Monday, February 3, 2025

BEK en inenting: Vergewis jou van die feite

Estimated reading time: 5 minutes

Read this press release in English.

Veeprodusente het behoorlik kopgekrap na ’n onlangse mediaberig wat beweer het dat die publiek bek-en-klouseer (BEK)-entstof by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) kan aankoop. Die Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO Nasionaal) het die saak met die betrokke publikasie opgeneem, waarna die publikasie ’n regstelling gepubliseer het.

Dit het egter groot verwarring by menige produsente veroorsaak en daar is gevra waarom die entstof nie aangekoop kan word nie. Waarom kan produsente nie hul vee, oftewel hul besighede, teen BEK beskerm deur hul vee in te ent nie? Die RPO doen ’n dringende beroep op produsente om hulself altyd van die feite te vergewis wat die beheermaatreëls rondom BEK-inenting betref.

BEK is ’n staatsbeheerde siekte

BEK word as ’n beheerde dieresiekte ingevolge die Wet op Dieregesondheid, 1984 (Wet 35 van 2002) gelys. Ander siektes op die lys van beheerde siektes sluit brusellose, miltsiekte, hondsdolheid, brandsiekte, en bykans 33 ander dieresiektes in. Die lys kan op die Nasionale Dieregesondheidsforum (NAHF) se webtuiste gevind word by https://nahf.co.za/controlled-and-notifiable-diseases/.

’n Beheerde en/of aanmeldbare siekte beteken veeartse, produsente, plaasbestuurders, vee-eienaars, en laboratoriums word wetlik verplig om die siekte, in hierdie geval BEK, by die owerheid te vermeld sodra die vermoede bestaan dat dit op ’n plaas of in ’n gebied teenwoordig is. ’n Siekte-aanmeldingsvorm moet hiervoor gebruik word en kan op die NAHF se webtuiste verkry word.

Sodra dit vermeld is, moet ’n staatsveearts vir BEK toets terwyl die nodige kwarantynpraktyke toegepas word. Die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) moet ook in kennis gestel word van enige verdagte of bevestigde uitbrekings.  

BEK-entstof en -inentings

Die BEK-entstof wat die Nasionale Departement van Landbou (NDA) gebruik, word in die voorgeskrewe dosisse vanaf die Botswana Vaccine Institute (BVI) verkry. Die BVI huisves al sedert 1985 die WOAH se streeksverwysingslaboratorium. Aangesien OBP nie ‘n BEK-entstof vervaardig of versprei nie, kan die instelling nie die entstof verkoop nie. Hoewel produsente entstof vir sekere beheerde siektes (soos brusellose of miltsiekte) by entstofvervaardigers kan aankoop en toedien, is dit noodsaaklik om te verstaan dat dit nie vir BEK geld nie.

In Suid-Afrika word deurlopende (kroniese) inentings slegs in die sogenaamde buffersone (basies die gebied rondom die Nasionale Krugerwildtuin) toegedien. Buite die buffersone geskied inenting slegs op plase wat deur uitbrekings geraak word. As gevolg van die verwoestende uitwerking wat BEK op melkbeeskuddes tydens die 2024-uitbreking in die Oos-Kaap gehad het, het die NDA dié reël aangepas deur te bepaal dat inentings slegs toegedien sal word op plase wat direk geraak word, terwyl naburige plase ook kan aansoek doen vir inentings.  

Alleenlik die NDA is verantwoordelik vir inenting teen BEK. Net die departement kan besluit waar en wanneer diere teen BEK ingeënt sal word en hierdie staatsinstansie dien ook alle BEK-inentings toe. Sodra die entstof vanaf die BVI verkry word, versprei die NDA dit na die onderskeie staatsveeartse in die geaffekteerde gebiede sodat dit toegedien kan word. Diere wat teen BEK ingeënt is, moet ’n ‘F’-brandmerk op die nek kry sodat hulle as ingeënt geïdentifiseer kan word. Staatsveeartse sal oorblywende dosisse hanteer en dit aan die staat kommunikeer, waarna die staat sal besluit waar dit gebruik sal word.

Ken jou gebied se BEK-status

Volgens die NDA se jongste inligting (einde November 2024), is daar steeds 38 ‘oop’ uitbrekings in die Oos-Kaap en 140 in KwaZulu-Natal, met geen gevalle in die res van die land nie. Indien ’n produsent of lewende-hawe agent onseker is oor hul gebied se BEK-status, kan hulle die NAHF se webtuiste besoek en hierdie skakel besoek: https://nahf.co.za/update-report-foot-and-mouth-disease-outbreak-2022-2024/.

BEK is ’n unieke siekte in terme van die bestuur daarvan, omdat besmette en ingeënte diere dieselfde behandel word. Die rede hiervoor is dat dit moeilik is om te bepaal of die diere positief toets vir die teenliggaampies in die aktiewe virus of in die entstof. Besmette of ingeënte diere mag nie verskuif, verkoop of geslag word sonder dat spesifieke maatreëls nagekom word nie. Die prosedures rakende die verskuiwing of slag van diere, of die inbring van nuwe diere, word op grond van tydperk bereken en begin met dag zero wat as die dag van inenting beskou word, mits ’n nuwe aktiewe virus nie gevind word nie. Daarom is die entstof nie vrylik op die mark beskikbaar nie en kan dit nie as ‘n voorsorgmaatreël deur almal toegedien word nie.

Ten slotte

Hoewel dit die staat se plig is om vee in te ent, is biosekuriteit álmal se plig en dit begin op die plaas. ’n BEK-uitbreking op ’n plaas is verwoestend. Jou inkomste kwyn aangesien jy nie jou vee mag verskuif of verkoop nie. Die RPO doen dus weereens ’n beroep op produsente om die reëls te volg wanneer vee gekoop en vervoer word, deur aan te dring op gesondheidsertifikate asook bewyse van daardie uitslae. En indien die staat ’n moratorium plaas op die vervoer van vee, moet nie jou vee in of uit die aangewese sones te vervoer nie.

Al hoe ons die toekomstig verspreiding of impak van BEK kan beperk, is as elke boer sorg dat hy/sy nie besmette vee koop of verkoop nie, en die korrekte biosekuriteits- en kwarantynmaatreëls op die plaas toepas. – Persverklaring, Rooivleisprodusente-organisasie

Vir meer inligting, kontak dr Frikkie Maré by 084 446 6787 of epos frikkie@rpo.co.za of besoek die webtuistes en skakels in hierdie persverklaring.

Korrekte bewyslewering is belangrik

Estimated reading time: 4 minutes Tydens dissiplinêre verhore en arbitrasieverrigtinge is die werkgewer verantwoordelik om...

As die SAPD weier om klagtes te aanvaar en ondersoeke nie vorder nie

Estimated reading time: 5 minutes Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) word deur die Grondwet van die...

The consequences of not reporting livestock theft

Estimated reading time: 5 minutes South Africa is unique in publishing official livestock theft statistics,...

Predation takes on new dimensions

Estimated reading time: 7 minutes Jackals and caracals remain Karoo livestock producers’ greatest concern, with...