Dit gebeur dikwels dat ’n produsent of sy voedingkundige ’n ontleding van sy kuilvoer laat doen. Wat sê kuilvoerontledings vir ons?

In die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie, word ook ’n baie volledige voedingswaarde-ontleding gedoen. ’n Paar ekstra parameters word selfs gemeet om die kuilvoer se gehalte beter te beskryf.

Read it in English.

Wat kan ’n mens met al dié syfers maak? Dit is uiters waardevol om jou se kuilvoer te meet en in die toekoms te verbeter, mits jy jou kuilvoerontledings reg vertolk.

Afhangende van die ontleding wat gedoen is, kan voedingsaspekte soos ’n baie basiese droëmateriaal (DM), proteïen, stysel en vesel ondersoek word. ’n Meer komplekse ontledingsverslag kyk ook na die vlak van minerale, veselfraksies, stysel- en proteïen-degradeerbaarheidstempo’s en selfs die fermentasieprofiel.

Belangrike parameters

Die belangrikste inligting in enige ontleding is egter relatief en hang af van die aanwending van die voer, die voedingkundige se benadering, die heersende markpryse van mielies en proteïenbronne, asook die hoeveelheid wat beskikbaar is. Daar is dus nie ’n kort antwoord om te sê watter kuilvoer die beste is nie.

Die formules wat in die Nasionale Kuilvoerkompetisie gebruik word, kyk na meer as 25 verskillende parameters in ses evaluasiegroepe, waar al die waardes ’n relatiewe gewig dra, om uiteindelik ’n punt uit 100 aan die betrokke kuilvoer toe te ken.

Heelwat afleidings kan van ’n paar belangrike parameters gemaak word en ’n vinnige vergelyking kan dan tussen twee kuilvoere getref word. Stysel in mieliekuilvoer is byvoorbeeld een van die eerste syfers waarna almal se oë dwaal wanneer ’n mens jou ontledings terug ontvang van die laboratorium af. ’n Mens is geneig om bly te wees oor hoër stysel, want mieliekuilvoer se groot rol en bydrae is tog op die gebied van stysel.

Verteerbaarheid en benutbaarheid

’n Mens moet altyd onthou dat hoër styselvlakke meestal met droër kuilvoer gepaardgaan, wat dus later gesny is toe die plante meer volwasse was. Dit beteken meestal dat die vesel, veral die swak verteerbare komponente, ook hoër is. Die totale prentjie van verteerbaarheid en gevolglike benutbaarheid is dus belangrik.

Lees meer oor die neem van kuilvoermonsters.

Wanneer ’n mens vroeg sny, is die stysel beslis laer omdat styselvorming nog nie voltooi is nie, maar die proteïeninhoud is dan effens hoër omdat die plant jonger was tydens snytyd.

Deeglike voedingsontledings kan dus vir iemand wat nie by was toe die kuilvoer gemaak is nie en nie self die kuilvoer gesien het nie, ’n baie goeie idee gee van wat in snytyd gebeur het.

Bestuur van kuilvoer

In die kompetisie word ook gekyk na verskeie parameters wat nie gereeld op plase geëvalueer word nie. So byvoorbeeld kyk die beoordelaars na kompaksie, aërobiese stabiliteit ná vyf dae en verlies aan organiese materiaal van die bunker se bolaag. Hierdie syfers gee ’n goeie aanduiding van hoe die bestuur tydens die maak van kuilvoer was.

Daar is natuurlik ook ’n korrelasie tussen hoe goed die kompaksie verloop het en hoe droog die kuilvoer was. Die data wys ongetwyfeld dat met genoeg moeite, ’n droë kuilvoer ewe doeltreffend gekompakteer kan word as ’n natter een, gemeet in kilogram droëmateriaal per kubieke meter.

Lees meer oor Shane Simpson se bobaas kuilvoer.

Swakker kompaksie, en dikwels ook onstabiele kuilvoer ná die vyf-dag aërobiese toets, toon korrelasies met die fermentasieprofiel, gemeet aan die pH (suurheidsgraad), vlugtige vetsure en melksuur. ’n Mens kan natuurlik kuilvoerontledings nog een stap verder voer en na die mikrobiologiese bevolkings van bv. giste en swamme kyk. Kuilvoerfermentasie is ’n bakteriese, anaërobiese proses en daarteenoor is die bederforganismes grootliks aërobies of ten minste van ’n hoër pH afhanklik.

Dit is dus duidelik dat kuilvoerontledings gereeld gedoen en dan verkieslik deur ’n geregistreerde dierevoedingkundige geëvalueer moet word. So kan ’n mens lesse leer uit wat optimaal en suboptimaal verloop het, tot voordeel van die boer en kuilvoerverbetering oor die lang termyn. – Richardt Venter