Estimated reading time: 3 minutes
Vir landbou was 2023 in baie opsigte ‘n jaar van konsolidasie en herstel, veral vir uitvoere. En hoewel daar ‘n mate van verligting van insetkoste was, word produsente steeds met vele uitdagings en verhoogde risiko’s gekonfronteer.
Aan die positiewe kant het die Agbiz/Nywerheidsontwikkelingskorporasie van Suid-Afrika se Agribesigheidsvertrouensindeks in die derde kwartaal met 6 punte na 50 punte teruggespring, nadat dit vir drie opeenvolgende kwartale onder die 50-punt-kerf was. Dit dui daarop dat landboubesighede geleidelik aanpas by langdurige uitdagings, soos verswakkende infrastruktuur, mislukte munisipaliteite, verskerpte geopolitieke spanning en aanhoudende beurtkrag.
2023 was ‘n mengelmoes van seëninge en uitdagings
Verskeie sektore soos koring, sojabone en mielies het steeds uitstekende oeste gelewer, maar afwaartse druk het beslis ‘n impak op kommoditeitspryse. Kommoditeitspryse het gemiddeld met sowat 11% gedaal, terwyl streng regulasies oor sitrusswartvleksiekte in die Europese mark en beperkings op die uitvoer van sommige veeprodukte weens bek-en-klouseer uitvoerinkomste waarskynlik sal knou.
Veesiektes bly ook ‘n bekommernis, veral die onlangse uitbreking van voëlgriep, wat verreikende gevolge vir produsente en verbruikers inhou. ‘n Verslag wat in Mei vanjaar deur ‘n regering-aangestelde taakspan vrygestel is, het gewaarsku dat Suid-Afrika se veeartsenykundige- en dieresiektebeheer geskaad en in ‘n krisis gedompel is, wat die lewensvatbaarheid van die land se veebedryf bedreig.
Wat wag in 2024?
Ongelukkig sal baie van die gewone uitdagings waartoe sakebedrywighede in Suid-Afrika gebind is, voortduur.
Onsekerheid oor kragvoorsiening duur voort, maar baie landboubesighede het sake in eie hande geneem en wek nou hul eie krag op. Onderliggende infrastruktuurkwessies sal waarskynlik ook nie aangespreek word nie, want onsekerheid en verlamming in ‘n verskiesingsjaar beteken beperkte vordering. Druk rondom huishoudelike voedselsekerheid sal ook voortduur, en enige voedselprysstygings sal geweldige druk op reeds knap huishoudelike begrotings plaas.
Nog ‘n faktor wat waarskynlik nie sal verbeter nie, is uitvoere. Suid-Afrika se moontlike uitsluiting van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (AGOA) en steeds toenemende regulasies in die Europese Unie is bedreigings, en met die Rusland–Oekraïne- en Israel–Palestina-konflikte wat weinig tekens van herstel toon, word daar verwag dat geopolitieke spanning tot in 2024 sal voortduur.
Ons is dus van mening dat daar dringend aandag gegee moet word aan die verbetering van logistieke doeltreffendheid, die bevordering van Suid-Afrikaanse produkte in uitvoermarkte, en die handhawing van goeie verhoudings met bestaande kritieke uitvoermarkte terwyl uitbreiding na nuwe markte nagejaag moet word.
Te danke aan verbeterde grondvog van vorige reënvalseisoene sal El Niño gelukkig minder van ‘n impak hê as wat aanvanklik verwag is. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel egter bo-normale minimum en maksimum temperature vir die somer. Hierdie voorspelling kom te midde van waarskuwings van die Wêreld Meteorologiese Organisasie dat El Niño, tesame met klimaatsverandering, in die volgende vyf jaar wêreldwye rekordtemperature tot gevolg sal hê.
Dit was reeds die geval met hittegolwe wat vanjaar die noordelike halfrond getref het en voorspel niks goed vir gewasse en vee nie, terwyl waterverlies deur verdamping en verhoogde veldbrande bykomende bedreigings inhou.
Die jaar 2024, wat sekerlik sy eie hoogte- en laagtepunte sal hê, word as ‘n bepalende oomblik vir Suid-Afrika beskou. Sedert Covid-19 is landbou ‘n hoogtepunt en ondanks al die uitdagings, is daar bemoedigende tekens dat dit so sal bly. Dit is egter belangrik om geleenthede wat die bedryf bied te benader vanuit die werklikheid van besigheid doen in Suid-Afrika. Dit is nie maklik nie, maar daar is altyd hoop. Die uitdagings wat ons as bedryf en as land al moes teenstaan, het ons meer veerkragtig gemaak. Deur dit alles glo ons dat die privaatsektor sal volhard – met of sonder die regering. – deur John Hudson, Nasionale Hoof van Landbou by Nedbank
Dink groter. Dink Nedbank Kommersiële Banksake.
Stuur ‘n e-pos na agriculture@nedbank.co.za om meer uit te vind.