Vrae oor John Hume se arrestasie

Estimated reading time: 4 minutes

Onderwyl die inhegtenisneming en vervolging van John Hume (83), wêreldbekende renosterbewaarder, wyd aandag kry in die internasionale nuusmedia, duik talle vrae by onafhanklike Suid-Afrikaanse wildbewaringsorganisasies en vooraanstaande wildboere op oor wat werklik gebeur het.

Hume en vyf ander verdagtes het op 19 Augustus vanjaar in Pretoria in die hof verskyn. Hulle word daarvan beskuldig dat hul glo by ’n internasionale renosterhoringsmokkelnetwerk betrokke was en daar is ook verskeie ander aanklagtes wat daaruit voortspruit.

Die beskuldigdes is op borgtog vrygelaat en moet weer op 9 Desember in die hof verskyn. Hume se borgtog is op R100 000 vasgestel en die beskuldigdes moes hul paspoorte inhandig.

Die staat beweer daar is 964 renosterhorings ter waarde van sowat R250 miljoen by die saak betrokke. Permitte is glo uitgereik om die horings plaaslik te verhandel, maar dit is uiteindelik na die swartmark in Suidoos-Asië gesmokkel.

Stemme van protes teen vervolging

Die privaat bewaringsorganisasie, True Green Alliance, het in ’n verklaring gesê hulle staan bankvas agter Hume en dat hierdie internasionale ikoon van renosterbewaring onskuldig is totdat die aanklagtes teen hom bewys kan word.

Die verklaring stel die kernvraag: Waaraan is hy skuldig? Hume het nie renosters gestroop, gesteel of doodgemaak nie. Inteendeel, hy het die renosters geteel wat vandag gebruik word om spesie te hervestig in gebiede waar hulle uitgewis is as gevolg van die owerheid se onvermoë om hul te beskerm.

Sonder die miljoene rande wat hy die afgelope dekades belê het, sy opoffering en visie sou Suid-Afrika en die wêreld vandag baie minder van dié ikoniese diere gehad het om te beskerm. In plaas daarvan om sy ongeëwenaarde bydrae te eer, word hy vervolg as gevolg van die staat se mislukking.

Teiken staat wildboere?

Die minister van Omgewingsake, Dion George, en sy departement verkies om eerder wildboere te teiken oor administratiewe foute en tegniese punte, terwyl die stropingsindikate wat die werklike misdadigers is, amok maak in die land se wildtuine, lui die verklaring.

Internasionale nuusmedia het breedvoerig berig oor die inhegtenisneming en hofverskyning van die beskuldigdes. In ’n berig deur die BBC sê Hume dat hy niks het om weg te steek nie en dat hy jare lank met die ondersoekspan saamgewerk het. Hoewel die beskuldigdes nie gevra is om te pleit nie, sê hy in die onderhoud dat hy alle aanklagtes teen hom verwerp en dat hy nie iets onwettigs gedoen het nie. Hy glo die waarheid sal in die hof ontbloot word.

Van ontwikkelaar tot bewaarder

Hume, ’n voormalige vakansieoord-ontwikkelaar, het in die 1990’s naby Malelane in die Laeveld met wild begin boer, en het uiteindelik die grootste kudde witrenosters in die wêreld opgebou. Nadat die risiko van renosterstropery op dié plaas wat digby die grens van Mosambiek, Swaziland en die Nasionale Krugerwildtuin geleë is, te groot geword het, het hy sy renosters na Noordwes in die omgewing van Klerksdorp verskuif.

Uiteindelik het die koste om die Platinum-renosterkudde van 2 000 diere – met nagenoeg 200 kalwers wat jaarliks aangekom het – te veel geraak en het hy al die renosters in September 2023 aan die nie-regeringsorganisasie, African Parks, verkoop. Na raming maak dié diere sowat 15% van die wêreld se oorblywende renosterbevolking uit – naastenby gelykstaande aan die totale renosterbevolking in die Nasionale Kruger Wildtuin.

Suid-Afrika huisves altesaam 80% van die wêreld se renosters en is ook die land waarin die meeste renosters gestroop word. Aan die einde van 2020 was daar 2 809 renosters in die Krugerwildtuin. In die tweede helfte van 2022 was daar net 2 458 oor. Daar word ten minste een renoster per dag in Suid-Afrika doodgemaak.

Renostereienaars het die horings van hul diere begin afsaag om dit onaantreklik te maak vir stropers. Die afgesaagde horings is deur die eienaars geberg. Hoewel die horings plaaslik verhandel mag word, mag dit glad nie uitgevoer word nie.

Internasionale dierewelsynorganisasies het saam met minister George die inhegtenisneming geloof as ’n reuse deurbraak vir renosterbewaring en dit as ’n knou vir onwettige handel in renosterhoring beskryf, ondanks die feit dat niemand nog skuldig bevind is nie. – Andries Gouws, Plaas Media

Related Posts

Government and ARC gives update on FMD vaccine numbers

Estimated reading time: 3 minutes The Agricultural Research Council (ARC)...

26th AFSTA Congress: Empowering Africa’s future, one seed at a time

Estimated reading time: 6 minutes Seeds are not just agricultural...

Meet the new NAMC board

The minister of agriculture, John Steenhuisen, recently announced the...

Artikel 10-skema moet nou dringend in werking tree

Estimated reading time: 5 minutes Die Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging (SAVA),...

Section 10 scheme needs to get off the ground urgently

Estimated reading time: 5 minutes The South African Veterinary Association...

Citrus export estimates show moderate growth

Estimated reading time: 4 minutes Despite the conflict in the...