Monday, March 10, 2025

2025 Riversdal-skou: Eg plattelands

Estimated reading time: 6 minutes

Riversdal-skou met sy tema “Eg Plattelands” is vanjaar vir die 157ste keer gehou en het ’n rekordgetal besoekers gelok. Dit was opvallend dat meer mense van buite ons distrik vir ons kom kuier het, het Pieter van Wyk, voorsitter van die Riversdal Landbougenootskap, na afloop van die skou gesê.

Van Wyk het Plaas Media bedank vir sy betrokkenheid by die skou en die blootstelling wat vooraf aan die skou gegee is. “Die voorafbemarking deur Plaas Media, wat die skou se mediaborg was, het definitief ’n uitwerking op die getalle gehad.”

Die skou se program was propvol hoogtepunte en het afgeskop met ’n Groetmekaar-geleentheid waarheen meer as 300 vertoners, borge, uitstallers en beoordelaars genooi is.

Demper op beeste

Van Wyk het gesê bek-en-klouseer het weer vanjaar ’n demper op die Jersey- en die vleisbeesskou geplaas. Telers het minder diere na die skou gebring, maar die diere wat hulle gebring het, was van uitstaande gehalte.

Ses Jersey-telers met 30 beeste het aan die Suid-Kaap Jersey-kampioenskappe deelgeneem. Andrew Masterson, die hoofbeoordelaar van die Jerseyskou, het gesê die gehalte van die diere wat aan die kampioenskappe deelgeneem het, was baie goed.

Die grootkampioen-Jerseykoei, Avondrood Knockout Marco (EGX 1832), is deur Nikkie (links) en Jaco van Rensburg (tweede van regs) van Avondrood Jerseys, George, ingeskryf. Saam met hulle is Andrew Materson en Hanro Uys, onderskeidelik die senior en junior beoordelaar, en Klonkie van Vuuren, die hanteerder. Die koei was ook die senior kampioenkoei en die senior koei met die beste uier.

“Die wenners was baie eners, met goeie suiweleienskappe, uitstekende uiers en goeie beweging. Die koeie is aanpasbaar en sal onder enige boerderytoestande, hetsy op weidings of in ’n volvoerstelsel, hul kant bring”, het Masterson gesê.

Altesame nege vleisbeesrasse het vanjaar aan die vleisbeesskou deelgeneem. Die hoogtepunt was die aanwys van die opperste kampioen manlike en vroulike dier van die skou. Masterson, wat ook die hoofbeoordelaar van die interraskompetisie was, het gesê die beeste wat aan die interras deelgeneem het, was puik diere.

Hy het op die belangrikheid van skoue gewys. “As daar nie skoue is nie, sal die publiek nie besef waar vleis of melk vandaan kom nie. Dit is ’n manier om die publiek nader aan die boer en nader aan die landbou te bring. Ons moet sorg dat skoue aanhou groei,” het Masterson gesê.

Die vleisbeeste se opperste kampioen vroulike dier is die Swart Anguskoei, LVR 1817. Sy is die eiendom van Leon van Rooyen en Andrew Moolman van Spoor Angusstoet, George. Die koei is as die senior kampioenkoei in die interraskampioenskappe aaangewys. Van links is Jean Higgs, areabestuurder van Nestlé (borg); die beoordelaars, Andrew Masterson en Francois Potgieter; Leon van Rooyen; Andrew Moolman; en Freddie Malgas, die hanteerder.

Merinoram van die Jaar

Riversdal-skou het vanjaar vir die eerste keer ’n Wes-Kaapse Merinoram van die Jaar aangewys. Die Suid-Kaap Merino-kampioenskap het vanjaar 18 Merino-telers met meer as 200 diere gelok. ’n Ram van Adriaan Geldenhuys van Uitkyk Merino’s, Riversdal, is as die eerste Wes-Kaapse Merinoram van die Jaar aangewys.

Die Wes-Kaap Merinoram van die Jaar is deur Adriaan Geldenhuys van Uitkyk Merino’s, Riversdal, vertoon. Die ram was ook Riversdal-skou se grootkampioen-ram en die ram met die beste bouvorm. Die hanteerder is Charlie Pietersen.
Die grootkampioen-Merino-ooi behoort aan Arto Saayman, JA Saayman en Seun van Platkop Merino’s, Riversdal. Die ooi is ook aangewys as die ooi met die beste vag. Die hanteerder is Stoney Soko.

