Nasionale Brahmanveiling nou aanlyn

Estimated reading time: 3 minutes

Die jaarlikse Nasionale Brahmanveiling is nié gekanselleer nie en sal steeds op 5 September gehou word, maar wel as ‘n aanlynveiling. Die besluit volg nadat die SA Brahman-genootskap die risiko van blootstelling aan moontlike bek-en-klouseer (BEK) opgeweeg en te swaar bevind het. Die veiling sal dus nie meer lewendig by die Afridome in Parys plaasvind nie. Tydens hierdie aanlynveiling sal die onderskeie diere dus op foto’s en video’s te siene wees.

Adv De Waal Nigrini, raadslid van die Brahmantelersgenootskap, sê die altesaam 49 diere, 17 bulle en 32 vroulike diere is die room van die oes wat noukeurig en streng gekeur en geselekteer is. Foto’s en video’s van die diere sowel as hul stambome en beraamde teelwaardes sal sigbaar wees.

Hierdie veiling is weliswaar ‘n nuutjie wat die Nasionale Brahmanveiling betref, maar aanlynveilings word al lank met groot welslae gebruik en hy hoop dat die geleentheid waarde vir die kopers en verkopers sal bied, sê Nigrini.

Brahmantelers ondersteun elke jaar die Parys Allerasskou baie goed, maar vanjaar is die biosekuristeitsrisiko eenvoudig te groot vir die telersgenootskap. (Foto: Deidré Louw)

Brahman-genootskap onttrek van Parys-skou

Die Brahman-genootskap het hom ook aan die Parys Allerasskou, wat die nasionale veiling voorafgaan, onttrek. Brahmantelers het die skou deur die jare goed ondersteun omdat dit ‘n waardevolle vertoonvenster vir die ras is. Die raad het egter besluit die risiko is nét te groot om die diere so te laat saamtrek.

Biosekuriteitstekorte in die land en die feit dat nuwe uitbrekings van BEK voortdurend opspring, was die rede vir hul onttrekking aan die skou. Die jongste uitbreking het glo ‘n paar dae gelede by Koster in Noordwes voorgekom en het onder andere die genootskap se besluit beklink. Aanvanklik was 192 Brahmane ingeskryf om aan die skou deel te neem.

Die skou gaan egter voort en daar is individuele Brahmantelers wat steeds hul diere sal vertoon. Nigrini sê die skouvereniging het hom verseker dat alles moontlik gedoen is om die risiko van die verspreiding van BEK te beperk.

Hy meen wel die huidige BEK-maatreëls behoort aangepas te word by die omstandighede en die siektestamme wat in Suid-Afrika voorkom.

Die veiling sal deur die Meerkat-aanlynveilingshuis van Potchefstroom aangebied word. – Andries Gouws, Plaas Media

‘n Brahmankalf suip aan sy ma tydens ‘n vorige Nasionale Brahmanveiling. (Foto: Deidré Louw)

Dynamics of the South African lucerne hay industry (Part 4): Producer prices

Estimated reading time: 8 minutes The previous articles in this series focussed on aspects relating...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...