Alhoewel daar al vir langer as ’n eeu navorsing oor die effek van prikkelvoeding gedoen word, kierang die vraag of produsente werklik noemenswaardige voordele daaruit put en of dit nog ’n aanvaarbare praktyk is. Veeplaas het by twee kenners aangeklop om te verneem wat die stand van sake rondom prikkelvoeding is.

Liggaamskondisie in perspektief

“Paar- en lamtyd is die belangrikste fases in enige veeboerdery,” sê Jan Louis Venter, produksie-adviseur by die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV). Jan Louis meen ’n suksesvolle veeboerdery hang van die produsent se noukeurige bestuur van die kudde gedurende hierdie tyd af. Prikkelvoeding, sê hy, kan winste verhoog, mits dit korrek aangewend word. ’n Mens moet wel in ag neem dat die resultate van prikkelvoeding tussen seisoene en jare, en ook van kudde tot kudde wissel.

Hy verwys na navorsing deur wyle dr Jasper Coetzee waarvolgens hoogs vrugbare ooie meer responsief is en die beste op prikkelvoeding reageer, en waar die gelykbreekpunt in terme van die koste van die prikkelvoerkorrels, ses lammers ekstra per 100 ooie was.

Figuur 1 illustreer hoedat ooikondisie voor paring en vir seleksie vir vrugbaarheid, ’n belangrike rol in die voorkoms van tweelinge speel. “Dit is belangrik om eerstens te sorg dat die ooie in goeie kondisie is voordat prikkelvoeding gegee word,” sê Jan Louis.

“Byvoorbeeld, indien ’n skraal ooi met ‘n kondisiepunt (KP) van tussen 2 en 2,5 skielik verhoogde voeding ontvang, sal sy baie goed op hitte kom. Maar al reageer hierdie ooi goed op prikkelvoeding, sal haar kanse op meerlinge nie merkwaardig verhoog nie. Andersyds sal ’n ooi in ’n beter kondisie (3 tot 3,5KP) se meerlingpersentasie en besettingsyfers wel verhoog.”

Figuur 1: Ooikondisiepunt by paring en die verhouding tussen ooie met een- en tweelingfetusse. (Bron: www.lifetimewool.com.au)

Prikkelvoer en lamstatus

Die doel met prikkelvoeding is om ’n ooi se massa kort voor paring te laat toeneem om die kans op meerlinge te verbeter. Volgens Jan Louis is dit baie duidelik uit Tabel 1 se resultate dat sommige ooie beter op prikkelvoeding reageer as ander, hoewel hul produksiepotensiaal beslis ook ’n rol speel.

Hy sê dat daar ook ’n noue verband tussen die paarseisoen en prikkelvoeding bestaan. “So byvoorbeeld is besetting en meerlinggeboortes gewoonlik laer tydens lenteparing en ’n groter prikkeleffek word tydens lenteparings, wat nie ’n natuurlike dekseisoen is nie, verkry.”

Opsies met prikkelvoeding

Verskillende voedingsbronne kan as prikkelvoeding gebruik word. Goeie spaarveld, veral voedsame bossieveld in die Karoo, lewer goeie resultate, hoewel hoëgehalte byvoeding ook as prikkelvoeding kan dien.

“Grane word gereeld as prikkelvoeding ingespan, maar ’n goeie deurvloeiproteïen tesame met graan, lewer beter resultate. Onthou, hormone is proteïene en daarom benodig die diere doeltreffende proteïen,” sê Jan Louis.

Prikkelvoeding vir ramme

Ramvoorbereiding begin reeds agt weke voor dektyd – dit is hoe lank ’n sperm neem om bevrugtingsgereed te word. Prikkelvoeding moet vanaf twee tot drie maande voor paring vir die ramme gegee word om testisgroei en spermproduksie te bevorder.

Jan Louis meen dit baat ’n produsent niks as die ooie in puik paringskondisie is, maar die ramme sak uit nie. Hy beveel die volgende voedingspraktyke aan:

  • Prikkelvoeding met hawerpitte of ’n goeie gehalte lek.
  • ’n Voer of lek wat hoog in proteïen is.
  • Voeding met ’n hoë deurvloeiproteïeninhoud wat spiergroei bevorder en ’n oormaat vetneerlegging, wat steriliteit kan meebring, verhoed.
  • ’n Aanvulling met minerale en vitamiene 75 dae voor paring om hoëgehalte en volume semen te verseker.
  • Voldoende spasie sodat ramme almal gelyktydig kan vreet.
  • Die gebruik van skoon- of sjokolademielies moet met oorleg geskied, want dit dra by tot die opbou van vet om die testis, wat weer die ramme se vrugbaarheid kan aantas.

