In die rooivleisbedryf is longsiektes een van die grootste kontantvreters in die boerdery. Daarom is dit altyd beter om voorkomend op te tree, siektes reg te identifiseer en die regte behandeling toe te pas.

Read it in English.

Longkwale by beeste word hoofsaaklik deur respiratoriese virusse veroorsaak, wat die dier se asemhalingstelsel primêr beskadig. Bakterieë rig dan verdere skade aan, wat longontsteking tot gevolg het. Verskeie omgewingsfaktore dra by tot die voorkoms van longontsteking, soos die speenproses, vervoer van diere, saamvoeging van diere uit verskillende geografiese omgewings, stof in die lug, wisselende dag- en nagtemperature en ’n swak immuunstelsel by kalwers.

Ernstige longontsteking veroorsaak groot ekonomiese verliese weens onder andere gewigsverlies en die koste van antibiotiese en ondersteunende behandeling.

Stres- en omgewingsfaktore

Longontsteking is, naas diarree, veral in voerkrale en kalfhokke een van die grootste probleme. Behalwe omgewingsfaktore wat hier ’n groot rol speel, is daar ook verskeie stresfaktore wat aanleiding tot dié siekte kan gee.

Dr Pamela Hunter, ’n veearts en kundige op die gebied van longkwale by diere, sê kalfhokke met swak ventilasie en waarin die humiditeit hoog is, maak kalwers meer vatbaar vir longsiektes. “Wanneer die hokke nie gereeld skoongemaak word nie, irriteer die opbou van ammoniak die longe,” verduidelik sy.

Sy voeg by dat swak bestuur ook tot longkwale kan lei. Gevalle waar kalwers te vroeg gespeen word of in groepe geplaas word voordat hulle genoeg vaste kosse vreet, kan ook tot longontsteking aanleiding gee. “Die teendeel is egter ook waar. Om kalwers met melk of ’n melkvervanger te oorvoed, veroorsaak baie urien. Dan is die kalwers vir ’n groot deel van die dag nat en ongemaklik. Dit kan ook probleme skep.”

Algemene siektetekens

Dr Hunter sê beeste met longontsteking toon gewoonlik ’n koorsreaksie, ’n growwe haarkleed, neusuitloopsels, oë wat traan en moeilike asemhaling.

Sy verduidelik dat longontsteking dikwels op die ouderdom van ses tot agt weke, wanneer hul biesmelkimmuniteit teen respiratoriese mikroörganismes begin daal, by melkkalwers voorkom. “Sulke kalwers moet vinnig met antibiotika behandel word om goeie herstel te verseker. As die toestand kronies word, bly die kalwers swak groeiers en kan hulle nie as vervangingsverse gebruik word nie.”

Sy sê dat gangreneuse longontsteking gewoonlik voorkom as gevolg van die foutiewe dosering van middels of die inaseming van rumeninhoud wanneer diere met sekere siektes, soos melkkoors, op hul sye gaan lê. Siektetekens is in hierdie geval dat beeste een tot drie dae na die voorval koorsig begin raak en moeilik asemhaal.

Antibiotiese behandeling

Volgens dr Hunter is onmiddellike antibiotiese behandeling die beste behandeling indien beeste longkwale ontwikkel. “In die geval van gangreneuse longontsteking is die vrektesyfer gewoonlik hoog omdat bakterieë in die longe beland en die longweefsel weens die kieme letterlik afsterf. Wanneer daar ’n vermoede is dat kieme in die longe beland het, moet die dier onmiddellik met ’n breëspektrum antibiotikum behandel word en die veearts se hulp moet ingeroep word.”

Sy noem die volgende drie ‘moenies’ tydens dosering:

  • Moenie middels vinniger toedien as wat die bees kan sluk nie.
  • Moenie die bees se tong tydens dosering uittrek nie.
  • Moenie die bees se kop tydens dosering te hoog oplig nie.

Voorkomende optrede

Dr Hunter sê voorkomende optrede kan vir ’n produsent baie moeite en geld spaar. “Voorkoming word gedoen deur diere met kombinasie-entstowwe in te ent, asook die uitskakeling van faktore wat aanleiding kan gee tot infeksie. Dit sluit in om veilings te vermy, skuilings te verskaf, stof te beperk, die diere minder te hanteer en groepe beeste tot ’n getal van 200 te beperk,” verduidelik sy.

Tuberkulose is ook ’n belangrike oorsaak van longkwale by beeste in Suid-Afrika. Dié siekte veroorsaak besmetting van die longe en vermaering. Aangesien tuberkulose ’n beheerde siekte is, is dit verpligtend om diere te laat toets voordat hulle aangekoop word. Longwurm is ’n parasiet wat veral in koel, mistige gebiede langs die kus en in bergagtige gebiede voorkom. Besmetting met dié parasiet kan soos longontsteking lyk, maar die dier moet ontwurm word om dit doeltreffend te behandel.

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan dr Pamela Hunter by pete.pam@iafrica.com.

Boerbokmark, grain, acidosis, mikotoksiene
,hartwater, Dorpers, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom