Monday, February 3, 2025
HomeGeneral agricultureUit die RPO Nasionaal se kantoor: Nuwe jaar, nuwe dinge

Uit die RPO Nasionaal se kantoor: Nuwe jaar, nuwe dinge

Estimated reading time: 7 minutes

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) Nasionaal wil graag al ons lede ‘n voorspoedige 2025 toewens. Die spreekwoord lui: “Nuwe jaar, nuwe dinge”, maar is dit werklik die geval? Niks is meer konstant nie – daarom is dit deesdae meer ‘n geval van “nuwe uur, nuwe dinge”. Dit is egter die invloed van buite wat dít veroorsaak. “Nuwe jaar, nuwe dinge” sinspeel meer op dit wat jy as persoon nuut gaan doen, die sogenaamde nuwejaarsvoornemens.

Lees dit in Engels: From the RPO National: New year, new things.

Wat betref ‘n veeprodusent se nuwejaarsvoornemens, het Mark Johnson van die Oklahoma Staatsuniversiteit die volgende voorgestel, en ons glo dit is goeie beginsels om in gedagte te hou (OSU Cow-Calf Corner, 30/12/2024):

  1. Evalueer jou bemarkingsplan: Oorweeg wat en wanneer jy moet verkoop om wins te maksimeer. Speenkalwers of osse? Ligte of swaar kalwers? Tyd van die jaar volgens prystendens?
  2. Hou beter rekords (finansieel en produksie): Evalueer produktiwiteit met die doel om dit te verbeter en winspotensiaal te ontsluit.
  3. Vind die optimale balans tussen diergrootte, -tipe, produktiwiteit en beskikbare weiding.
  4. Monitor voeding en liggaamskondisie: Maak seker dat vroulike diere nie gewig verloor tydens die laaste trimester van dragtigheid nie.
  5. Verbeter die gesondheid van jou totale weidingsekosisteem (grond, plante en vee): Vind uit hoe om weiveld te bestuur volgens die laaste paar jaar se weerstoestande en die huidige toestand van weiding (droog/nat, rus/drukbeweiding).

Lees meer oor die kompleksiteit van die in- en uitvoer van rooivleis.

Nuwe dinge by die RPO

Wat die RPO betref, glo ons ook die nuwe jaar bring nuwe dinge. Ons is opgewonde om ‘n pad van vernuwing aan te pak, met ons lede skouers te skuur en die doel, rigting en relevansie van die organisasie te herbesoek. Die RPO bestaan úít lede, vír lede, en sonder die insette en hulp van die lede is ons niks.

Ons wil jou as lid en veeprodusent dus vra om met ons in verbinding te wees met voorstelle, probleme en oplossings. Ons kan die bedryf slegs beskerm en bevorder as ons dit saam doen.

In 2025 gaan ‘n paar dinge by die RPO verander, en ons vertrou dat dit tot groot waarde van ons lede sal wees:

  1. Die RPO-tydskrif, Rooivleis/Red Meat, sal voortaan nie meer as ‘n tweemaandelikse afsonderlike publikasie uitgegee word nie. Inligting van en oor die RPO word maandeliks in Veeplaas en Stockfarm gepubliseer. Lede kry hierdie tydskrifte gratis in elektroniese of gedrukte formaat. Indien gedrukte formaat verkies word, is lede self verantwoordelik vir die versendingskoste van die tydskrif. Dit is wel redelik bekostigbaar om ‘n boks vol tydskrifte na byvoorbeeld ‘n boerevereniging te koerier. Oorweeg dit gerus en laat ons weet.
  2. ‘n Tweede nuwe aspek is ons maandelikse nuusbrief wat ‘n nuwe baadjie aantrek in die vorm van die Rooivleis/Red Meat Gazette. Dit sal voortaan aan die einde van elke maand in beide epos- en PDF-formate versprei word, sodat lede op hoogte kan bly van nuus oor die bedryf, en nie net die RPO nie.
  3. Derdens het ons besluit om ‘n 360-grade mediastrategie te begin volg en daar sal nou ‘n groter fokus wees om bedryfsnuus, inligting vir produsente en terugvoer oor RPO-verrigtinge op alle mediaplatforms (sosiaal, radio, televisie, gedruk en elektronies) te versprei.
  4. ‘n Opwindende nuwe projek wat ons wil uitlig is dat die RPO en die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum ‘n landswye veediefstalrapporteringstelsel uitrol. ‘n Soortgelyke projek word reeds suksesvol in die Oos-Kaap deur Agri Oos-Kaap en RPO Oos-Kaap bestuur. Aangesien die veediefstalvoorvalle elektronies op ‘n kaart aangebring word, kan sogenaamde hotspots geïdentifiseer word en die data word dan gebruik om ekstra SAPD-hulpbronne suksesvol te beding. Besonderhede van dié stelsel sal binnekort versprei word.
  5. Die laaste projek wat ons hier wil noem is die hersiening van ons bekende handleiding, Riglyne vir Veeboerdery. Die opgedateerde weergawe sal later vanjaar in beide gedrukte en elektroniese formaat beskikbaar wees.

