Estimated reading time: 7 minutes
Die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek wat jaarliks deur Plaas Media aangebied word, trek baie aandag. Veeprodusente raak toenemend bewus van die belangrikheid om klimaatslim te boer en woon graag die jaarlikse boeredae by waar die nuutste ambassadeur en ander sprekers hierdie tema aanspreek.
Vanjaar is die kompetisie deur Charl Saunderson gewen, en as deel van sy prys het hy ’n boeredag op sy plaas, Nooitgedacht, in die Kenhardt-omgewing aangebied. Die dag is deur sowat 100 produsente bygewoon. Dr Louis du Pisani, ’n bekende weidingkundige en een van die beoordelaars is, was die programleier op die boeredag.
Ontwikkeling kan ontwrig
Dr du Pisani het gesê hy herinner produsente altyd daaraan dat ontwrigtende gebeurtenisse deur die loop van die geskiedenis, en veral vandag, bestaande bedrywe radikaal verander en ontwrig. Die Covid-19-pandemie was ’n voorbeeld daarvan. Nog ‘n voorbeeld is die goeie foto’s wat selfone neem, ‘n proses wat Kodak en Fuji totaal ontwrig het.
Die veranderende klimaat in Suid-Afrika en Afrika ontwrig veeprodusente en dwing sommige om hul besighede te staak. Klimaatsverandering word deur hoër temperature, ‘n toename in uiterste weerpatrone, en ‘n toename in CO2 en bosverdigting veroorsaak. Die gevolge van hoër temperature is hittestres met gevolglike swakker voerinname en dalende reproduksie, asook ’n geografiese verskuiwing van siektes.
Die invloed van hoër temperature op die veld is dat plante nie meer fotosinteer nie en meer vog verdamp. Meer hitte-eenhede is egter ook ‘n positiewe verskynsel, omdat dit meer water bring. Dit is egter so dat reënval toenemend geken word aan meer en intenser donderstorms, nat tydperke wat natter word, en droë tydperke wat droër word. Produsente wat nie by hierdie omstandighede wil of kan aanpas nie, moet ag slaan op ’n aanhaling van Jack Welch, voormalige uitvoerende hoof van General Electric: “As die verandering binne jou besigheid stadiger is as die veranderings daarbuite, dan is die einde naby.”
Dr du Pisani het Plaas Media bedank vir die Klimaatslim-inisiatief wat daarop gemik is om produsente se houding van reaktief na pro-aktief te swaai. Die projek identifiseer produsente wat reeds klimaatslim boer en bereid is om hul suksesse met ander produsente te deel.
Verbetering kom ‘n lang pad
Charl is ’n geesdriftige produsent wat veldverbetering beskou as een van die noodsaaklike pilare waarop ’n suksesvolle veeboerdery staan. In sy aanbieding het hy gesê sy oupa en pa het met veldverbetering begin en hy kon dus ’n ‘skoon’ plaas erf. Om egter indringerbosse en -bome te verwyder is nie ‘n eenmalige stryd nie. “Dit is ’n lewenslange stryd, maar as jy eers die resultate begin sien, raak dit verslawend om te sien hoe jy die plaas kan verbeter.”
Daar is nie net een manier om die veld te verbeter nie, daar is altyd nog iets wat jy kan doen om jou drakrag te verhoog, het hy gesê. Sy doelwit is om die plaas verder te verbeter, sodat sy nageslag ook volhoubaar kan boer. Hy het by sy pa geleer hoe bevredigend dit is om jou plaas se drakrag stukkie vir stukkie te verhoog en wanneer droogtes toeslaan, gereed te wees om dit teen te staan.
Veldverbetering behels meer as een manier om klimaatslim te boer. Een daarvan is om ploegvore op die kaal kolle op die plaas te maak en saad in te saai. Dit was ’n projek wat sy pa lank terug al aangepak het. Hy sit die proses voort en konsentreer ook op die skraal kolle waar hy die veld nog beter kan kry.
Hy het onder meer ook ’n stinkdam waarin dooie diere gegooi word. Elke jaar of twee word die inhoud aan die brand gesteek, en die as en beenmeel word dan saam met kraalmis gebruik as ’n kunsmis vir die grassaad wat hy insaai. Hierdie saad versamel hy van ander nuttige plante op die plaas en wanneer hy dit in die ploegvoere strooi, word die selfgemaakte kunsmis bygevoeg om die saad ’n hupstoot te gee. Hierdie metode lewer tot dusver uitstekende resultate.
Skape wat bome ‘plant’
Charl het ook kameeldoringboompeule gekoop wat hy saam met voer vir sy Dorperskape meng. Op dié manier help die skape hom om kameeldoringbome op die plaas te ‘plant’.
Veldverbetering is egter nie die enigste pilaar waarop volhoubare boerdery staan nie. Die produsent moet ook die genetika van sy/haar kudde verbeter. Hy pas ’n streng ooi- en ramseleksiebeleid toe, en ooie wat nie hul deel doen nie, word uit die kudde verwyder. “Op ’n plaas in die Boesmanland het ons eenvoudig nie plek vir passasiers nie.”
Nog ’n pilaar van sy boerdery is behoorlike predasiebestuur. “Ek kan nie bekostig om ‘n enkele lam af te staan nie. Daarom het ek my drade geëlektrifiseer en maak ek die predatore op die plaas van kant.”
Sy raad aan medeprodusente was eenvoudig: “Maak gereed vir die onvermydelike. Klimaatsverandering is iets waaraan geen produsent iets kan doen nie, maar die onvermydelike kan beter bestuur word sodat die droogte of risiko ‘sagter’ op jou plaas land. Daarom moet ’n mens ’n langtermynplan ook in plek hê.”
Om dit te doen, sorg hy vir die volgende:
- Verbeter jou grond se waterhouvermoë en behou elke moontlike druppel reënwater.
- Verbeter grondgesondheid en veld deur indringers, swak produseerders en watergebruikers te verwyder.
- Volg dit op deur weidae korrek te bereken en die veld só te benut, dat dit verbeter. Dit doen hy deur stelsels van drie of vier kampe te gebruik om rus- en hersteltye moontlik te maak.
- Vergroot jou kudde soos die drakrag van die veld verbeter.
- Verbeter die kudde deur goeie teling en seleksie.
- Infrastruktuur moet voortdurend opgegradeer word om bestuur voortdurend te optimaliseer.
- Berei elke jaar voor asof ’n droogte gaan aanbreek.
Charl sê produsente moet nie verskonings uitdink vir waarom hulle nie sekere praktyke wil toepas nie. Hulle moet eerder redes vind waarom die plaas verbeter kan word en hulle volhoubaar kan boer.
Voorkoming is beter as genesing
Neels Brits, ’n verteenwoordiger van Zoetis, een van die projekborge, het met produsente gesels oor dieresiektes wat hand-aan-hand met klimaatsverandering loop. Hy het gesê dit is veral longsiektes, soos pasteurella, wat gedy as gevolg van klimaatsverandering, juis omdat dit een dag koud en die volgende dag warm is.
Voorkoming is beter as genesing, was sy hoofboodskap. “Daar is uitstekende middels op die mark wat gebruik kan word om hierdie siektes te voorkom en die voorkomingsaksies kos uiteindelik baie minder as om ’n paar lammers per jaar te verloor.”
Om te kyk na die video oor Charl se boeredag, volg die skakel: https://youtu.be/zWa4e8eB2x4?si=XTYHrm9bi6EZT6T4
Vir meer inligting oor sy boerdery en praktyke, skakel Charl Saunderson by 082 414 6146. – Koos du Pisanie, Plaas Media