Estimated reading time: 7 minutes
- Meestal lê die antwoord voor jou en ’n bietjie meer waardetoevoeging tot die produk wat jy aanbied, kan vir jou nuwe deure oopmaak.
- ’n Lam wat gewoond is aan kruipvoer, is meer winsgewend.
- Hoewel al die lammers op dieselfde voerprogram gevoer is, het die resultate baie gewissel.
- Die lammers wat kruipvoer ontvang het, se marge bo voerkoste was gemiddeld 37,7% hoër as dié daarsonder.
- Hoewel die projek splinternuut is, het dit getoon dat Merinolammers, mits hulle reg voorberei is, glad nie onder voerkraalomstandighede vir enige ander rasse terug hoef te staan nie.
Almal wil graag meer geld verdien, maar dit is dikwels moeilik om te bepaal waar jy kan verbeter of bespaar. Meestal lê die antwoord voor jou en ’n bietjie meer waardetoevoeging tot die produk wat jy aanbied, kan vir jou nuwe deure oopmaak. Dit was een van die belangrikste gevolgtrekkings wat ’n groep skaapprodusente van die Hanover-omgewing tydens ’n interessante voerkraalprojek gemaak het.
Grant Naudé, president van Merino SA en ‘n Merino-produsent van Hanover, tesame met Kleintjie Retief, ook van Hanover, het die projek begin omdat hulle gevoel het produsente kan langer in die waardeketting bly. ‘n Produsent is die beginpunt van die waardeketting, maar sy ruimte om wins te maak raak al hoe kleiner.
Retief sê hy het al baie gehoor ’n mens kan nie winsgewend met ’n Merino boer nie. “Ek voel hierdie stelling moet eers ondersoek word, en as dit kostedoeltreffend is om te voer, moet ons bepaal watter soort skape gevoer moet word en watter bestuurspraktyke produsente moet volg om die regte diere in die voerkraal te kry. Dit is die eerste stap tot langer betrokkenheid in die waardeketting en die maklikste manier om meer winsgewend te boer.
“Gebruik die produk wat jy het en verbeter daarop. ’n Merinolam kan dieselfde groei in die voerkraal toon as enige ander lam. Dit is winsgewend om jou lammers kruipvoer te gee en indien jy dit doen, is dit nie die moeite werd om die lammers aan ’n voerkraal te verkoop nie. Jy kan hulle self afrond.”
Lees meer oor hoe ‘n goeie voerkraallam lyk.
Uitstekende resultate
Die projek het op 12 Januarie 2024 afgeskop en 37 produsente het 56 groepe van vyf lammers per groep ingeskryf. Die hulp van Danie van Zyl, ’n tegniese adviseur van De Heus, is ingeroep om te verseker dat al die lammers dieselfde voeding kry om aan die einde van die projek te bepaal watter diere die beste in die voerkraal presteer het. Daar was Merino’s, SA Vleismerino/Merino-kruisings, Dohne Merino’s, Dormers, Dormer/Merino-kruisings, en Suffolk/Merino-kruisings wat op die plaas van Hubert Ferreira geloop het. Dorpers het in ’n aparte toets by Ian Steenkamp geloop.
Teen die einde van die projek kon Van Zyl vir die boere verstommende resultate gee en hulle kon interessante afleidings daaruit maak. Die belangrikste is dat genetika en die ras waarmee jy boer, ’n kleiner rol speel as die ‘agtergrond’ of ‘opvoeding’ van die lam en die bestuurspraktyke wat toegepas word wanneer die lammers hanteer word. ’n Lam wat gewoond is aan kruipvoer, is meer winsgewend.
Naudé beklemtoon dat die afleidings wat hulle gemaak het nog maar uit een toets kom, maar hy glo baie van die inligting wat hulle hieruit gekry het hoef nie met ’n knippie sout geneem te word nie.
Voeding is belangrik
Hoewel al die lammers op dieselfde voerprogram gevoer is, het die resultate baie gewissel. Dit kan aan produsente se verskillende boerderypraktyke toegeskryf word. Die praktyk wat uitgestaan het, was kruipvoeding. Dit was duidelik dat die lammers wat kruipvoeding ontvang het, beter en vinniger aangepas het as die lammers wat nie kruipvoeding ontvang het nie.
Ter stawing is na die gemiddelde daaglikse toename (GDT) oor die eerste 17 dae van die projek gekyk. Die groep van vyf lammers wat die beste groei oor dié tydperk getoon het, het ’n gemiddelde GDT van 367g/dag behaal. Daarteenoor het die groep van vyf lammers wat die swakste groei oor die eerste 17 dae getoon het, ’n gemiddelde negatiewe GDT van 165g/dag behaal.
As gevolg van hierdie groot variasie in groei oor die eerste 17 dae, was daar toe reeds ’n verskil van ongeveer 9kg in groei tussen die beste en die swakste groep. Die Zilmax-rantsoen is spesifiek gebruik om vetneerlegging te beperk en eerder op spierbou te fokus. Die lammers is gedurende die projek vier keer geweeg. Die eerste weging was tydens inname, daarna 17 dae later en 28 dae later weer. Die laaste weging is 14 dae later geneem.
