Estimated reading time: 4 minutes
Verlede maand het ek besluit om twee vlieë met een klap te dood. Ek het by ’n ou studentevriend in die Rooi Kalahari gaan kuier om die seldsame verskynsel van groen veld ná ’n rekord-reënval te sien, terwyl ek terselfdertyd die nodige vlieg-ure kon inkry.
Tussen skeervoorbereiding en die inrig van ’n voerkraal, het ek my vliegtyd afgeskeep en het net ’n paar dae oor gehad om my privaat vlieglisensie te kry met drie ure agter die stokke. Met ’n ligte stertwind sou die 600km tot op die plaas naby Hakskeenpan, omtrent vier uur neem in die betroubare ou Cessna 172 wat ek gewoonlik huur.
Cruiser van die lug
Hierdie enkelskroefvliegtuig, die Skyhawk, is wraggies die Land Cruiser van die lug – hoewel nie noodwendig die vinnigste of ligste nie, word dit sedert 1955 deur vlieëniers vertrou en, soos Toyota se 70-reeks Cruisers, is dit afgestof en weer geloods om aan die vraag te voldoen lank nadat die mededingers gedink het die ou 172 is dood.
Omdat my oornagbesoek aan die begin van die week was, kon die gesin nie saamgaan nie. Mbali, ons plaasadministrateur en regte egte Zoeloe-prinses, het egter vinnig daarop gewys dat sy nog nie voorheen gevlieg het nie, dat dit goed sou wees vir haar aanlynstudies indien sy ’n ander plaas kon besoek, en dat ek die beste baas ooit sal wees indien ek haar in die medevlieënier se sitplek plaas.
Ek het haar stortvloed pleidooie met een vraag gestop: Word sy lugsiek? “Ons gaan op ’n hoogte van net meer as 2 700m vlieg, maar selfs op daai hoogte is daar baie air pockets oor die plat Noordwes. Die meeste mense-mae kan nie lugknikke hanteer nie.”
Met die reuk van oorwinning in haar neusvleuels, het Mbali geantwoord dat sy lankal gewoond is aan baie gravitasiekrag met dié dat sy in haar neef se ou agterwielaangedrewe Corolla in die plaaslike driftkhanas deelneem. Maar sy sal haar eie siekwordsakkies inpak, net vir ingeval.
Boere dink anders
Mbali was met twee dinge reg: Ek is die beste baas, en haar kennis vir die aanlyn-diplomakursus wat sy by Agri Skills Transfer volg, moes uitgebrei word.
Die eerste ding wat ons albei geleer het, is dat suksesvolle Kalahariboere baie klein, soos in een enkele klein graspol, en baie groot, soos in duisende hektare groot, moet dink. “Om hier te oorleef, moet jy besef jy boer nie met vee nie maar met graspolle,” het my vriend ons vertel terwyl ons ry om waterkrippe skoon te maak en grensdrade na te gaan.
Terwyl hy op sy knieë staan, het hy gewys hoe een skynbaar dooie pol gras in werklikheid ’n klein ekostelsel is wat net wag om na die eerste reën te begin lewe. Terwyl hy met ’n strak gesig na die rooi duine op ’n buurplaas wys, vertel hy: “Die toeriste hou van die rooi duine, maar vir ons is hulle eintlik net groot rooi littekens van oorbeweiding.”
Met die yl plantegroei om ons was Mbali verstom om te hoor dat die Kalahari drie skape per hektaar kan dra ‘in die droë tyd’, en ses wanneer dit gereën het.
Bestuur kom eerste
My vriend was op sy beurt verbaas om te hoor dat Mbali ’n kampioen stunt driver is wat ken van bestuur.
“Dan sal jy ’n goeie Kalahari-boer uitmaak,” het hy gesê, en verduidelik dat plaaslike produsente ook vlootbestuurders moet wees met ’n liefde vir alle soort bestuur, van stootskrapers tot motorfietse.
Die een groot voordeel van die Kalahari se groot afstande en swak paaie teenoor ’n plaas na aan die stad, is dat my vriend geen ervaring van veediefstalsindikate het nie. Hy weet egter alles van logistiek, brandstofdoeltreffendheid en handelaarsondersteuning.
Oor die beste handelsmerk in hierdie kategorieë het hy ’n onwrikbare siening: “Ek sien al hoe meer toeriste wat in vreemde bakkies hier aankom, waarvan sommige ’n goeie reputasie in myndorpe het. Maar die Kalahari het my een ding geleer. Jy kan ’n Toyota-bakkie of -vragmotor op ons lang grondpaaie vertrou. En dis lang paaie.”