Estimated reading time: 4 minutes
Wanneer dit by parasietbeheer kom, is daar spesifieke tekens waarop gelet moet word. Dit sal ’n fout wees om jou benadering te veralgemeen, sê Nicolaas Groenewald, operasionele direkteur van Biorem Biological Products.
“Gewoonlik verstaan ons dat die term ‘parasiete’, wurmparasiete soos ronde-, lint- en neuswurms asook lewer- en maagslak insluit. Dit is egter nie so eenvoudig nie, want elke gebied het ’n unieke parasietlading.
“Parasietprobleme moet spesifiek en doelgerig geteiken word. Noukeurige bestuur is die beste manier om parasietprobleme te voorkom.”
Slakke
Nicolaas sê dit is belangrik om goeie voedings-, weidings- of voerpraktyke toe te pas en oorbevolking te voorkom. Dalende dagtemperature is gewoonlik die stimulasie vir slakbesmettings by gronddamme en krippe.
Bloedarmoede, waarneembaar aan ’n tipiese ‘kwakkeel’ in die koue maande, kan op lewerslakbesmetting dui. Peervormige slakke gee weer aanleiding tot slymerige diarree wat sleg ruik. By jonger diere sal E. coli ’n tipiese, hoewel nie noodwendig nie, ‘wit’ diarree veroorsaak.
Lintwurms
Hy sê lintwurmbesmettings word dikwels agterweë gelaat, met nadelige gevolge. Dié besmettings kan nie voorkomend behandel word nie en ’n strategiese doseringsprogram moet dus gevolg word.
Lammers moet op die ouderdomme van ses en twaalf weke behandel word. Dit is volgens die lewensiklus van veral die melklintwurm bereken, maar die behandeling sal smallintwurms ook hokslaan.
Die rol van probiotika
Spanning speel ’n bepalende rol in die mate van besmetting wat voorkom. Kastrering en die afsit van sterte, met gepaardgaande ekstra hantering van die lammers, dra by tot hoër spanningsvlakke.
“In die praktyk ervaar ons egter dat die toediening van ’n probiotika, ongeveer sewe dae ná geboorte, ’n afnemende uitwerking het op die voorkoms van lintwurmsegmente, met ’n ooreenstemmende verbetering in gewigstoename.”
Nicolaas sê hoewel daar geen bewyse is dat probiotika enige direkte uitwerking op lintwurmbesmetting self het nie, bestaan die vermoede dat dit jong diere se algemene weerstand verhoog deurdat voer wat ingeneem word, beter benut word. “Dit gee beslis aanleiding tot vroeër inname van voer, wat tot beter groei bydra.”
Veldproewe het ’n verbetering van sowat 900g/lam op ouderdom ses weke aangedui, ná ’n 5ml-dosering van ’n probiotika. Daar was ook ’n aansienlike afname in lintwurmsegmente.
Kriptosporidium
Nicolaas sê kriptosporidium het pandemiese afmetings begin aanneem. Hoewel geen geregistreerde middel daarteen bestaan nie, is daar telkens by die uitbreking van ’n besmetting, ’n aansienlike verbetering in die toestand van die diere verkry met die dosering van probiotika.
“Weereens vermoed ons dat dit die goedaardige organismes is wat die moontlike sekondêre besmetting deur patogene soos E. coli onderdruk. Verder verhoog probiotika moontlik die immuniteitsvlak deur beter voerverbruik.
“Om jong lammers se immuniteit as deel van ’n oorhoofse bestuursprogram te verbeter, kan probiotika in die tweede week ná geboorte toegedien word en daarna maandeliks tot op minstens drie maande. Kalwers, wat in ’n mindere mate blootgestel is, kan maandeliks vanaf een maand oud behandel word. Probiotika behoort standaard gedoseer te word elke keer as diere verskuif, vervoer of gespeen word.”
Natuurlike parasietbeheer
Adré Kleynhans van Tzitzikama Effective Micro-organisms (TEM) verduidelik dat enige dier, hetsy in die natuur of in intensiewe boerderystelsels, tot ’n mindere of meerdere mate aan parasiete blootgestel word. In intensiewe boerderye is die risiko baie hoër, want omgewingsfaktore word hoofsaaklik deur bestuur bepaal, soos behuising, voeding, lamseisoene en hantering.
Lees meer oor holistiese parasietbeheer.
In ’n meer natuurlike parasietbeheerstrategie val die grootste klem, volgens haar, op die immuniteit van die dier. Hoe hoër die immuniteit, hoe sterker is die dier se eie weerstand. In ’n intensiewe boerderystelsel word groter druk op diere se immuniteit geplaas.
TEM se natuurlike parasietbeheerprodukte bevat voordelige mikroörganismes en medisinale plantekstrakte wat in TEM se plaaslike laboratorium verwerk word.
Die voordelige mikroörganismes hou die normale flora in die maag in stand. Plantmateriaal word geselekteer vir sekere eienskappe, byvoorbeeld die natuurlike beheer van inwendige parasiete, ontgifting, mineraal- en spoorelement-aanvulling, immuunondersteuning asook natuurlike eienskappe wat respiratoriese probleme en swamme teenwerk.
Daar word dus sterk op die dier se eie immuniteit gekonsentreer om natuurlike weerstand teen inwendige parasiete te ontwikkel. Adré sê dat chemiese middels altyd ’n plek sal hê, maar dat natuurlike behandeling die noodsaaklikheid daarvan verminder.
“Chemiese middels is nodig wanneer besmettings té hoog is of indien die diere se immuniteit nie sterk genoeg is om weerstand te bied nie. Deur gereelde wurmeiertellings te laat doen, kan die graad van besmetting gemonitor word.” – Christal-Lize Muller, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Nicolaas Groenewald by 072 272 7611 of nicolaas@biorem.co.za, of Adré Kleynhans by 082 925 3122 of adrekleynhans2@gmail.com.