Wenke om die KVBA-proses te oorleef

Estimated reading time: 4 minutes

  • Sonder behoorlike voorbereiding kan die KVBA-proses angswekkend wees.
  • Die KVBA hanteer arbeidsgeskille wat betrekking het op onbillike ontslag, onbillike arbeidspraktyke en ander geskille in die werksplek.
  • Om hul saak te ondersteun, moet werkgewers alle moontlike relevante dokumentasie bymekaarmaak.
  • Deur tydens konsiliasie ’n skikking te bereik, kan enige verdere verrigtinge vermy word.
  • Werkgewers moet proaktief wees en verseker dat indiensnemingskontrakte, die dissiplinêre kode sowel as prosedures en beleide in plek is.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) in Suid-Afrika speel ’n belangrike rol in die regverdige en doeltreffende oplos van arbeidsgeskille. Sonder behoorlike voorbereiding kan die KVBA-proses egter angswekkend wees.

Die volgende belangrike wenke kan werkgewers help om hul KVBA-sake met selfvertroue te benader.

Kennis oor die proses

Die KVBA hanteer arbeidsgeskille wat betrekking het op onbillike ontslag, onbillike arbeidspraktyke en ander geskille in die werksplek. Hierdie prosesse begin gewoonlik met ‘n konsiliasieproses waar die partye probeer om die geskil op te los deur middel van informele gesprekvoering wat deur ’n kommissaris gefasiliteer word. Indien dit onopgelos bly, lei die saak gewoonlik tot arbitrasie, ’n meer formele proses waartydens die kommissaris die saak op rekord sal aanhoor en ’n bindende besluit sal neem.  

Sommige gevalle mag dalk hanteer word as ’n sogenaamde ‘kon-arb’-proses, wanneer konsiliasie en arbitrasie op dieselfde dag aangehoor word. Indien die geskil nie tydens konsiliasie opgelos word nie, sal dit dadelik daarna gearbitreer word.

Werkgewers moet vertroud wees met hierdie stappe om onnodige verrassings te vermy. ‘n Goeie begrip van die proses bemagtig hulle om hul saak duidelik te stel en fokus te behou.

Wees deeglik voorbereid

Voorbereiding is die sleutel tot sukses by ’n KVBA-verhoor. Om hul saak te ondersteun, moet werkgewers alle moontlike relevante dokumentasie bymekaarmaak, soos werknemerskontrakte, betaalstrokies, waarskuwingsbriewe, asook e-posse en ander korrespondensie.

Bewyse moet georganiseerd en relevant tot die betrokke geskil wees. Dit beteken gewoonlik dat werkgewers moet kan bewys dat regverdige prosedures gevolg is met enige dissiplinêre optrede of afdankings wat op die saak van toepassing is. Die werkgewer se doel moet wees om te wys hoe regverdig en redelik hulle die werknemer onder die betrokke omstandighede behandel het.

Deeglike voorbereiding kan die verteenwoordigers help om kalm te bly en hulself behoorlik uit te druk gedurende die verhoor.

Volg regverdige prosedures

Dit is baie belangrik dat werkgewers gehoor gee aan regverdige arbeidspraktyke voordat ’n geskil die KVBA bereik. Verseker dat dissiplinêre verhore behoorlik uitgevoer word, tesame met duidelike kommunikasie en gedokumenteerde stappe. Dit sal die werkgewer baat om te kan wys dat hy/sy redelik en in goedertrou opgetree het.

Dit is baie belangrik dat werkgewers gehoor gee aan regverdige arbeidspraktyke voordat ’n geskil die KVBA bereik.

Die KVBA sal noukeurig ondersoek of die werkgewer arbeidswetgewing nagekom het soos bepaal deur die riglyne van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet 66 van 1995), soos gewysig.

Kry professionele raad

Professionele leiding verseker dat werkgewers uiteindelik aan alle wetlike vereistes voldoen. Arbeidswetgewing is ingewikkeld en misstappe (wat maklik kan plaasvind) kan jou saak versleg. Konsultasie met en die verkryging van kundige verteenwoordiging vir jou onderneming by die KVBA kan duidelikheid bied oor jou regte en verpligtings.

Bly kalm en professioneel

Aangesien KVBA-verhore baie emosioneel kan wees, is dit belangrik om kalm te bly. Lê jou saak feitelik voor en vermy emosionele uitbarstings of persoonlike aanvalle. Kommissarisse het waardering vir duidelike, bondige argumente deur ooggetuies en voldoende bewyse. Toon respek vir die proses deur tydens die verhoor aktief te luister; dit sal jou ook help om proaktief te reageer op die ander party se bewerings.

Verstaan die moontlike uitkomste

Deur die moontlike uitkomste van ‘n verhoor te verstaan, sal jou voorberei vir dit wat voorlê. Deur tydens konsiliasie ’n skikking te bereik, kan enige verdere verrigtinge vermy word. Die kommissaris kan gedurende arbitrasie ten gunste van heraanstelling, herindiensneming, vergoeding, of geen-aksie beslis, afhangend van die bewyse. Wees realisties oor hierdie moontlikhede sodat jy duidelike doelwitte vir die proses kan stel.

Die KVBA-verhoor en -proses hoef nie oorweldigend te wees nie. As jy die proses verstaan, deeglik voorberei, regverdige prosedures volg, kundige raad kry en professioneel bly, kan jy die proses met selfvertroue navigeer.

Dit is belangrik dat werkgewers geskille in die werksplek so vinnig en doeltreffend as moontlik hanteer en versigtig te werk gaan deur objektief en konsekwent op te tree. Werkgewers moet proaktief wees en verseker dat indiensnemingskontrakte, die dissiplinêre kode sowel as prosedures en beleide in plek is, en dat al die dokumentasie aan die toepaslike arbeidswetgewing voldoen.

– Tiaan Botes, regsadviseur, LWO-werkgewersorganisasie

Die LWO Werkgewersorganisasie staan werkgewers by om aan arbeidswetgewing te voldoen en om dit tot hul voordeel te gebruik om hul onderneming te beskerm. As ’n geregistreerde werkgewersorganisasie by die Departement van Indiensneming en Arbeid, het die LWO die reg om lede by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) te verteenwoordig. Neem kennis dat hierdie artikel nie regsadvies is nie – raadpleeg een van ons regsadviseurs oor enige spesifieke regsprobleem of aangeleentheid. Vir meer inligting, stuur ’n epos aan Tiaan Botes by tiaan@lwo.co.za, info@lwo.co.za, of besoek www.lwo.co.za.

Must read

LandbouRadio: 7 April 2026

Estimated reading time: 1 minute In Dinsdag, 7 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Johan gesels met dr Bobbby van der Westhuizen, hoofbestuurder...

RSG Landbou: 7 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die gemmerbedryf, die Nasionale Wolkwekersvereniging se 100ste bestaansjaar en ons ontvang die nuuste wolmarkverslag. Gemmerbedryf Niks...

RSG Landbou: 6 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die 2026 LRF Veeskool, AFSTA se kongres en ons skop af met ons nuwe...

LandbouRadio: 6 April 2026

In Maandag, 6 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met onkruidkenner, prof Charlie Reinhardt, en hy gesels oor die...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar...