Estimated reading time: 7 minutes
Wildboere in Limpopo is opgewonde oor vanjaar se jagseisoen. Hoewel dit waarskynlik ’n tyd gaan neem voordat die Covid-19-pandemie se skade uitgewis is, glo optimiste dat die getalle jagters, veral uit die buiteland, teen die einde van die jaar na 2019-vlakke kan herstel.
Die benuttingsjagbedryf dra na raming meer as R12 miljard per jaar tot die land se ekonomie by. Dit het verlede jaar egter tot stilstand gekom. Ekonomiese uitdagings het wildboere genoop om vinnig planne te maak om te oorleef. Daarby het dit baie wyer getref en newebedrywe soos die verwerking van trofeë, die verskaffing van ammunisie, jagtoebehore en meer erg geraak.
Dit het goed gereën in Limpopo en oor die algemeen is die wild in ’n uitstekende kondisie. Dit kan meebring dat veral biltongjagters kan verwag om vanjaar goeie waarde vir hul geld te kry. Daar word nie verwag dat die ruier veldtoestande beduidende groter uitdagings aan jagters gaan stel nie.
Die impak van Covid-19
Die Covid-19-inperkings het die bedryf en almal wat van jag afhanklik is vir oorlewing, kwaai getref. Werksgeleenthede op wildsplase was onder druk, en inkomste uit fooitjies van jagters en inkomste van gemeenskappe uit jag in kommunale gebiede het opgedroog.
Omdat daar verlede jaar bitter min gejag was, moes sommige wildboere wild laat oes om hul kontantvloei aan die gang te hou. Tesame met die vermindering van wildgetalle in die droogte, beteken dit nie noodwendig dat daar nou ’n oorvloed wild beskikbaar is nie, maar wildboere meen daar is genoeg uitstaande diere om bevredigende jagtogte te verseker.
George Potgieter, Wildboer van die Jaar in 2019, wat die Schoongezicht-wildboerdery en -jagonderneming in die Limpopo-bosveld naby Thabazimbi bedryf, glo die jagbedryf gaan herstel en selfs sterker uit die krisis kom.
“Dit kan ’n tyd duur. Ek is egter ’n aardsoptimis. Die belangstelling van buitelanders, die besprekings wat ons al gekry het en die wonderlike ondersteuning van plaaslike jagters, laat my dink dat ons teen volgende jaar op dieselfde vlakke van jagbesprekings kan wees as voor die pandemie,” sê hy.
Hy bied sowat 20 spesies in ’n diverse omgewing op sowat 9 000 hektaar aan. Verlede jaar kon hy geen oorsese jagters verwelkom nie en die feit dat Suid-Afrikaanse wildboere nie jagters oorsee kon besoek en werf nie, het die terugslag vererger deurdat belangrike persoonlike kontak verbreek is. Hulle het egter ’n gevestigde kliëntebasis wat jaar na jaar terugkeer. Die buitelandse jagters met wie hy telefonies gesels het, sê hulle is uitgehonger om weer die jagvelde van Suid-Afrika te besoek.
Tog is daar nog huiwering oor die inperkingsmaatreëls. Baie is versigtig omdat hulle bang is iets gebeur hier wat omstandighede verander en kan meebring dat hulle twee weke op eie koste in kwarantyn moet deurbring. Daar is ook nog geen regstreekse vlugte van en na Amerika nie, wat beteken dat hulle aansluitingsvlugte in ander lande moet kry, wat lei tot meer toetse en ’n groter gevaar dat hulle iewers die virus kan opdoen.
Die inentingsveldtog in Amerika vorder egter fluks en meer as 30% van die bevolking is glo al ingeënt. Daarby is die infeksiekoers in Suid-Afrika laer (ten tyde van die skryf hiervan). Dit stem hom baie positief dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat dinge weer nader na normaal sal terugkeer tot voordeel van veral die trofeejagbedryf.