“Wanneer die ramme pers tussen die voor- en agterbene is, is dit ’n goeie aanduiding dat hul testosteroonvlakke hoog is en hulle na die ooie kan gaan,” voeg Jan Louis by.

Wanneer om te prikkel

Iets waaroor produsente soms kopkrap, is eerstens of ’n mens met prikkelvoeding moet aanhou wanneer die manlike diere vir meer as een siklus by die vroulike diere gelaat word; en tweedens wat om te maak met manlike diere wat heeljaar by die vroulike diere loop omdat daar nie elders plek is nie. Moet die vroulike diere op ’n sekere tyd geprikkel word om ’n meer reëlmatige lam-/kalfseisoen te hê? Of beteken dit hulle kondisie moet regdeur die jaar tip-top wees?

Dr Klaas-Jan Leeuw, ‘n navorser in vleisbeesvoeding by die Landbounavorsingsraad (LNR) beantwoord dit soos volg: “Daar is bevind dat prikkelvoeding slegs rondom die dekseisoen voorsien moet word. Die aanbeveling is om vier tot twee weke voor die dekseisoen te begin, tot ongeveer vier weke in die dekseisoen. Om langer met prikkelvoeding aan te hou terwyl die manlike diere nog by die vroulike diere loop, sal van min waarde vir die manlike diere wees en kan boonop ook buiteseisoensparing bevorder.”

Hy meen dat indien ’n mens by die aanbevole tydperk van prikkelvoedingtoediening hou, die meeste vroulike diere gedek sal word. “Daar is wel ’n redelike hoeveelheid produsente wat twee siklusse vir hul vroulike diere bestuur – met ander woorde, ’n ses- tot sewe-weke dekseisoen om die kans op dragtigheid te verbeter.”

Dragtigheidstydperke

Baie produsente het nie toegang tot talle beweidingskampe nie en daarom loop die manlike diere heeljaar by die vroulike diere. “Dit beteken dat die vroulike diere regdeur die jaar dragtig kan raak, hoewel skape meer seisoensgebonde is en dragtigheid minder algemeen buite die normale dragtigheidstydperke voorkom,” sê dr Leeuw.

“By beeste kan die koeie regdeur die jaar dragtig raak, wat beteken kalwers kan ook gedurende herfs en winter gebore word wanneer daar onvoldoende kos is om optimaal melk te voorsien. Dit kan die kalwers se groei belemmer en daartoe lei dat hulle baie ligter speen as kalwers wat in November gebore en in Mei gespeen word. Daarom is dit belangrik om al jou diere deurgaans in goeie kondisie te hou.”

Dr Leeuw glo prikkelvoeding is nie noodwendig die antwoord as jou diere nie op standaard is nie – oorweeg dan eerder goeie byvoeding. “Dit bestaan gewoonlik uit produksielekke en kan gedurende die droë seisoene met proteïenlekke afgewissel word om die veld beter te benut.”

Hy maan egter dat volwasse koeie wat minder as 65% van hul potensiële volwasse massa weeg, gewoonlik moeilik of glad nie dragtig sal raak nie.

Riglyne vir prikkelvoeding

1. Ooie wat met paring in massa toeneem, is meer geneig om twee- en meerlinge te produseer as dié wat net massa handhaaf of verloor. Ooie moet in ’n goeie kondisie (3,5KP) met die aanvang van die paarseisoen wees. Die beste resultate word verkry deur ooie twee maande voor die paarseisoen in spaarkampe te plaas en daarna prikkelvoer te gee.

2. Ooie wat kunsmatig gesinkroniseer word moet vir drie weke prikkelvoer kry, vanaf 14 dae voor hulle kunsmatig geïnsemineer of gepaar word, tot sewe dae nadat hulle geïnsemineer is.

3. Ooie wat met koggelramme gesinkroniseer word, moet vir vier weke prikkelvoeding ontvang, vanaf 14 dae voor die ramme bykom, tot twee weke nadat die koggelramme uitgehaal is.

4. Ooie wat nie gesinkroniseer word nie moet vir ses weke prikkelvoeding ontvang, vanaf 14 dae voor die ramme bykom, vir vier weke lank.

5. Ooie wat in die vorige jaar tweelinge gelam het, reageer die beste op prikkelvoeding (Tabel 1). Gee slegs prikkelvoeding aan die ooie wat bekend is vir meerlinge en wat self een van ’n meerling is.

Jong ooie wat vir die eerste keer gepaar word, moet almal prikkelvoeding ontvang. – Carin Venter, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak
Jan Louis Venter by 083 650 1131 of jlventer@intekom.co.za, of
dr Klaas-Jan Leeuw by 072 567 4089 of kleeuw@arc.agric.za.