Veebedryf groet oom Charl van Rooyen

Estimated reading time: 5 minutes

Die bekende veekundige oom Charl van Rooyen is Woensdag, 25 Junie 2025 op die ouderdom van 88 jaar in sy slaap in ’n hospitaal op Bethlehem oorlede.

Hy is op 9 Junie 1937 in Lindley gebore en is na matriek Tukkies toe om aanvanklik medies te gaan studeer, maar na sy eerste jaar het hy na landbou oorgeslaan en ’n BSc. Agric-graad onder prof Jan Bonsma in 1960 voltooi.

Diep spore in veebedryf

Sy eerste aanstelling was by die destydse Wolraad in Stellenbosch. Hy ontmoet sy toekomstige vrou, Riana Willers, deur sy suster, Ansie, en hulle trou op 29 Desember 1967.

Kort hierna verhuis hulle na Bethlehem waar hy vir Vleissentraal begin werk. Al drie sy dogters word in hierdie tyd in Bethlehem gebore. In 1976 word hy bevorder tot bestuurder van Vleissentraal se stoetveeafdeling en die gesin trek sak en pak Pretoria toe. Na ’n kort draai as afslaer by Roderick, Martin and Purdham word hy in die 1980’s deur Yskor getaak om ’n landbouafdeling genaamd Ferroland Grondtrust vir hulle op die been te bring.

In die laat 1980’s begin sy formele betrokkenheid by telersgenootskappe. Eers word hy rasdirekteur van die Bonsmara-telergenootskap in Pretoria, vir wie hy later in die mid-1990’s ook ’n tegniese adviseur was. Hy was ook by die Afrikaner-beestelersgenootskap betrokke en word toe tegniese adviseur vir die Tuli-beestelersgenootskap van Suid-Afrika. Dis op hierdie punt dat hulle terugtrek Bethlehem toe. Sy betrokkenheid by die Tuli-beestelersgenootskap het tot in 2023 geduur, toe hy besluit het om Riana voltyds in haar stryd met Alzheimers te ondersteun. Intussen het hy steeds saam met sy dogter Adria die Tuli Joernaal behartig.

Hy was ook vir baie dekades by die Dormer-telersgenootskap en -skaapras betrokke, en het self ’n Dormerstoet genaamd Vanovis Dormers. Hy het ’n groot rol in die genetiese ontwikkeling van die ras gespeel en is tot ere-visepresident van die Dormer-telersgenootskap verklaar. In 2017 was hy by die stigting van die Maluti Dormergroep se veiling op Clocolan betrokke.

Lodie en Chriselle van Reenen van Nova Barletta Dormers by Clocolan beskryf hom so: “Oom Charl was ’n legende in die Dormerbedryf. Hy was mentor vir menige jong Dormerteler. Die kennis, liefde en grondslag wat hy in die Dormerbedryf geplant het, sal altyd onthou en gekoester word. Hy was ’n inspirasie vir almal om nooit op te hou nie!”

Die Tuli-genootskap sê in ’n boodskap van medelye dat sy toegewydheid aan die bevordering en bewaring van die Tuli-beesras ’n blywende indruk op die genootskap gelaat het en op almal wat die voorreg gehad het om saam met hom te werk.

“As ’n mentor, leier en vriend,” lui die boodskap, “het oom Charl nie net sy kennis gedeel nie, maar ook sy liefde vir boerdery, sy respek vir die land, en sy geloof in volhoubare teling. Sy insigte en betrokkenheid het ’n onuitwisbare bydrae gelewer tot die groei en sukses van die Tuli-genootskap. Ons eer sy nalatenskap – nie net in woorde nie, maar in voortgesette toewyding aan die waardes waarvoor hy gestaan het.” 

Oor oom Charl se betrokkenheid by die Bonsmara-genootskap, vertel Louis Steyl van Bonsmara SA dat hy passievol was oor opleiding by tersiêre instansies sowel as skole. Hy het studente bemagtig met inligting oor bestuur binne die kommersiële veebedryf asook die Bonsmara-stelsel. “Hierdie was sy breinkind waarmee ons vandag nog trots voortgaan.”

