Vloedskade tref die Oos-Kaap se noorsvelde

Estimated reading time: 3 minutes

Produsente in Suid-Afrika se sybokhaar-hoofstad, die noorsvelde van Jansenville, wat reeds etlike maande onder droogtetoestande gebuk staan, is steeds besig om tot verhaal te kom nadat die hemel se sluise Maandagaand, 9 Februarie, onverwags oopgetrek en ongekende skade in groot dele van die distrik aangerig het.

Jansenville is 80km suid van Graaff-Reinet en 120km noord van Uitenhage geleë.

“Dit lyk rof hier”

“Ons het nog nooit weer soos Maandagaand s’n gesien wat tot so ’n groot massa lopende water op een slag gelei het nie,” sê Izak Taljaard van die plaas Olyvenfontein op die Gouwskraal-pad, ongeveer 20km suidoos van Jansenville.

110 mm in 'n uur. (Foto: Izak Taljaard)
110 mm in ‘n uur. (Foto: Izak Taljaard)

Izak en sy broer, Gert, boer met wild en Angoras en vertel hoe hulle verlede naweek 15mm reën gekry het. Verlede Maandagaand het nog ’n bui egter binne ’n uur sowat 110mm water laat uitsak. “Die water het van die berge afgestroom, en ’n mens kon sien waar dit op sommige plekke tot ’n meter hoog in die vlakker gedeeltes geloop het, en ’n paar meter hoog in die slote,” vertel Izak verder.

Die omgewing waarin hulle boer, loop al verskeie maande onder droogte deur en die jong Angora-bokkies word sedert November verlede jaar naby die huis gehou waar hul gevoer word. Ongeveer 130 van die bokkies het in die vloedwater versuip.

“Ons kan nog nie in die veld kom om te bepaal wat daar aangaan nie, aangesien die paaie heeltemal verspoel is,” sê Izak verder. “Ons vermoed baie diere in die omgewing is deur die water meegesleur. Die paaie na die dorp is ook tans onbegaanbaar as gevolg van die skade wat aangerig is.”

Op die plaas het opdrifsels teen die boonste dele van die kampdrade, wat darem nog staan, opgebou. Heelwat daarvan is egter ook deur die water platgedruk, terwyl groot dele van die hoë wildheinings langs die kante ook weggespoel het.

Donderdagaand het dit weer 10mm by hulle gereën.

Weggespoelde laagwaterbrûe en paaie

“ ’n Groot deel van die distrik was bitter droog en slegs ’n klein area het in Desember reën gekry,” verduidelik AC du Plooy, voorsitter van die landbouvereniging by Jansenville. Hy boer op die plaas Rietgat, waar die droogte ook erg was. “Ons het Sondag ’n welkome 24mm reën gekry, maar ongelukkig was dit vir baie ander boere van die omgewing net ’n dun streep wat verbygetrek het. Vroeg Maandagaand het die groot reën toegeslaan.”

  • Verskeie foto’s van beskadigde brûe en paaie in die distrik is deur verskeie persone na AC du Plooy, die voorsitter van Jansenville se landbouvereniging, aangestuur.

In die suidelike dele van Jansenville het dit baie wisselvallig gereën, met metings wat tussen 10mm tot 120mm gewissel het. Die noordelike gebiede het gemiddeld sowat  60mm reën ontvang. Die sentrale dele van die distrik is egter die hardste getref, waar die meeste reën geval en beduidende vloedskade aangerig het.

Plaas- en landelike paaie is ernstig beskadig deur groot volumes vloedwater, en verskeie laagwaterbrûe is weggespoel. Baie wildsprodusente van die omgewing het, benewens hul gewone kampdrade, ook groot skade aan hul wildheinings gely.

“Ons het die owerhede genader om te kyk wat gedoen kan word aan die paaie, maar is meegedeel dat fondse uitgeput is en eers teen April beskikbaar gestel sal word. Ongelukkig sal dit slegs ’n druppel in die emmer wees, gegewe die omvang van die skade wat aangerig is.”

Agri Oos-Kaap beplan om Maandag, 16 Februarie, ’n vergadering met die Departement van Vervoer te belê om te vra dat noodhulpfondse beskikbaar gestel word vir die gebiede wat skade gely het. – Carin Venter, Plaas Media

‘n Tuli-kudde wat sy omgewing bemeester deur aanhoudende verbetering

Estimated reading time: 5 minutes Christo Rothmann van Bushman’s Mountain Tuli’s is in 2025 met...

What is the worst that can happen?

Estimated reading time: 3 minutes Risk is the likelihood of damage or loss. Peril, on...

Suiwelgehalte en -veiligheid vat die voortou

Estimated reading time: 4 minutes Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy...

AFMA Matrix April 2026 now available

In the April 2026 edition of AFMA Matrix, the spotlight falls on the newly...