Trofeejag trek swaar
Trofeejag is juis die swaarste getref weens die inperking van internasionale lugverkeer. Die silwer randjie aan die donker wolk is dat ál meer Suid-Afrikaners trofeediere begin jag. Op die eerste wildveilings vanjaar was trofeediere se pryse nie beduidend laer as in 2019 nie en heelwat hoër as in 2020. Dit dui ook op die verwagting dat sake bedrywiger gaan raak en groter getalle buitelandse jagters na Suid-Afrika sal kom.
George sê hulle jag al sowat drie maande en die diere se kondisie is baie goed. Omdat daar vir ’n jaar lank feitlik geen trofeediere gejag is nie, is meer trofeediere nou vir plaaslike jagters beskikbaar. As gevolg van die knap bestuur van wildboere wat voortdurend selekteer vir beter diere, verbeter die gehalte van trofeë jaarliks.
As hy na die besprekings by sy eie jagonderneming kyk, is die steun van plaaslike jagters uitstekend. Ten opsigte van oorsese jagters is daar ook ’n besliste oplewing. Uit gesprekke met oorsese jagters, is dit duidelik dat hulle gretig is om in Suid-Afrika te kom jag.
Dit is ook interessant dat daar ’n merkbaar groter verbruik van wildsvleis is, sê George. Baie wildboere was verlede jaar genoop om vlaktewild te laat oes om hul kontantvloei aan die gang te hou en in baie gevalle is beter pryse vir die vleis betaal as in die verlede. Dit, tesame met die oplewing in veilingpryse, stem die bedryf baie positief.
SA het baie waarde te bied
Wildboere doen hul bes om die boodskap te versprei dat dit veilig is om Suid-Afrika te besoek en dat jagplase gereed is om jagters te ontvang binne die raamwerk van Covid-19-protokolle. Suid-Afrikaanse jagters bly die ruggraat van die jagbedryf. Wildboere wat die krisis van 2020 kon oorleef, kan verwag om vanjaar dalk nog ‘n bietjie te sukkel, maar kan na sy mening uitsien na ’n rooskleurige 2022.
Malan Davey van die Romaco Ranch digby Naboomspruit, stem saam dat die goeie veld en kondisie van die wild jagters waarde vir hul geld sal gee. Romaco Ranch beslaan sowat 7 000 hektaar, met ’n omgewing wat van bosveld tot oop vlaktes wissel en waar ’n oorvloed wildlewe voorkom.
Hy glo nie die ruier veld gaan ’n beduidende groter uitdaging aan jagters stel nie. Om ’n wildsbok te jag, was nog altyd ’n uitdaging en dit is wat die sport so aantreklik maak. Volgens hom is die wildgetalle in die Bosveld nog voldoende om aan jagters se behoeftes te voldoen. Daar is weliswaar verlede jaar nie gejag nie, maar hy dink dat wildboere in die droogte van die afgelope paar jaar dalk meer wild verloor het as wat ’n mens besef.
Wildboere, beroepsjagters, gidse en personeel staan gereed om jagters hierdie jagseisoen te ontvang. Hulle het lank tyd gehad om by die beperkende vereistes van Covid-19 aan te pas.
Die skade wat die pandemie vir die jagbedryf veroorsaak het, sal wel nie maklik uitgewis kan word nie. Trouens, die uitdagings bestaan steeds en dit het nie net ’n impak op wildboere gehad nie, maar ook op jagters. Baie van hulle het ’n finansiële knou gekry en het dus minder geld vir jag beskikbaar.
Om oorsese jagters gerus te stel en te oortuig dat protokolle in Suid-Afrika in orde is en dat dit ’n veilige bestemming is, gaan waarskynlik nie maklik wees nie, sê hy. – Andries Gouws, Veeplaas (Foto’s verskaf deur Schoongezicht Jagsafari’s)
Vir meer inligting, kontak
George Potgieter by 082 903 5752 of georgep@gvf.co.za,of
Malan Davey by 083 309 8817 of malan@leapmail.co.za.