Friday, October 18, 2024

Veeplaas se 2023 Klimaatslim Ambassadeur aangekondig

Estimated reading time: 3 minutes

Plaas Media het vanjaar sy tweede Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek aangebied. Dit volg op ‘n suksesvolle eerste rondte in 2022, waarin die bekende James Faber as eerste ambassadeur aangewys is. Die projek word in samewerking met spesialis landboukonsultant, dr Louis du Pisani, ‘n kundige op die gebied van veldweiding, lewendehawe en boerdery-ekonomie, aangebied.

Die doel van die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek is om veeprodusente te identifiseer wat klimaatslim boerderypraktyke op hul plase implementeer. Hulle moet boonop passievol wees oor die bewaring van hul omgewing en hulpbronne. Dit is ook individue wat bereid is om hul kennis te deel en ander veeprodusente wat hierdie selfde passie vir hul omgewing het, touwys te maak oor hoe hierdie praktyke ook deur hulle geïmplementeer kan word.

Lees hierdie persverklaring in Engels hier.

Inskrywings en finaliste

Om in te skryf, moes deelnemers ‘n vraelys op www.agriorbit.com voltooi oor ses fokusareas: veldbestuur, kuddebestuur, die bestuur van kaal grond, erosie en bosindringing, droogtebestuur, finansiële bestuur, en kennis oor klimaatsverandering. Die vraelys is na afloop van die 2022-projek hersien en ekstra vrae is bygebring om nog meer klem op weidingstelsels en veldbestuur te plaas.

Nege klimaatslim veeprodusente het vir die 2023 aflewering van die projek ingeskryf. Hulle is Zippo Lamprecht, Casper Slabbert, Brendan Kingwill, Joe van Wyk, Pierre Thirion, Piet Roux, Lochner Eksteen, Gerrit van Zyl en Matthys Grobler. Uit die nege boere is drie finaliste aangewys: Piet Roux, ‘n Noord-Kaapse boer in die Prieska-omgewing, Matthys Grobler, ‘n saaiboer met ‘n komplementêre veekomponent, en Gerrit van Zyl, ‘n bekroonde veeboer en bekende in Bonsmara-kringe.

Dr du Pisani het in Mei en Junie die drie finaliste gaan besoek, vergesel deur Plaas Media se skrywers, Izak Hofmeyr (redakteur van Stockfarm) en Koos du Pisanie (Noord-Kaap streeksbestuurder). Tydens die plaasbesoeke is die puntestate nagegaan, inligting geverifieer, verdere vrae gestel en in meer diepte na die finaliste se veld, grond, kuddes en boerderypraktyke gekyk. Die uiteindelike punte is deur dr du Pisani, Lynette Louw, HUB van Plaas Media, en prof Frikkie Maré, redakteur van Veeplaas, geverifieer.

Hofmeyr het onderhoude met Matthys Grobler en Gerrit van Zyl gevoer, en Koos du Pisanie het met Piet Roux gesels. Kyk gerus hier na dié onderhoude: https://www.youtube.com/watch?v=fLzeYBVJVGQ&list=PLWJpN39Xw5Y5B_gR5JJQnruRry8SKn9-e&index=14.

Vind meer oor die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur-projek hier uit.

En die 2023-wenner is …

Na talle kilometers, gesprekvoering en die verifiëring van puntetellings, is dit vir Plaas Media ‘n besonderse groot voorreg om die 2023 Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur aan te wys. Geluk aan Piet Roux van die plaas Biega in die Prieska-omgewing. Piet is ‘n bekende in landboukringe en boer vir baie jare al. Sy kennis van sy veld en veral sy droogtestrategieë het ‘n blywende indruk gelaat en is verseker kennis waarby ander produsente kan baatvind.

Lees in Veeplaas se September-uitgawe meer oor Piet se droogtestrategie en kyk hier na die aankondiging van die wenner: https://www.youtube.com/watch?v=fLzeYBVJVGQ

Die boeredag

‘n Boeredag sal later vanjaar op Piet se plaas aangebied word waar hyself, asook ander kenners sal gesels oor klimaatslim boerderypraktyke. Dr du Pisani sal onder andere ‘n oorsig gee van die inskrywings en vanjaar se finaliste. Deel van die dag sal ‘n veldbesoek gelei deur Piet en dr Du Pisani behels. Die projek se borge sal ook daar wees om met produsente hand te skud. Hou die pers dop vir meer inligting.

Kompetisieborge

Vanjaar het Plaas Media die ondersteuning van drie borge ontvang. Twee van die borge, Zoetis en Nedbank, was in 2022 reeds betrokke. Elanco het ook vanjaar aan boord gekom. Plaas Media bedank graag die borge vir hulle ondersteuning waarsonder die projek nie moontlik sou wees nie. 

Kyk gerus na die onderhoude wat met die borg-verteenwoordigers gevoer is, en waarin hulle verduidelik hoe elk van hierdie maatskappye klimaatsverandering en klimaatslim boerdery beskou. Volg hierdie skakel na Plaas TV se YouTube-kanaal: https://www.youtube.com/playlist?list=PLWJpN39Xw5Y5B_gR5JJQnruRry8SKn9-e.

Kontak: Deidré Louw, bemarkingskoördineerder, vir meer inligting oor die kompetisie, borgskapgeleenthede en die 2024-kompetisie se inskrywings.

Epos: deidre@plaasmedia.co.za.

Trigomoniase: As jy nie toets nie, sal jy nie weet nie

Estimated reading time: 4 minutes Trigomoniase is die algemeenste geslagsoorgedraagde siekte ter wêreld by ekstensiewe...

Verantwoordelike versorging van melkkalwers

Estimated reading time: 7 minutes Verbruikers se aankoopbesluite word meer beïnvloed deur dierewelsyn, smaak en...

Cattle selection decisions based on objectives, resources and environment

Estimated reading time: 9 minutes Genetics are a crucial aspect of the livestock industry, influencing...

Wees lief vir jou motor

Estimated reading time: 4 minutes “Waarom poets Mbali ons Stout se wiele blink?” vra Gert...