Monday, March 10, 2025

Effek van die groot droogte op veegetalle in die Sentraal-Karoo

Estimated reading time: 6 minutes

Die afgelope droogte in die Sentraal-Karoo het in die eerste helfte van 2015 begin en tot Oktober 2021 geduur.

Lees dit in Engels: Effect of prolonged drought on livestock numbers in the Central Karoo.

Wetenskaplikes meet droogte onder andere met behulp van ’n standaard reënvalindeks (standardised precipitation index) wat die verspreiding van historiese reënvaldata vir ’n bepaalde weerstasie in ag neem. In dié geval strek die historiese rekord oor meer as ’n eeu. Die vertikale skaal in Figuur 1 meet die afgelope 12 maande se reënval in terme van historiese standaardafwykings. Syfers tussen plus en minus een standaardafwyking word wêreldwyd as ‘normale toestande’ geïnterpreteer.

Figuur 1: Droogte-indeks vir die Sentraal-Karoo, 2012 tot 2024.

Volgens Figuur 1 was daar in Mei 2015 ’n kort voorspel tot die droogte in die Sentraal-Karoo, waarna omstandighede vir 24 maande na normaal teruggekeer het voor die droogte in alle erns begin het. Die gebied was ernstig droog van Julie 2017 tot Oktober 2021 (39 maande). Die jongste syfers dui op normale toestande en met die afsnylaag van die laaste naweek van Oktober 2024, het die 2024/25-reënseisoen goed begin.

Ons moet dus begin praat van die groot droogte van die laat 2010’s. Die droogste deel van die tydperk was 2019 en 2020. Die neerslag was slegs 53mm vir 2019, terwyl ’n skrale 66mm reën in 2020 aangeteken is. In 1951, die droogste jaar op rekord, is 48mm aangeteken. Oor ’n effense langer tydperk het 1951 tussen twee nat jare geval, wat dit nie naastenby so erg gemaak het as die opeenvolgende syfers van 53 en 66mm waarop die Sentraal-Karoo in 2019 en 2020 moes oorleef nie.

Lees meer oor Biltong dra Merinoboere deur die droogte.

Veebelading tydens die droogte

Die Sentraal-Karoo se veegetalle het tydens die droogte met meer as ’n derde gekrimp. Die syfers verteenwoordig 44 boerderye op 420 000ha. Dis ’n betroubare skatting, want volledige syfers vir 82% van die groep is beskikbaar – ’n dekade se syfers vir nog 14% van die lede en minstens nege jaar se gegewens vir die oorblywende 5% van die groep. Produsente wat uit die groep onttrek het omdat hulle verkoop het, oorlede is of afgetree het, is buite rekening gelaat. Die syfers geld slegs vir mense wat dwarsdeur die droogte aanhou boer het.

Die gebied se veelading was op sy hoogste in 2014, gemiddeld sowat 84% van die departementele norm. Oor die vier-jaar tydperk van 2012 tot 2015, was die veelading marginaal laer, op 82,2%, en die uitwerking van die droogte het eers daarna begin deurkom.

Hierdie groep produsente se veelading is dus normaalweg ongeveer 18% onder die norm, wat dalk hoër kan wees as wat algemeen aanvaar word. Die tipiese een-derde veevermindering het later ingeskop en teen 2022 was daar nog nie tekens van herstel nie. Laasgenoemde berus op voorlopige data wat nog nagegaan moet word.

Figuur 2: Teeldiere en hamels/kapaters in die Sentraal-Karoo. (Karoo Management Panel [KMP]-datastel)

Vleis- en veselproduksie

Voor die droogte het Dorpers die grootste deel van die Sentraal-Karoo-kudde beslaan, ’n totaal van ongeveer 22 000 jong- en teelooie. Teen 2017 het die groep se Dorpergetalle dramaties afgeneem tot ’n syfer van net meer as 10 400 en teen 2021 was daar slegs 5 000 Dorperooie in die gebied van 420 000ha oor. Meatmasters is besig om Dorpers te vervang. Meatmastergetalle in die groep het van 1 400 teel- en jongooie tot bo 5 000 gestyg.

Saam toon Dorpers en Meatmasters ’n matige afname van ongeveer 28% teen 2017, gevolg deur ’n 50% verlies in getalle vanaf 2019. Boerbokgetalle in die gebied is klein, maar stabiel.

