Monday, March 10, 2025

Kies die regte metode om voer te stoor

Estimated reading time: 6 minutes

  • Kuilvoer speel ’n sleutelrol op melkplase en voerkrale regoor Suid-Afrika. Die ruvoerbehoefte op plase wissel deur die jaar, afhangend van die veegetalle en voedingsbehoeftes van diere.
  • Die tipe ruvoer wat op ’n melkplaas en voerkraal geproduseer word, kan heelwat verskil, maar die feit bly dat die moeite van voerberging uiteindelik tot groot besparings lei.
  • Die berging van voer is egter nie net ’n manier om die beskikbaarheid van voer regoor die seisoen te versprei nie, maar ook ’n manier om die rande te rek.
  • Inkuiling is ’n goeie opsie wanneer hooi nie suksesvol gemaak kan word nie.
  • Die kompaksie van kuilvoer in silosakke is egter heelwat laer as by bunkerkuilvoer. Indien die sak dus beskadig word en lug wel sou indring, kan baie groter verliese voorkom as wat waarskynlik in ’n bunker sou voorkom.

Kuilvoer speel ’n sleutelrol op melkplase en voerkrale regoor Suid-Afrika. Die ruvoerbehoefte op plase wissel deur die jaar, afhangend van die veegetalle en voedingsbehoeftes van diere. Ruvoerproduksie word weer deur die seisoen, klimaat en grond bepaal. Vervolgens is dit nodig om verskillende bergingsopsies op die plaas te oorweeg.

Lees meer oor wat ‘n beginner-melkboer moet weet.

Die tipe ruvoer wat op ’n melkplaas en voerkraal geproduseer word, kan heelwat verskil, maar die feit bly dat die moeite van voerberging uiteindelik tot groot besparings lei.

Tewens, sê prof Robin Meeske, ’n spesialis wetenskaplike verbonde aan die Wes-Kaap regering se Departement van Landbou, die berging van ruvoer op plase kan nie net teoreties voordeel vir ’n produsent se sak inhou nie, maar ook lei tot beter bestuur van hulpbronne.

Verskillende ruvoerbehoeftes

“Die ruvoerbehoefte op plase wissel deur die jaar afhangend van die veegetalle en voedingsbehoeftes van diere. Ruvoerproduksie word weer deur die seisoen, klimaat en grond bepaal,” sê prof Meeske.

Op melkplase in die Suid-Kaap wissel die groeitempo van aangeplante weiding onder besproeiing byvoorbeeld van 25kg droë materiaal (DM)/ha/dag in die winter tot 80kg DM/ha/dag in die lente. Indien die veelading vier koeie/ha is, sal daar ’n tekort aan weiding in die winter en ’n surplus van weiding in die lente wees.

“Die surplus weiding moet dan ingekuil word in die lente om weer die volgende winter aan koeie gevoer te word.”

Rondebaalkuilvoer pas baie goed in hierdie tipe sisteem, aangesien beperkte hoeveelhede op ’n slag beskikbaar is om in te kuil. “Rondebaalkuilvoer moet met ses lae plastiek toegedraai word en bale moet nie langer as ’n jaar gestoor word nie.” Produsente moet verder seker maak dat die DM van die gewas minstens 45% is voordat materiaal gebaal word. “Bale moet binne ses ure nadat dit gemaak is, toegedraai word om te voorkom dat suikers verlore gaan en giste en swamme groei.”

Op weidingsplase word inkuiling van surplusweiding as ’n weidingsbestuurshulpmiddel gebruik. “Op groter melkplase is meer materiaal op ’n slag beskikbaar en word kuilvoer in hope bo-op die grond en ook in kuilvoerbunkers gemaak.”

Voerkrale moet ruvoer in die dieet byvoeg vir die afronding van vleisbeeste en daarom maak hulle groot hoeveelhede mieliekuilvoer in bunkers. “In die Wes-Kaapse winterreënvalgebied word kleingraankuilvoer (hawer, gars en koring) in September gemaak om deur die jaar ruvoer aan melkkuddes te voorsien.”

Lees meer oor die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie.

Bale moet binne ses ure nadat dit gemaak is, toegedraai word om te voorkom dat suikers verlore gaan en giste en swamme groei.
Bale moet binne ses ure nadat dit gemaak is, toegedraai word om te voorkom dat suikers verlore gaan en giste en swamme groei.

Selfdoen rek die rande

Die berging van voer is egter nie net ’n manier om die beskikbaarheid van voer regoor die seisoen te versprei nie, maar ook ’n manier om die rande te rek, sê prof Meeske.

“Die sleutel tot winsgewende melkproduksie is om voldoende hoë-gehalte ruvoer te produseer om aan die ruvoerbehoefte op die plaas te voldoen. Veegetalle moet by die jaarlikse gemiddelde ruvoerproduksie aangepas word. Selfgeproduseerde ruvoer is dikwels twee tot vier maal goedkoper as aangekoopte ruvoer. Die prys van lusernhooi het in die laaste ses jaar drasties gestyg van R3 000/ton tot meer as R6 000/ton.”