Die gemiddelde begingewig van die lammers was 32,56kg en die gemiddelde eindgewig, nadat hulle 58 dae gevoer is, was 46,66kg. Die lammers is ongeveer drie weke na inname geskeer, waartydens gemiddeld 1,3kg se wol afgeskeer is. Die lammers het gemiddeld 85,84kg voer gevreet. Hulle het gemiddeld 48,31% uitgeslag om by ’n gemiddelde kouekarkasgewig van 22,54kg uit te kom.
Tabel 1: Vordering oor 58 dae.
| Parameter | Gemiddelde waarde per lam |
| Begingewig | 32,56kg |
| Eindgewig | 46,66kg |
| Dae gevoer | 58 |
| Vaggewig | 1,3kg |
| GDT | 0,265kg |
| Voerinname per lam per dag | 1,48kg |
| % inname van liggaamsgewig | 3,74% |
| Voeromsetverhouding (VOV) | 5,58:1 |
| Kouekarkasgewig | 22,54kg |
| Uitslagpersentasie | 48,31% |
Lees meer oor kruipvoeding lei tot winsgewende skaapboerdery.
Wat beteken dit vir my beursie?
Van Zyl sê die gemiddelde beginwaarde van die lammers was R1 198,02. Die gemiddelde voerkoste was R591,44 per lam. Die gemiddelde waarde van die wol wat per lam afgeskeer is, was R163,55. Die gemiddelde karkasinkomste aan die einde van die projek was R1 893,36 per lam.
Die gemiddelde marge bo voerkoste was dus R267,45 per lam. Die produsente het dus heelwat meer vir hulle lammers gekry as om hul lammers as speenlammers aan ’n voerkraal te verkoop (Tabel 2). Alle water, voerrantsoene en skadu was vir al die lammers presies dieselfde.
Tabel 2: Geldwaarde.
| Parameter | Gemiddelde waarde per lam | Verduideliking |
| Beginwaarde | R1 198,02 | 32,56kg x R36,79 |
| Voerkoste | R591,44 | 85,84kg x R6,89 |
| Wolinkomste | R163,55 | 1,3kg x 73,53% x R171,10 |
| Karkasinkomste | R1 893,36 | 22,54kg x R84 |
| Marge bo voerkoste | R267,45 | R1 893,36 + R163,55 – R591,44 – R1 198,02 |
Alles begin by kruipvoer
Retief sê die lammers wat die beste in die voerkraal gevaar het, is dié wat van vroeg af geleer het om kruipvoer te vreet. Hierdie lammers se rumens is van jongs af ontwikkel om stysel en proteïen beter te verwerk. Hierdie diere se stresvlakke is ook heelwat laer, omdat hulle reeds aan mense en voerbakke gewoond is.
“Toe hulle in die voerkraal kom, was hulle nie skrikkerig vir die voerbakke nie en het hulle vinnig aangepas en geweet waar die kos is. Hulle het nie veel stres getoon nie, terwyl die wat nie gewoond was aan kruipvoer nie, eenkant gestaan het en nie wou vreet nie.”
Twaalf groepe lammers het kruipvoer geken by inname en 34 groepe was nie aan kruipvoer blootgestel nie. Die 12 groepe se marge bo voerkoste was gemiddeld R332,96 en dié wat nie blootgestel was nie, was R241,77. Dit is ’n verskil van gemiddeld R91,19 per lam. Die lammers wat kruipvoer ontvang het, se marge bo voerkoste was gemiddeld 37,7% hoër as dié daarsonder.
Waarde van die wol
Naudé sê hulle het ook die waarde van die wol van die lammers bepaal. In die tydperk wat die lammers in die voerkraal was, kon hulle eenkeer geskeer word. Die gemiddelde vaggewig was 1,3kg. Die groep met die laagste gemiddelde vaggewig was 740g (nie suiwer Merino). Die groep met die hoogste gemiddelde vaggewig was 1,83kg (suiwer Merino).
Die Every Fleece Tested-metode is gebruik en ’n monster is van elke vag geneem en gemeet om die waarde van die wol te bepaal. Die Merino-lammers het gemiddeld 1,36kg geskeer, dus R176,55 per lam. Die kruisraslammers het gemiddeld 809g wol afgeskeer wat dan R92,39 per lam was. “Die ekstra inkomste van ’n Merinolam help om jou wins in die kraal te verbeter.”
Lesse geleer
Retief sê hulle het geleer dat jy kruipvoer moet gebruik sodat die lam gereed is vir die voerkraal wanneer jy hom wil verkoop. Voerkrale verkies lammers wat gewoond is aan kruipvoer en as jy jou lammers self kan voer, is dit nog meer winsgewend.
“Baie produsente sê die koste van die voer kanselleer die beter prys wat jy vir die lam gaan kry uit, maar die wins sal tog groter wees as jy jou diere vir ’n rukkie kan voer en ’n groter karkas kan verkoop.”
Goeie seleksie is ook belangrik. Deur goeie seleksie kan jy topgehalte lammers aanbied wat vir jou ’n premie kan besorg. “Ons selekteer al hoe meer vir ’n vroegryp skaap omdat sy op die lang duur vir jou meer geld inbring.”
Hoewel die projek splinternuut is, het dit getoon dat Merinolammers, mits hulle reg voorberei is, glad nie onder voerkraalomstandighede vir enige ander rasse terug hoef te staan nie. In hierdie projek het lammers wat goed voorberei is goed presteer, ongeag die ras. – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Grant Naudé by 076 700 3855.