Estimated reading time: 1 minute
Die Noord-Kaap se bron van seldsame vetplante bied groot aantrekkingskrag aan vetplantsmokkelaars. Hierdie bron word al vir etlike jare geplunder en dit is veral kopers vanaf Oos-Asië wat bereid is om ’n prys te betaal vir dié vetplante. Die polisie het egter verskeie suksesvolle inhegtenisnemings bewerkstellig.
Drie mans is vroeg in Februarie in Nieuwoudtville in hegtenis geneem nadat ’n groot aantal beskermde vetplantspesies in hul besit gevind is. Die waarde van hierdie plante word op R3 miljoen beraam. Die verdagtes sal in Calvinia se landdroshof verskyn nadat die saak volledig ondersoek is.
In 2022 het die polisie op Kuruman, na aanleiding van ’n wenk, drie Zimbabwiërs in hegtenis geneem. Die diewe het glo 2 850 beskermde plantspesies in hul besit gehad. Die waarde van dié plante word op R446 500 beraam. Na verdere ondersoek het die polisie ’n vierde persoon in hegtenis geneem wat gehelp het om die vetplante te vervoer. Die verdagtes is vanjaar elk tien jaar gevangenisstraf opgelê. – Koos du Pisanie, Plaas Media