Zimbabwe wil weer mielies hê

Estimated reading time: 4 minutes

Suid-Afrikaanse mielieprodusente en -handelaars het op 19 Oktober ’n verassing gekry toe die Zimbabwe-owerhede weer invoerpermitte vir die aankoop van mielies, koring, oliesade, en ander landbouprodukte, begin uitreik het.

Die owerhede van Zimbabwe het vir ’n tyd lank nie invoerpermitte uitgereik nie om plaaslike produsente, meulenaars, en ander rolspelers te ondersteun deur eers plaaslik vervaardigde produkte te gebruik.

Zimbabwe ondersteun plaaslik

Dr André van den Vyver, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Graan- en Oliesadehandelaars (Sacota), verduidelik dat baie lande hul plaaslike produkte eerste verbruik, maar dat internasionale handelsreëls bepaal watter beskerming teen invoere toegelaat word. Dit het gewoonlik ook ’n sekondêre impak op verbruikerspryse.

Hy sê Zimbabwe het, soortgelyk aan Suid-Afrika, ook ’n goeie reënjaar gehad en kan na verwagting ’n goeie oes lewer, maar baie van die mielies wat in landelike gebiede geproduseer word, word vir eie gebruik teruggehou. Volgens Van den Vyver beteken die voorkeur vir plaaslike produksie nie noodwendig dat invoere verbied word nie, al lyk die praktiese uitkoms soms dieselfde.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê hoewel dit na ’n wonderlike idee lyk om jou plaaslike boere eerste te ondersteun, is die mielie-oes in Zimbabwe nie voldoende om in die binnelandse behoefte te voorsien nie. Hy reken dit beïnvloed die verbruikerprys omdat mielies wat uit Suid-Afrika ingevoer word, aansienlik goedkoper is.

Volgens Sihlobo produseer ­Zimbabwe jaarliks gemiddeld 1,3 miljoen ton mielies per jaar, maar die behoefte vir menslike gebruik is nader aan 2 miljoen ton. Die Zimbabwe-regering het voorspel dat hulle vanjaar sowat 1,8 miljoen ton gaan oes, maar volgens Sihlobo dui alle tekens daarop dat die oes nie groter as die gemiddeld wat elke jaar ingebring word gaan wees nie. Die regering het kort na die bekendmaking van die verwagte oes ook aangekondig dat invoerpermitte uitgereik gaan word, wat ’n goeie aanduiding is dat die verwagte oes nie aan die binnelandse behoefte gaan voldoen nie.

Mieliehandelaars was voorbereid

Dit is onseker of die sogenaamde verbod op mielie-invoere reeds lankal stilweg opgehef is. Dr van der Vyver sê Suid-Afrika het tussen Mei en September vanjaar reeds sowat 44 000 ton witmielies en 33 500 ton geelmielies na Zimbabwe uitgevoer. Dit is egter eerder ’n aanduiding van ‘ou permitte’ wat nog geldig was.

Sedert invoerpermitte weer aan handelaars uitgereik is, word verwag dat ongeveer 1 miljoen ton mielies in die komende maande na Zimbabwe uitgevoer sal word. Weens beperkte inligting sal dit eers mettertyd blyk wat die werklike getalle is.

Sihlobo sê Suid-Afrikaanse handelaars was nie juis verbaas oor die afwesigheid van nuwe invoerpermitte nie aangesien hulle geweet het dat Zimbabwe eers sy eie mielies verbruik, maar ook voorspel dat daar nie genoeg mielies geproduseer is nie. Suid-Afrikaanse handelaars hiervoor het voorsiening gemaak, en is nou gereed om die uitvoere te hervat.

Minister van Landbou sien geleenthede

Suid-Afrika se minister van landbou, John Steenhuisen is baie positief oor die nuus dat die Zimbabwiese regering weer invoerpermitte gaan uitreik en sien dit as ’n goeie aanduiding dat voedselsekerheid in Suider-Afrika gehandhaaf kan word.

“Om die vloei van mielies tussen lande toe te laat – veral witmielies wat ons mense op die vasteland as ’n stapelvoedsel gebruik – is nie net voordelig vir al die lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) nie, maar gee ook ’n duidelike sein van vertroue aan ons landbou-ondernemings en uitvoerders wat belegging en uitgebreide produksie aanmoedig. Dit verseker dat lande wat ’n oorskot het, geredelik aan die behoeftes van hul buurlande kan voldoen,” het minister Steenhuisen gesê.

Volgens hom bly Suid-Afrika se Nasionale Departement van Landbou (NDA) verbind tot samewerking met al die streeksvennote om regverdige, oop en doeltreffende handel in landbouprodukte te bevorder – ’n sleutel tot volhoubare groei en armoedeverligting in Suider-Afrika.

Volgens Sihlobo het Suid-Afrika  vir die 2025/26-bemarkingsjaar reeds 729 690 ton mielies uitgevoer. Dit is baie minder as die verwagte 2,2 miljoen ton. Hy sê ’n groot gedeelte van die uitvoere gaan gewoonlik na Zimbabwe. Die res word versprei na die Suider-Afrika streek, asook Venezuela, Sri Lanka en Taiwan.  – Koos du Pisanie, Plaas Media

Related

Government and ARC gives update on FMD vaccine numbers

Estimated reading time: 3 minutes The Agricultural Research Council (ARC) confirmed on 1 April that it has released another 20 000 doses of locally produced foot-and-mouth...

26th AFSTA Congress: Empowering Africa’s future, one seed at a time

Estimated reading time: 6 minutes Seeds are not just agricultural inputs; they embody our future, the promise of a resilient Africa in the face of...

Meet the new NAMC board

The minister of agriculture, John Steenhuisen, recently announced the appointment of ten new members to the National Agricultural Marketing Council (NAMC). These members will...