Wednesday, October 16, 2024

Koershou met Hennie

Met trots geborg deur Toyota SA.

Wees lief vir jou motor

Estimated reading time: 4 minutes

“Waarom poets Mbali ons Stout se wiele blink?” vra Gert toe hy ’n handvol kwitansies op haar lessenaar neersit.

Gert is die plaaswerktuigkundige en is voortdurend in die moeilikheid by Mbali, ons regte egte Zoeloe-prinses, veral wanneer sy die somme moet laat moet klop.



“Dis vir een of ander foto-uitstalling,” antwoord ek, terwyl ek die sigblad wat ek gebruik om tred te hou met elke skaap op die plaas, fyn bestudeer.

Dit is nie naastenby so gesofistikeerd soos sommige landboumaatskappye se presisieboerderystelsels nie. Ek het my skaapbestuursplan gegrond op die agt-maande program wat deur Manie Wessels van die Mamre Dormer-stoet ontwikkel is. Ek het basies hulle stelsel met behulp van my eie formules aangepas.

“Wat kan sy wen?” vra Gert uit die kombuis waar hy wag dat die ketel kook.

“Wat kan wie wen?” vra ek, heeltemal verlore in die ontleding van my toppresterende ooie.

“Mbali. Met hierdie fotokompetisie. Met ons Stout,” sê Gert terwyl hy sy koffie probeer koud blaas.

“Weet nie, vra haar, sy kom netnou in,” antwoord ek terwyl ek die skootrekenaar met die klein syfertjies toemaak om my oë ‘n ruskans te gee. “En dit is my Stout, nie ons Stout nie,” voeg ek by.

Gert het die ou Toyota Stout waarin ek basies grootgeword het, pragtig gerestoureer en wil dit nou op al wat motorversamelaar is se webtuistes adverteer.

“Wat dink julle?” sê Mbali toe sy by die deur inwaai met my enkellens-reflekskamera in die hand.

Lees meer oor die kenmerke van ‘n goeie plaasbakkie.

Die foto-prinses

Gert stik in sy koffie, en ek gaap haar net aan. Ons kantoorprinses is van kop tot tone uitgedos in tradisionele krale wat alles behalwe haar wit rok bedek. Sy dra ’n paar werkstewels wat op die een of ander manier daarin slaag om heel goed by haar modemengsel in te skakel.

“Nee jinne, Mbali, daardie rok maak skaars die waterlyn toe,” sê Gert.

“Wees net bly ek het dit aan,” sê Mbali. “Ek wou eers heeltemal tradisioneel gaan, met net die krale en ’n klein voorskoot soos tydens die Rietdans,” lag sy, terwyl sy en haar krale in die rondte draai.

“Maar ernstig nou, sê vir my van watter foto hou jy die meeste. Ek moet dit vanaand instuur.”

“Kan ons ons Stout vir baie geld verkoop as jy wen?” vra Gert.

“Ek sê weer, dis my Stout, nie óns Stout nie, en ek verkoop dit nie. En moenie na Gert luister nie, jy lyk pragtig,” sê ek vir Mbali en voeg by, “maar hy het ’n punt. Wat kan jy wen, jy en al daardie krale langs my Stout?”

Gesoek: Jy en jou gunsteling motor

“Dis net ’n prettige kunsprojek saam met my Japannese bestie. Maar as jy aandring op ’n rede om mooi te lyk, die Toyota-motormuseum het mense gevra om foto’s te neem van hulleself by die motors waarvan hulle hou. Hulle sê hierdie uitstalling sal ‘besoekers help om ’n meer sinergistiese verhouding tussen mense en motors in ’n diverse wêreld voor te stel’,” sê Mbali terwyl sy op haar rekenaarskerm lees.

“Beplan jy ‘n besoek aan Japan?” vra ek.

“My vriendin in Japan is ’n kunsonderwyser. Sy sê sy sal my foto na die museum toe vat, want dan kan sy teen halfprys ingaan. Maar wanneer ek wel eendag self daar besoek aflê, is ek seker my foto sal teen die muur wees.”

“Jy kan vir seker maar teen ‘n muur pryk, want hierdie foto is nogal goed,” sê ek terwyl ek kyk na die een wat sy met die selfontspanner geneem het. Sy het die kamera op die watertrog in die hanslammers se hok gebalanseer. Op die voorgrond is nabyskote van verskeie lammerkoppe wat almal na die mens langs die bakkie kyk.

“Mooi, ek sal dan daardie een stuur,” sê Mbali terwyl sy die kamera by my vat. “Die uitstalling duur tot 1 Desember, maar dit begin volgende week, so ek sal moet spring.”

“Dieselfde geld vir die kaartjiebesprekings vir die Lamb Champs-fees op Graaff-Reinet op 14 Desember. Koop dit sommer terwyl jy op die rekenaar besig is. Dis dalk ‘n entjie soontoe, maar ons moet gaan proe of Maluti-skaapvleis regtig soeter as ons s’n is,” sê ek.

“En as jy in daai uitrusting opdaag, gaan jy beslis die Mej Reitz-titel wen,” sê Gert.

Die Hilux GR-S III is hier

Die legendariese Toyota Hilux bereik nuwe hoogtes van prestasie, ritgerief en indrukwekkende voorkoms met die Hilux GR-S III. Die Hilux GR SPORT III bou voort op sy vele Dakar Rally-oorwinnings en bereik 'n nuwe vlak vir Toyota se baanbrekerbakkie, wat al sedert 1968 'n reputasie vir ongeëwenaarde duursaamheid en betroubaarheid geniet.