Soms bly dinge dieselfde

Net omdat dit ‘n nuwe jaar is, is dit ook nie nodig om alles te verander nie. Een van die dinge wat dieselfde bly, is dat die RPO se hoofdoel steeds is om die veeprodusent se beste belang op die hart te dra en te bevorder.

Alhoewel ons met verskillende aksies besig is, wil ons graag die volgende uitlig:

  • Die RPO is een van die stigterslede van die Red Meat Primary Cluster (RMPC) en derhalwe ook Rooivleisbedryfsdienste (RMIS), wat onderskeidelik die rigtinggewende en administratiewe liggame met betrekking tot die statutêre heffing op rooivleis is. Saam met die Rooivleis-abattoirvereniging, die Voerkraalvereniging en NERPO, die bedryfsliggaam vir ontwikkelende rooivleisprodusente, oorsien ons dus dít wat met die statutêre fondse gebeur.
  • Die RPO is steeds in elke provinsie verteenwoordig. Elke provinsie het dus ‘n kantoor met ‘n administratiewe beampte en provinsiale raad of bestuur wat die belange van die spesifieke provinsie moet hanteer.
  • Die RPO is, behalwe vir ‘n lede-organisasie, steeds ook ‘n diensverskaffer vir statutêre funksies en hanteer produksie-ontwikkeling. Dit omarm funksies soos die verspreiding van inligting aan produsente, veediefstal, ISO-sertifisering vir primêre veeproduksie, en die bevordering van omgewingsake.
  • Die RPO bly die amptelike verteenwoordiger van die veeprodusent op al die belangrike forums en organisasies. Ons is die enigste organisasie, doelgerig vir veeprodusente, wat seggenskap het en dus die belange van die produsent beskerm by forums soos die regering se Livestock Value Chain Round Table en Agri CEO Forum, SAMIC, die Predasiebestuursforum, Nasionale Dieregesondheidsforum (NAHF), die Lewendehawewelsyn Koördinerende Komitee (LWCC), Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP), en dies meer.
  • Die RPO het ook hande gevat met die organisasie se eweknieë in buurlande (Namibië en Botswana), wat afhanklik is van ons genetiese materiaal, om druk op hulle regerings te plaas. Die Internasionale Rooivleisforum bestaande uit Suid-Afrika, Namibië en Botswana is deur die RPO geïnisieeren gestig, en afgesien van die uitvoer van genetiese materiaal, word ander knelpunte soos invoere vanaf buurlande na Suid-Afrika ook uit ‘n produsenteperspektief bespreek. Daar word ook gepoog om hierdie probleme tussen die drie lande se produsente-organisasies aan te spreek.
  • Die RPO streef ook daarna om die 40% ad valorem-invoertarief te beskerm, aangesien dit ‘n direkte voordeel inhou vir produsente en die beskerming van die produsenteprys in terme van invoere van lae-geprysde snitte, buiten die SADC-lande.
  • Die RPO sal, soos in die verlede, voortgaan om sy normale funksies te verrig – om op te staan vir die produsent in terme van invoerpolisiëring, die verspreiding van inligting, dieregesondheidskwessies, entstofbeskikbaarheid, wetgewing en regulatoriese aangeleenthede, en dies meer.

