Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes:
- Botswana het onlangs hul invoertariewe op groente vanuit Suid Afrika gelig. Dr Johnny van der Merwe van AMT brei uit oor die impak hiervan op die produsent, die ekonomie die verbruiker.
- Die 157ste Riversdal Skou word vanjaar van 19-23 Februarie aangebied. Die president van die skou, Pieter van Wyk, vertel nou vir ons in ‘n neutedop waarna besoekers kan uitsien.
- Suid-Afrika is uniek onder wynproduserende lande aangesien die presiese datum van die ontstaan van die wynbedryf bekend is. Rico Basson van SA Wine brei nou uit oor hierdie feesvieringe van 366 jaar.
- Natkarkassindroom is ‘n toestand wat skaapkarkasse se kwaliteit negatief kan beïnvloed en uiteindelik groot verliese vir die produsent tot gevolg kan hê. ‘n Reeks kenners en rolspelers brei nou uit oor die oorsake en gevolge hiervan.
- Veeprodusente het behoorlik kopgekrap na ’n onlangse mediaberig wat beweer het dat die publiek bek-en-klouseer (BEK)-entstof by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) kan aankoop. Dr Frikkie Maré van die Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) bespreek nou die feite.
- Alle produsente wat melk aan Wes-Kaapse uitvoermelkverskaffers verskaf, is nou onderworpe aan dieselfde maatreëls as plase wat in die bek-en-klouseer kwarantyngebied val. Jompie Burger brei hieroor uit.
- Lise Roberts gesels met die hoof uitvoerende beampte van Melk SA, Nico Fouché, oor dié organisasie se rol in die suiwelwaardeketting en hul fokuspunte vir 2025.
- Plaas TV het onlangs met Dr Johnny van der Merwe van AMT gesels oor Botswana wat in die proses is om invoertariewe van sekere groente uit Suid-Afrika te lig. Lise Roberts gesels verder oor hierdie onderwerp met prof Waldo Krugell van die NWU, met ‘n spesifieke fokus op die invloed wat die tariewe op ons wisselkoers het.