Voorbereiding vir ’n dissiplinêre verhoor

17

Estimated reading time: 4 minutes

  • Werkgewers moet seker maak wat van hulle verwag word voor en gedurende ’n dissiplinêre verhoor.
  • Dit is belangrik dat die werkgewer ten volle voorbereid is sodat alle relevante feite, dokumentasie, bewyse en getuienis tydens die verhoor beskikbaar is en aan die voorsittende beampte gebied kan word.
  • ’n Volledige ondersoek moet ingestel word en soveel as moontlik inligting en bewyse moet ingesamel word oor die wangedrag.
  • Die dissiplinêre kode en/of beleid wat in die werksplek van toepassing is, is uiters belangrik. Die kode en/of beleid verskaf die riglyne oor wangedrag of oortredings in die werksplek.
  • Dit is die werkgewer se verantwoordelikheid om die voorsittende beampte te oortuig, op ’n oorwig van waarskynlikhede, dat die werknemer skuldig is aan die wangedrag of oortredings waarvoor die werknemer aangekla is. Onthou dat die voorsittende beampte se doel is om elke party se weergawe aan te hoor en dan as ’n onpartydige party ’n beslissing daaroor te maak.

Werkgewers moet seker maak wat van hulle verwag word voor en gedurende ’n dissiplinêre verhoor. Dit is belangrik dat die werkgewer ten volle voorbereid is sodat alle relevante feite, dokumentasie, bewyse en getuienis tydens die verhoor beskikbaar is en aan die voorsittende beampte gebied kan word.

’n Aantal aspekte moet in gedagte gehou word.

Ondersoek

Wanneer wangedrag voorkom of ’n vermoede van wangedrag bestaan, moet dit ondersoek word. ’n Volledige ondersoek moet ingestel word en soveel as moontlik inligting en bewyse moet ingesamel word oor die wangedrag. Hou volledig rekord van alle inligting wat ingesamel word.

Dissiplinêre kode en/of beleid

Die dissiplinêre kode en/of beleid wat in die werksplek van toepassing is, is uiters belangrik. Die kode en/of beleid verskaf die riglyne oor wangedrag of oortredings in die werksplek. Die dissiplinêre kode maak voorsiening vir die toepaslike prosesse wat gevolg moet word, asook die klagtes wat teen die werknemer gebring kan word.

Klagtes

Toepaslike klagtes moet ooreenkomstig die werksplek se dissiplinêre kode teen die werknemer gebring word. Klagtes moet volledig met alle relevante inligting omskryf en aan die werknemer voorsien word. Slegs klagtes wat relevant is tot die oortreding en wat bewys kan word, moet teen die werknemer gebring word.

Lees meer oor onbetaalde skorsing hier.

Verhoor

Die voorsittende beampte moet ’n onpartydige persoon wees. ’n Volledige weergawe van die gebeure moet aan die voorsittende beampte voorsien word. Alle relevante inligting aangaande elke klagte moet tydens die verhoor voorsien word. Dit sluit enige bewysstukke en getuienis in. 

Hou in gedagte dat die voorsittende beampte geen inligting oor die saak het nie – dit is die werkgewer se verantwoordelikheid om seker te maak dat alle inligting, sover moontlik in kronologiese volgorde, voorsien word. ’n Volledige verduideliking van elke oortreding of wangedrag moet aan die voorsittende beampte voorsien word.

Bewyse en getuies

Indien daar dokumentêre bewyse is, moet alle partye van afskrifte voorsien word. Getuies moet, in hul eie woorde, hul weergawe en getuienis aan die voorsittende beampte deurgee. Die werkgewer moet seker maak dat hulle behoorlik met getuies konsulteer tydens die ondersoekproses en voor die verhoor, sodat hulle weet waaroor die getuies gaan getuig. Dit is om te verseker dat die nodige getuienis tydens die verhoor aan die voorsittende beampte voorsien word.

Bewyse sluit ook in die toepaslike dissiplinêre kode en/of beleid, sodat bewys kan word dat ’n bestaande reël in die werksplek oortree is en dat die werknemer van die reël bewus is.

Lees meer oor die werks- en rustye van Suid-Afrikaanse plaaswerkers hier.

Verweer

Hou enige moontlike verweer wat deur die werknemer geopper kan word in gedagte en maak seker dat alle relevante inligting beskikbaar is om die verweer teen te staan.

Dissiplinêre rekord

Indien die werknemer enige vorige oortredings in die werksplek begaan het, moet hierdie inligting ook beskikbaar wees en aan die voorsittende beampte voorsien word. Afskrifte van vorige en/of geldige waarskuwings moet tydens die verhoor beskikbaar wees.

Voorbereiding ten opsigte van verswarende faktore is belangrik. Verswarende faktore is enige inligting wat die werkgewer aan die voorsittende beampte kan voorsien om sodoende die erns van die wangedrag, asook die gevolge daarvan in die werksplek, te beklemtoon.

Voorbereiding is belangrik

Dit is die werkgewer se verantwoordelikheid om die voorsittende beampte te oortuig, op ’n oorwig van waarskynlikhede, dat die werknemer skuldig is aan die wangedrag of oortredings waarvoor die werknemer aangekla is. Onthou dat die voorsittende beampte se doel is om elke party se weergawe aan te hoor en dan as ’n onpartydige party ’n beslissing daaroor te maak.

Voorbereiding is dus uiters belangrik om te verseker dat alle inligting beskikbaar is en tydens die dissiplinêre verhoor aangebied word. –  Christiaan Swart, senior regsadviseur, LWO Werkgewersorganisasie

Die LWO Werkgewersorganisasie staan werkgewers by om aan arbeidswetgewing te voldoen en om dit tot hul voordeel te gebruik om hul onderneming te beskerm. As ’n geregistreerde werkgewersorganisasie by die Departement van Indiensneming en Arbeid, het die LWO die reg om lede by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) te verteenwoordig. Neem kennis dat hierdie artikel nie regsadvies is nie – raadpleeg een van ons regsadviseurs oor enige spesifieke regsprobleem of aangeleentheid. Vir meer inligting, kontak Christiaan by 071 485 3565, epos christiaan@lwo.co.za of info@lwo.co.za, of besoek www.lwo.co.za.