Daar was 16 600 wolskape in die groep, hoofsaaklik Merino’s met Dohnes en Afrino’s in enkele kuddes. Benewens teelooie en jong ooie, sluit die getal ook hamels in. Die wolprodusente in die groep het dit reggekry om hul getalle tot 2017 te handhaaf, en daarna was die gemiddelde onttrekking in lyn met die aanbevole een-derde onttrekking. Ten spyte van die hoë mate van veerkragtigheid, was daar ook nog nie tussen wolprodusente enige tekens van herstel nie.

Daar was ook net meer as 7 000 Angoras, meer algemeen na Beaufort-Wes se kant toe waar toestande oor die algemeen beter as in Laingsburg was. Die droogte het omtrent geen invloed op Angoragetalle gehad nie.

Lees meer oor Dorperboer maak dit twee in ’n ry.

Getalle in historiese konteks

Betroubare landbousyfers is deesdae skaars. In 2020 het vir die eerste keer in 13 jaar ’n sensus verskyn, en daar was reeds bedenkinge oor die vorige twee. Indien die 12% van die streek waarvan die syfers in Figuur 2 verskyn tot 100% opgeskaal word, sou die Sentraal-Karoo in 2017 ’n geskatte 339 000 skape en bokke gehad het. Daarvan het die sensus 96% gewys, wat die vertroue in die res van die syfers in ’n groot mate herstel. Dis die goeie nuus.

Tabel 1: Veegetalle vir die Sentraal-Karoo: Sensus vs KMP-data (duisende).

JaarStats SA se sensussyfersStreeksyfers volgens KMP-data
19601 219 
1971860 
1981902
1988795
1993590
2002352
2007555
2012353
2013386
2014432
2015401
2016355
2017327339
2018254
2019223
2020216
2021200
2022186*
*Voorlopig

Die slegte nuus is dat die Sentraal-Karoo ’n groot mate van sy historiese drakrag verloor het. Ons weet nie presies wanneer dit gebeur het nie. Volgens Statistieke SA se amptelike veesyfers was daar tussen 1950 en 1965 meer as ’n miljoen skape in die Sentraal-Karoo, meestal Merino’s. Bokke was in daardie tyd in die minderheid (ongeveer 60 000) en onder hulle was daar net ’n paar Angoras. Die veeverwyderingskema van die laat 1960’s het veegetalle met ’n derde laat daal tot 815 000 skape en 45 000 bokke in 1971. Die nuwe vlak is tot 1988 gehandhaaf.

In 1993 was daar, volgens die sensus, net 590 000 skape en bokke in die streek, maar ons weet dat die 1993-sensus op ’n ongemaklike tyd geneem was en dat dit moontlik tot onderrapportering kon lei. Die 2002-sensus was nie ’n sukses nie, en die syfer van 555 000 stuks kleinvee wat in 2007 aangeteken is, is meer in lyn met die langtermyntendens. Die KMP-groep se syfers dui op ’n bevolking van 350 000 tot 400 000 skape en bokke wat teen 2010 in die Sentraal-Karoo oor was, en wat dan tydens die droogte met die helfte tot ongeveer 200 000 tot 220 000 afgeneem het.

Die meeste kommersiële produsente is moedig oor die moontlikheid van herstel. Dit neem langer as wat ’n mens sou dink, wat eintlik die veld kans gee om eers te herstel voordat veegetalle weer groei. – Beatrice Conradie, Universiteit van Kaapstad

Vir meer inligting en navrae, stuur ’n epos aan beatrice.conradie@uct.ac.za. Hierdie navorsing is befonds deur Red Meat Research and Development South Africa (RMRDSA), ’n sambreelliggaam met die mandaat om navorsing en ontwikkeling onder die vaandel van Rooivleisbedryfsforum (RMIF) te verrig. Vir meer inligting, besoek www.meatindustrytrust.co.za.

Die bestuur van somatiese seltelling in melkbeeste (Deel 1)

Estimated reading time: 5 minutes Hoë somatiese seltelling (SST) in melkkoeie is ’n simptoom van...

On buying a cheaper Chinese vehicle

Estimated reading time: 4 minutes Gert, our farm mechanic, often gets consulted by young staff...

The future calf in mind: Supplementation of beef cows

Estimated reading time: 5 minutes The nutritional requirements of beef cows change as they proceed...

Laat die beeste die praatwerk doen

Estimated reading time: 7 minutes Hulle is aangewys as KwaZulu-Natal se Jongboer van die Jaar...