Indien aangekoopte ruvoer so duur word, plaas dit die ekonomie van melkproduksie onder groot druk.

Stooropsies op die plaas

Ruvoer kan as hooi of kuilvoer gepreserveer en gestoor word. Die voordeel van hooi is dat dit maklik vervoer en verskuif kan word. Dit is uiters belangrik dat die voginhoud van hooi verlaag word tot onder 15% om te voorkom dat swamme groei en mikotoksiene vorm. Hooi moet verkieslik onder ’n dak gestoor word om te verseker dat dit nie natreën nie.

Hooi in ’n stoor hou egter ’n brandgevaar in. As dit nie droog genoeg is nie kan dit begin broei, hitte genereer en spontaan ontbrand.

Gewasse word gesny en moet op die land verwelk en afdroog voordat hooi gebaal word. In sommige gebiede is dit baie moeilik om die voginhoud onder 15% te kry en hooi te maak. Hooi is dikwels stowwerig en hard, wat inname en smaaklikheid verlaag.

Kuilvoer bly ’n wenner

Inkuiling is ’n goeie opsie wanneer hooi nie suksesvol gemaak kan word nie. “Kuilvoer is smaakliker as hooi, is sagter en ook nie so stowwerig nie,” sê prof Meeske en verwys ter illustrasie na ’n studie waarin Smutsvingerhooi met Smutsvingerkuilvoer vergelyk is en aan skape gevoer is. “Die verteerbaarheid en inname van die kuilvoer was hoër as dié van hooi.”

Indien kuilvoer egter van ’n tropiese gras soos Smutsvinger gemaak word, moet ’n doeltreffende homofermentatiewe melksuurbakteriese inokulant toegedien word, omdat daar baie min suikers in hierdie plante is wat doeltreffend gebruik moet word om melksuur te vorm, sodat die suurvlakke (pH) kan daal.

“Gewasse wat in rye geplant word, soos mielies en sorghum, word meestal ingekuil deur die plant op die regte stadium te sny en te kerf,” voeg hy by. “Die DM-inhoud van kuilvoer moet dan ten minste 30% wees. Indien die vog te hoog is (meer as 70%) sal ’n uiters onsmaaklike kuilvoer wat bottersuur bevat, geproduseer word.”

Kuilvoer wat goed gepreserveer is kan jare in ’n bunker gestoor word indien lug en water nie die kuilvoer binnedring nie.

Leer hoe om met mikotoksiene in kuilvoer te maak.

Beskerming teen die elemente

In gebiede met besonder hoë reënval, soos die Wes-Kaap, is daar redelike intense reënval in die winter en gevolglik is dit beter om hooi in ’n voerskuur te berg. “Indien ’n gewas soos hawerhooi in ’n skuur geberg word, moet daar egter aandag aan plaagbeheer gegee word,” sê prof Meeske. “Enige hooi wat graan bevat sal rotte lok wat hulle dan in die skuur sal tuismaak. “

Verder kan kuilvoer ook in silosakke gemaak en geberg word. “Die groot voordeel van silosakke is dat die inkuilproses baie vinnig is en dat lug gou uitgesluit word. Die stabiliteit van hierdie kuilvoer is ook goed wanneer dit tydens uitvoer aan lug blootgestel word.”

Die kompaksie van kuilvoer in silosakke is egter heelwat laer as by bunkerkuilvoer. Indien die sak dus beskadig word en lug wel sou indring, kan baie groter verliese voorkom as wat waarskynlik in ’n bunker sou voorkom. – Susan Marais, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak prof Robin Meeske by 044 803 3708 of Robin.Meeske@westerncape.gov.za.

Must read

Katoen-verwysingsprys: Week van 3 tot 7 Maart

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee....
RSG Landbou, skaapstelsel

RSG Landbou: 10 Maart 2025 – geborg deur BKB

Die Nasionale Dohne Merino-veiling, wat op 1 Februarie in Bloemfontein aangebied is, kan met ‘n 100%-verkoopsyfer spog en volgens Vaughn Collier, is goeie pryse...

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse word weekliks aan u gebring deur Absa en die RPO. Neem kennis dat hierdie nie...

Die bestuur van somatiese seltelling in melkbeeste (Deel 1)

Estimated reading time: 5 minutes Hoë somatiese seltelling (SST) in melkkoeie is ’n simptoom van ’n onderliggende probleem. Somatiese seltelling is ’n aanduider van uiergesondheid. Die uitdaging...

Skouseisoen in volle swang – op Plaas TV

Hierdie week het Plaas TV weereens vir interessante kykstof gesorg en vandag is #kykweervrydag. Hier is ’n opsomming van dié week se episodes: Williston-landbouskou het dié dorpie...