Estimated reading time: 6 minutes
Agri Noordwes se 2021 Jongboer van die Jaar, Wernich Lemmer, bedryf saam met sy pa, Willie, ’n suksesvolle kommersiële Bonsmara-speenkalfboerdery buite Hartbeesfontein in Noordwes. Hoewel 80% van die Lemmertrust-boerdery uit ’n intensiewe saaivertakking bestaan (hoofsaaklik mielies), is Wernich baie gesteld op die kudde wat sy pa oor 30 jaar opgebou het.
Wernich en sy vrou Annerie het hulle in 2018 op die familieplaas, Lemmerville, gevestig nadat hy sy beroepsveld as meganiese ingenieur vaarwel geroep het.
Beginselvaste kuddebestuur
Wernich sê die grondslag van hul ekstensiewe beesboerdery is op drie kuddegedrewe beginsels geskoei, wat ’n doeltreffende inentingsprogram, bosluisbeheer en die voorsiening van ’n goeie lek insluit.
Diarree by kalwers: Oorsake en oplossings
Die toepassing van hierdie beginsels stel hulle in staat om hul produksiedoelwit te bereik en om speenkalwers teen ’n goeie eenheidsprys aan die kommersiële mark te lewer. Daarmee saam sorg die koeie, wat bosluisvry en gesond is, en aangepas is in die gebied waar hulle boer, vir ’n kalfpersentasie van bo 90%.
Wernich sê hulle volg dieselfde benadering as stoetboere, maar weens die ekstensiewe aard van hul boerdery, fokus hulle slegs op die nodige om hulle kudde te bestuur. Hulle laat ruimte vir kostebesparing, sodat winsverliese tot die minimum beperk word. Vir hom kom dit basies neer op die intensiewe bestuur van ’n ekstensiewe beesboerdery.
Hy glo hulle is op die regte pad met die bestuur van hul beeskudde, juis omdat hulle beginselvas bly, ’n goeie balans handhaaf en streng kostebeheer toepas.
Kuddebou en -ontwikkeling
Willie het in 1994 begin om hulle Bonsmarakudde stelselmatig op te bou, nadat hy ’n Afrikanerstoet by sy oorlede pa (oupa Wernich) oorgeneem het. Afrikanerkoeie is teruggehou, die bulle verkoop en Bonsmara-stoetbulle aangekoop.
Vir die grootste gedeelte van die 30 jaar waarin Willie die kudde opgebou het, het hy hoofsaaklik Bonsmara-stoetbulle vir aanteel gebruik en verse teruggehou, sodat 90% van hul kudde nou suiwer Bonsmara-gene bevat.
In ’n stadium het Willie basterkrag in sy kudde gebring om die koeie se raam te bou en melkproduksie te bevorder. Angus- (vir vleiseienskappe), Sussex- (vir melk- en vleiseienskappe), Limousin- (vir meer vleis en bonkigheid) en Simmentalerbulle is so in die kudde ingebring.

Streng seleksie van stoetbulle
Volgens Wernich is bulgenetika die grootste bepalende faktor van ’n goeie kalf. Hy glo ’n gehalte bul, al is dit ’n duurder opsie, is die beste belegging in ’n beesboerdery. Daar kan nog met swakker genetiese koeie weggekom word, want met ‘n goeie gehalte bul kan dié swakker koeie steeds kalwers met 50% goeie genetika lewer.
Wernich selekteer aankoopbulle vir kalfgemak, juis weens die ekstensiewe aard van hul boerdery. Omdat hulle verse terughou, verkies hulle ook stoetbulle met goeie melkgene. Speengewig speel natuurlik ’n rol, want dit is immers waar die boerdery sy geld maak.
Wernich sê hy doen sy huiswerk ten opsigte van beskikbare melkprodusiesyfers asook die gewig van ’n kalf in verhouding met dié van sy moeder. Hy neem ook ’n bul se speengewig in ag, asook die aantal dae wat dit neem om daardie speengewig te bereik.
Teelseisoenbestuur
Wernich sê hulle maak nie van kunsmatige inseminasie gebruik nie. Die bulle word op ’n drie-maandelikse basis, wat rustydperke insluit, in ’n somer- en winterdekseisoen op natuurlike weiding geroteer. Dit sluit vleilande asook kampe met dekgewasse en mieliereste in.
Bulle word tipies van November tot Januarie saam met die koeie gejaag. Vanaf Februarie tot April rus hulle weer, en van Mei tot Julie is hulle terug by die koeie. Ná drie maande rus hulle weer (Augustus tot Oktober).