Die jaar wat kom

Die RPO is, soos genoem, ‘n lede-organisasie. Dit is n organisasie déúr produsente, vír produsente. As veeprodusente kan ons egter nie in isolasie funksioneer nie, aangesien die groter rooivleiswaardeketting ook in ag geneem moet word. Die feit van die saak is dat die rooivleiswaardeketting baie interafhanklik is, en geen van die skakels in die ketting kan voortbestaan sonder die ander nie.

Alhoewel die RPO dus sekere aksies op sy eie dryf, aangesien dit net die veeprodusent aangaan, is daar ander wat in samewerking met ander organisasies uitgevoer word.

Hiermee die belangrikste aksies wat in 2025 aandag sal kry:

  • BTW op vleis: Ons het in 2024 kommunikasie uitgestuur rakende die kwessie rondom BTW-vrystelling op vleis. Hierdie aangeleentheid en die moontlike probleme wanneer slegs IQF-hoender vrygestel word, is aan die nasionale tesourie voorgehou. Ons bly in verbinding met hulle en is steeds van mening dat indien daar vleisprodukte op die nulkoers-BTW-lys moet bykom, dit die goedkoop snitte/alternatiewe van enige vee- of pluimveespesie moet wees.
  • Naspeurbaarheid: Ons stem almal saam dat ons nie verder sonder ‘n nasionale naspeurbaarheidstelsel kan voortgaan nie. Die RMIS is besig om ‘n stelsel uit te rol en goeie vordering is gemaak. Produsente kan reeds produksie-eenheidnommers vir hulle plase kry (https://productionunit.rmis.co.za/) en die volledige konsepstelsel behoort teen die einde van 2025 gereed te wees.
  • Karkasgradering: In Suid-Afrika volg ons tans ‘n karkasklassifikasiestelsel wat karkasse hoofsaaklik volgens ouderdom en hoeveelheid vet klassifiseer. Alhoewel daar wetenskaplike bewyse is dat ouderdom wel verband hou met sagtheid, kan dit nie gewaarborg word nie en is daar tans oproepe om karkasse te gradeer volgens gehalte-eienskappe. ‘n Span vleiswetenskaplikes is reeds aangestel om so ‘n stelsel te ondersoek (koste, implementering, akkuraatheid, ens.) en ons behoort teen middel 2025 die eerste verslag te ontvang.
  • Veediefstal: Die RPO is per nasionale SAPD-instruksie die amptelike gasheer van die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum. Soos reeds genoem is daar ook opwindende vooruitsigte in dié verband.

Ten slotte

As die organisasie wat jou as veeprodusent verteenwoordig, verstaan ons hoe moeilik die laaste twee jaar was. Stygende insetkoste en dalende uitsetpryse is ‘n nare kombinasie en produsente het die druk van die kosteknyptang eerstehands ervaar. Ons wil die hoop uitspreek dat 2025 die jaar gaan wees wat verligting begin bring. 

As jou verteenwoordigende organisasie kan ons nie eerstehands by jou boerdery betrokke raak nie, ons kan nie markpryse beïnvloed nie, en ons kan ook nie borg staan dat diegene waarop jy staatmaak, sal optree soos hulle moet nie. Wat ons wel kan doen is opstaan vir jou. As ‘n verenigde front van lewendehaweprodusente kan ons met die nodige getalle en mandaat uit een mond namens die lewendhaweprodusente praat. Gee ons die geleentheid om dit doen, deur jou steun saam met dié van jou medeprodusente in een dryf te verenig.

Die belangrikste is egter om met ons in gesprek te wees. Sonder jou insette en behoeftes dobber ons doelloos rond. – Frikkie Maré, frikkie@rpo.co.za, 084 446 6787

Must Read

Regsadvies en landboukennis op Plaas TV

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: Die produksie van melkkoeie...