Estimated reading time: 6 minutes
Aandag aan belangrike bestuursaspekte soos kompaksie, snytyd en uitvoer met die minste moontlike vermorsing en blootstelling aan suurstof – hierdie aspekte is ononderhandelbaar vir produsente wat goeie gehalte kuilvoer wil maak.
Dít, tesame met die toepas van inligting uit kursusse en gesprekke met ander produsente in ’n studiegroep, het meegebring dat Ian Gerber van die Gerber-boerderytrust by Hoekwil in die Suid-Kaap, ‘n welverdiende derde plek in die mieliekuilvoerkategorie van Plaas Media se Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie vir 2021 behaal het.
Ian sê dit is die eerste keer dat hy aan dié gewilde kompetisie deelneem. Laetitia Walters, ’n voedingkundige van AFGRI Veevoere in George, het voorgestel dat hy sy mieliekuilvoer inskryf. “Sy het gesê ons moet deelneem, sodat ons uit die uitslae van die laboratoriumontledings kan sien hoe ons gehalte met dié van ander produsente vergelyk.
“Omdat dit ons eerste keer was, was dit ’n groot verrassing om eerstens as een van die tien finaliste uit 72 mieliekuilvoerinskrywings aangewys te word en toe nog derde plek te behaal. Ek is seker dit is omdat ons soveel aandag aan veral kompaksie en die regte snytyd gee, dat ons so goed gevaar het. Ons kompaksie is só goed, dat die studente wat die monsters kom neem het, gevra het hoe ons dit so hard kon kry. Hulle kon byna nie die boor inkry om die monsters te neem nie.”
Sny op die regte tyd
Om goeie kuilvoer te maak is die snystadium baie belangrik, omdat die regte snytyd ’n groot invloed op die gehalte van die kuilvoer het. Ian sny wanneer die mielies se droëmateriaalinhoud 35% is, want dan is die styselinhoud die hoogste.
Dié besluit het gevolg op inligting van ander produsente in ’n studiegroep wat die Outeniqua-navorsingsplaas by George insluit. Een van die deelnemers is prof Robin Meeske, hoof van die navorsingsplaas en beskermheer van die kuilvoerkompetisie se protokol. Hy stel inligting uit navorsing op die navorsingsplaas aan die produsente beskikbaar.

“Voorheen het ons vroeër gesny, maar deesdae neem ons gereeld vooraf monsters en maak dit in die mikrogolfoond droog om die korrekte droëmateriaalinhoud te bepaal.”
Sy deelname aan die studiegroep het Ian ook laat besluit om, waar hy voorheen net kuilvoer in hope gemaak het, ’n bunker te bou sodat hy die kuilvoerproses meer wetenskaplik kon benader. Hy plant Bayer se DEKALB-mieliebaster DKC64-54BR. “Dit is nie spesifiek ’n kuilvoerkultivar nie. Dit is ’n graankultivar, maar in die proses gee dit ons meer graan in die kuilvoer, wat weer meer energie gee.”
Al die mielies word onder besproeiing verbou om die negatiewe invloed van droogtes teen te werk. Om te verseker dat hy die beste mielies vir sy kuilvoer produseer, gee hy baie aandag aan die regte bewerking – hy bemes volgens grondontledings en bespuitings word op kritieke tye gedoen.

kontrakteurs afhanklik nie. (Foto: Regardt Erasmus)
Die bemesting van die kuilvoer wat in die kompetisie getoets is, was 10m3 beesmis per hektaar voor planttyd. Vanjaar het sy bemesting uit 10m3 hoendermis per hektaar bestaan.
Kompaksie en bedekking
Nadat die mielies op die regte tyd gesny is, is kompaksie die volgende belangrike aspek van sy inkuilingsproses, sê Ian.
Hy is oortuig dat deeglike kompaksie een van die geheime van sy sukses met kuilvoer is. Vir die beste kompaksie gebruik hy vir elke trekker wat mielies aanry, een op die bunker wat die mielies vastrap. “As vier trekkers dus aanry, trap vier ander vas.”
Daarna word die goeie werk afgerond met die toemaakproses wat binne 24 uur gedoen moet word. Hy pak die seil baie goed met bande toe, nie net bande in rye nie. Teen die muur van die bunker word 20ℓ-plastiekdromme vol water gepak om te verseker dat die kuilvoer daar baie dig afgeseël is.
Nadat soveel moeite gedoen is om goeie kuilvoer te maak, is die bestuur van die bunkergesig vir die uitvoer van die kuilvoer net so belangrik. “Om verliese te beperk, moet jy slegs soveel uithaal as wat jy nou kan gebruik. Daarom gebruik ons nie net ’n laaigraaf wat onder losmaak sodat baie van die voer afval nie. Alles wat ons losmaak, word gebruik. Wanneer goeie reën meebring dat die koeie net op die weiding hoef te loop, word die gesig deeglik toegemaak om verliese te beperk.”
Ian sê die boerdery het sy eie werktuie en toerusting aangeskaf, sodat dit nie nodig is om van kontrakteurs afhanklik te wees nie. Nou kan hulle dadelik sny as die droëmateriaalinhoud reg is en heelwat skade word so uitskakel. As daar byvoorbeeld te vroeg of te laat gesny word, beïnvloed dit die gehalte van die kuilvoer.
Balans van die mengsel
Omdat hulle die vastestofinhoud van die koeie se melk so hoog as moontlik wil hê, is dit belangrik om die voeding 100% reg te kry. Hul kuilvoer moet van optimale gehalte wees om die beste gehalte melk te produseer. Daarvoor is die regte voermengsel met die regte balans van proteïene en energie nodig. Die mieliekuilvoer voorsien die energie in die mengsel. Vir die proteïenkomponent maak hy kuilvoer van Pannar se Majoris-hawerkultivar.

Ook hiervoor is die snytyd van uiterste belang om optimum gehalte te verseker. Waar hy aanvanklik die kleingraan in die sagtedeegstadium gesny het, het hy op aanbeveling van ’n voedingkundige begin om die hawer vroeër – in die blomstadium – te sny. Dan is die proteïeninhoud hoër, wat die gehalte van die kuilvoer en die voermengsel verbeter.
Ian gebruik ’n gekonsentreerde probiotiese kuilvoerinokulant, BioPro Silage, in sy kuilvoer. Dit is ’n vloeistofgebaseerde konsentraat met probiotiese mikroörganismes vir beter fermentasie en aërobiese stabiliteit.
Ian sê vir hom lê die sukses van goeie kuilvoer in ’n fyn balans van verskeie faktore, soos die styselinhoud, energie, die regte snytyd vir optimale droëmateriaalinhoud, goeie kompaksie en om die kuilvoer deeglik toe te hou en uiteindelik op die regte manier uit te voer.
Op hoogte van ontwikkelings
’n Groot deel van die sukses van sy kuilvoerproduksie is dat hy gereeld kursusse bywoon – onder andere dié wat Richardt Venter, koördineerder van die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie, aanbied. Hy vind ook baie baat by die studiegroep van produsente waarvan prof Meeske ’n lid is. Op dié manier bly hy op hoogte van die nuutste ontwikkelings in kuilvoerproduksie.
Ian sê hy het aan die kompetisie deelgeneem om sy eie kuilvoer met dié van die wenners te vergelyk. Hy beoog om die uitslae van die laboratoriumtoetse van sy kuilvoer te gebruik om sy praktyke te verbeter. – Chris Jooste, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Ian Gerber by 084 576 6663 of ijgerber@hilbert.co.za.