Boerbokskou bars uit nate

Die groot- en junior kampioen-Kalahari Red-ooi is die eiendom van Nico Prinsloo van Ratelbos Kalahari Reds, Stilbaai. Die hanteerder is Emanuel Mave. Prinsloo het ook die groot- en junior kampioen-Kalahari Red-ram vertoon.

Die Wes-Kaap Boerbok- en Kalahari Red-kampioenskappe was so gewild dat daar nie genoeg plek vir al die diere was nie en van die inskywings moes weggewys word. Altesame 16 telers met 350 bokke het om die kampioenskappe meegeding.

Andries Vollgraaff, een van die beoordelaars, het gesê die Boerbokskou is vanjaar vir die vierde jaar op Riversdal aangebied. In die vier jaar, het die gehalte van die diere merkbaar verbeter. Die getalle wat ingeskryf word, wys ook op die gewildheid van Boerbokke dwarsoor die land.

Die groot- en senior kampioen-Boerbokram behoort aan Mac Hendrik Jordaan van Jourdan Boerbokstoet, Porterville. Van links is die beoordelaars, Andries Vollgraaff en Baksteen Marais; Mac Hendrik Jordaan; en Migiel Flink, die hanteerder.
Die groot- en senior kampioen-Boerbokooi is deur Gerrie Ferreira van Karoo Livestock Studs, Oudtshoorn, ingeskryf. Van links is Gerrie en Liza Ferreira, en Marco Stefaas, die hanteerder.

Twee skape in 53 sekondes geskeer

Hans van Schalkwyk van DG Snyman Skeerdienste was die wenner van vanjaar se spoedskeerkompetisie op Riversdal. Van Schalkwyk het in die eindrondte twee skape in net 53 sekondes afgeskeer. Hy het prysgeld van R10 000 ontvang.

AJ van Wyk, organiseerder van die spoedskeerkompetisie, het gesê 20 van die land se beste spoedskeerders het vanjaar aan die kompetisie deelgeneem. Die skeerders het in uitkloprondtes teen mekaar meegeding. In die uitkloprondtes moes die skeerders enkelskape so vinnig as moontlik skeer, maar moes waak teen foute wat hulle outomaties gediskwalifiseer het.

Spesiale klem op jeug

Volgens Pieter van Wyk, kry die jeug kry spesiale aandag tydens die skou met ’n jeugskou en ’n massa atletiek-aflos waaraan verskeie skole, landbouverenigings en senior spanne deelneem. By die jeugskou het die kinders in drie ouderdomsgroepe (junior-junior, junior en senior) in die volgende klasse deelgeneem: Kleinvee (skape en bokke), pluimvee, perde, kulinêre kuns, suiwelbereiding, konyne, suiwelbeeste, en vleisbeeste.

Ander afdelings op die skou was ’n pluimveeskou (sowat 350 pluimvee), ’n Boerboelskou, ‘n perdeskou en die NWKV-skaapskeer- en wolhanteringskompetisie. – Hugo Lochner, Plaas Media

Must read

Jongste inligting help boere voor planttyd

Estimated reading time: 5 minutes Overberg Agri het onlangs sy jaarlikse voor-plant inligtingsdag by Rietpoel naby Caledon in die Suid-Kaap gehou. Meer as 200 boere...

2025 Swellendam-skou: Skou tot voordeel van gemeenskap

Estimated reading time: 7 minutes Die 193ste Swellendam-skou, wat vanjaar van 27 Februarie tot 1 Maart gehou is, was ten spyte van die erge reën...

Katoen-verwysingsprys: Week van 3 tot 7 Maart

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee....
RSG Landbou, skaapstelsel

RSG Landbou: 10 Maart 2025 – geborg deur BKB

Die Nasionale Dohne Merino-veiling, wat op 1 Februarie in Bloemfontein aangebied is, kan met ‘n 100%-verkoopsyfer spog en volgens Vaughn Collier, is goeie pryse...

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse word weekliks aan u gebring deur Absa en die RPO. Neem kennis dat hierdie nie...