Hy was ook ’n senior keurder vir die genootskap en sy oog was onverbeterlik. “Sy waarnemingsvermoë in die kraal en sy vermoë om goeie bouvorm en genetika te identifiseer, het van hom ’n waardevolle bydraer tot Bonsmara-telers se vooruitgang gemaak.”

Bo alles is dit egter oom Charl se menseverhoudinge wat uitgestaan het, onthou Louis. “Hy het so goed met telers oor die weg gekom en daar was min mense wat van hom verskil het. Hy was ’n gemoedelike mens en ek was self bevoorreg om by hom te leer. In my eerste ses maande by Bonsmara SA het baie van my take met syne oorvleuel en het ek baie tyd saam met hom op die pad spandeer. Ek het in daardie tyd by hom geleer hoe aanpasbaar ’n mens moet wees en jou aanslag moet verander om goeie samewerking met veeboere te bewerkstellig.”

Toe oom Charl in die 1980’s en 1990’s aan die stuur van sake was, het die genootskap se lede aansienlik toegeneem. “Ek glo dit was danksy die rasbevordering wat daardie tyd onder sy leiding plaasgevind het en wat vandag nog die basis van ons sukses vorm. Hy was in daardie tyd ook by die Bonsmara-vleisprojek betrokke wat ons vleis by restaurante en so meer bevorder het. Dit het wel nie voortgegaan nie, maar was sprekend van sy entoesiasme en toewyding tot die ras.”

Nog ’n aspek waarby hy aktief betrokke was, was onderhandelinge rondom die uitvoer van Bonsmara-embrio’s en -saad na die buiteland. “Hy was onder meer in Amerika waar die eerste uitgevoerde Bonsmara-semen gebruik is. Dit was baanbrekerswerk – en kyk waar is ons vandag!”

Kosbare Van Rooyen-nalatenskap

Hy laat sy vrou Riana van Rooyen (80), drie dogters, Hannelie van Rooyen (55), Corlia Boshoff (53), Adria van Rooyen (50), sy skoonseuns Jandré Boshoff (56), en Andrew Hope, en sy kleinseun, Adré Boshoff (27) en kleindogter Beate Boshoff (23) agter.

Sy kinders vertel: “Jy kon hom oor enige pad in die land vra – oor waar jy kan ry en waar nie. Hy het oor die jare miljoene kilometers afgelê om boere te besoek. Ons het as kinders ’n speletjie met hom gespeel toe daar nog telefoonboeke was. Ons het ’n dorp gekies en hy kon in elke dorp wat ons gekies het iemand noem wat hy geken het. Dan het ons dit in die telefoonboek nagegaan. Ons kon hom nooit met die speletjie wen nie.”

Hy was mal oor sport en het self tennis, rugby, en gholf gespeel en het vir meer as 40 jaar seisoenkaartjies op Loftus Versveld gehad. – Izak Hofmeyr, Plaas Media

Must read

LandbouRadio: 7 April 2026

Estimated reading time: 1 minute In Dinsdag, 7 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Johan gesels met dr Bobbby van der Westhuizen, hoofbestuurder...

RSG Landbou: 7 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die gemmerbedryf, die Nasionale Wolkwekersvereniging se 100ste bestaansjaar en ons ontvang die nuuste wolmarkverslag. Gemmerbedryf Niks...

RSG Landbou: 6 April 2026

In vandag se RSG Landbou vind ons meer uit oor die 2026 LRF Veeskool, AFSTA se kongres en ons skop af met ons nuwe...

LandbouRadio: 6 April 2026

In Maandag, 6 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met onkruidkenner, prof Charlie Reinhardt, en hy gesels oor die...

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met die titel van Landbounavorsingsraad (LNR) Nasionale Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar...