse konferensie, wat op 13 Augustus 2026 by The Capital Hotel in Menlyn Maine, Pretoria,...