Estimated reading time: 3 minutes
Die vernietigende veldbrande rondom Dendron en Pietersburg in Limpopo is geblus, nadat brandbestryders dae lank teen die vlamme geveg het. Dit gaan ook beter met die drie Dendron boere wat brandwonde opgedoen het tydens die brandbestrydingspogings.
Hannes Bekker van die plaas Kraaifontein het Dinsdagoggend gesê die Dendron-brand, wat meer as 5 000 ha se weidings vernietig het en ‘n plaashuis erg beskadig het, is onder beheer. Tensy sterk winde nou sou voorkom, is dit nou veilig.
Beseerde brandbestryders bestendig
Franna du Toit wat vir Hannes Bekker werk en ernstige brandwonde opgedoen het, is nog in die hospitaal waar dit onder die omstandighede goed gaan. John en sy seun, Fielies van Rooyen, sterk tuis aan nadat hul wonde behandel is.
Die brand het Sondag suid van Dendron opgevlam en krisisafmetings aangeneem. Meer as 100 boere en plaaswerkers het die brand beveg met voorbrande en brandbestrydingstoerusting, maar die wind wat dikwels van rigting verander het, het hul werk bemoeilik.
Die drie beseerdes is deur die vlamme vasgekeer. Intussen word ‘n opname van die skade gedoen. Sover bekend het geen vee doodgebrand nie en is gewasse ook nie beskadig nie.
Nóg brande saai verwoesting
’n Palmietfontein-boer, Wikus de Beer, sê al die weiding op sy plase het oor die naweek afgebrand. Die eerste brand het Saterdag om 11:00 posgevat en ‘n hele kamp afgebrand. Toe hy en sy werkers die Sondag uitgery het om die brandskade te besigtig, het hulle gesien dat ‘n vuur aan die ander kant van die plaas ook begin het en dit het sy oorblywende kampe óók afgebrand.
De Beer se 250 beeste het nie brandskade opgedoen nie, omdat die wind die vuur só laat skuif het dat dit wonder bo wonder óm die kraal gebrand het. “Maar ek het nou glad nie vir hulle weiding nie. Ek probeer maar rondbel om ‘n plan te maak, maar daar is niks,” het ‘n verslae De Beer vir AgriOrbit vertel.
In die Bloedrivier-distrik was daar nóg veldbrande wat verwoesting gesaai het – na raming het 5 000ha se weiding daar afgebrand. “Die vure is warm en fel, en brand sommer drie verdiepings hoog,” vertel Pieter Wentzel. Hy sê dis ‘n riem onder die hart dat die distrik se boere so paraat en positief onder die moeilike omstandighede bly. “Die boere slaan tot drie ure snags brande.”
Buiten heinings, het hulle nog nie infrastruktuurskade ogedoen nie, maar daar is wel voertuie wat in die proses skade opgedoen is.
Vele hande
Wentzel sê dit is besonders om te sien hoe mense uit alle oorde en agtergronde saamstaan teen die vlamme. Daar is egter kommer oor waar hulle nou voer vir die diere gaan kry. “As die staat ons kan help, sal dit wonderlik wees,” sê Wentzel, wat ook bekommerd is oor hoe die beesprys produsente gaan raak. “Die prys vir speenkalwers en stoetkoeie het nou net gelig maar nou kan dit dalk weer val as daar ‘n ooraanbod in die mark gaan wees. Maar hoe nou gemaak as mense weidingsprobleme het?”
Wentzel sê dié probleme sal hulle in die nabye toekoms probeer oplos. Vir eers is ‘n positiewe ingesteldheid die belangrikste. Wikus de Beer kan by 083 225 0970 gekontak word of produsente kan die TLU SA se streeksverteenwoordiger, Izelle Scott, kontak by 082 815 1639. – Andries Gouws en Susan Marais, Plaas Media