Wernich verkies om ’n ongelyke getal bulle by die koeie te sit. Bulle baklei soms met mekaar, maar as daar ’n ongelyke getal is, sal twee bulle baklei, terwyl die derde bul voortgaan om die koeie te dek.
Kalf-inenting en bosluisbeheer
Vroeg in die eerste drie maande ná kalwing, fokus Wernich op bosluisbeheer en inenting van die kalwers. Sy ossies en verskalwers kry dan ook oorknippe en word getatoeëer. Verskalwers word op albei boude gebrandmerk, maar nie die osse nie, omdat hulle reeds oorknippe het.
Oskalwers se horings word nie gebrand nie, terwyl horingsalf op jong verskalwers (verkieslik in die eerste twee weke) gebruik word, of die horings word daarna gebrand. Bosluisbeheer word toegepas, en ossies en verskalwers word vir sponssiekte, lam- en miltsiekte ingeënt. Verskalwers word teen besmetlike misgeboorte (BM) geïmmuniseer.
Wernich wissel drie verskillende aktiewe in sy bosluisbeheerprogram af. Die doel is om bosluise in die veld uit te dun en te verhoed dat bosluise weerstand daarteen opbou. Hy voeg by dat dit natuurlik help dat die Bonsmara ’n natuurlike verdraagsaamheid teen bosluise het.
Hy ent verse weer tussen vier en sewe maande oud teen BM, sponssiekte, lam- en miltsiekte in. Verse kry geen hormoonbehandeling nie, want hulle word teruggehou.
Wernich sê behandelings in die eerste drie tot vier maande geld ook vir sy ossies op hul verafgeleë plaas by Wolmaransstad. Daardie kudde wei slegs op natuurlike veld. Die uitsondering is egter dat daardie osse nie soos dié op Lemmerville, ’n hormoonbehandeling (Ralgro) kry nie.
Die diere op Lemmerville wei op dekgewasse en mieliereste, en afhangend van die ossies se kondisie, kry hulle ’n tweede hormoonbehandeling (Revalor) tussen die ouderdom van vier en sewe maande. Dié ossies word in hierdie tydgleuf ook vir lam- en miltsiekte, sponssiekte en longkwale ingeënt.

Speen van ossies en kalwers
Wanneer die tweede hormoonbehandeling vanaf twee-en-’n-half na drie maande begin uitwerk, word die ossies gespeen (dit kan ook vroeër wees). Die kalwers word in verskillende troppe volgens hul gewig (200 tot 250kg, en 280 tot 300kg) uitgekeer, waarna hulle bemark word.
Lees meer oor Wernich se boerderydoelwitte hier.
Veldkalwers word vroeër gespeen en tussen sewe en nege maande oud bemark, sodat die koeie nie hul kondisie verloor nie.
Wernich hou sy verse, wat ook op sewe tot nege maande oud gespeen word (200 tot 250kg) terug, want met die afgelope paar jaar se goeie reën, is hy en sy pa in ’n boufase wat beide verse en hektare betref. Vir elke hektaar word een of twee verse teruggehou. Horingverse word uitgeskot en as teelmateriaal bemark.
Lekaanvulling
Wernich glo gesonde rumenbakterieë, goeie veldvoeding, dekgewasse en mieliereste asook melkinname, dra tot ’n goeie speenkalfgewig by. Daarby voorsien hy ook lekaanvullings om tekorte aan te vul en sy diere in top kondisie te hou.
Sy somerlekmengsel bevat ’n melassegebaseerde proteïen-, energie- en minerale-aanvulling (Molatek se Meester 20) en ’n fosfaat-spoormineraalkonsentraat (Kimtrafos P12 van Yara) wat hy met ’n sak sout na ’n P6-vlak afbreek. Wanneer dit baie reën, gebruik hy Nutri Feeds se Nutri Tub-aanvullings aangesien dit reënbestand is en langer hou.
Hy het voorheen slegs ’n proteïen-gemengde winterlek gebruik, maar het besluit om fosfaat by te voeg, omdat diere se tekort daaraan in die winter ewe veel is as in die somer. Sy winterlek bevat ’n proteïenkonsentraat (Molatek se Lick Mix 87) asook ’n voergraadsout. Vir ’n mengsel van een ton voeg hy 50kg P12-fosfaat-spoormineraalkonsentraat by.
Deur die loop van die jaar sit Wernich ook ’n soutklip vir elke trop uit, omdat van die beeste nie altyd genoeg lek inneem nie. – Christal-Lize Muller, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Wernich Lemmer by epos lemmerhw@gmail.com.
