Estimated reading time: 8 minutes
Dat jou vee in ’n sekere stadium verkoop moet word om inkomste te verseker en plek vir die jonger generasie teelmateriaal te maak, is ’n onvermydelike deel van beesboerdery. Veeplaas het by twee beeskenners gaan raad vra oor hul benadering tot die uitskotproses asook wanneer diere uitgeskot kan word.
‘n Plan vir gesonde speenkalwers vóór hulle voerkraal toe gaan
Beginsels vir ouer diere
Vrugbaarheid in jou kudde is volgens John Rafferty, wat al vir lank in die beesbedryf werk, die belangrikste kriteria om te oorweeg wanneer diere uitgeskot word. Dit geld vir beide stoet- en kommersiële kuddes en daar kan met dragtigheidstoetse vanaf ses tot agt weke ná die dekseisoen, bepaal word watter diere nie aan die kriteria voldoen nie.
Die tweede beginsel wat vir hom belangrik is, is om elke koei se kalf tydens speentyd te evalueer. Eerstens kan alle koeie wat nie ’n kalf speen nie, uitgeskot word. Dan kan oorweeg word om byvoorbeeld die swakste 10% van die speenkalwers se moeders te identifiseer en uit te skot.
Die swakker of ligter kalwers kan moontlik afkomstig wees van koeie met minder melk of koeie wat later in die seisoen gekalf het (en dus minder vrugbaar is). Daar mag uitsonderlike gevalle wees waar ander faktore tot swakker kalwers bygedra het. ’n Tweede kans kan dus vir dié koeie oorweeg word.
John se derde beginsel is om die vroulike diere te laat dek en te bepaal of hulle nog ’n kalfseisoen sal kan deurmaak. Ouderdom word nie eerste gestel nie, aangesien ouer koeie waarskynlik reeds op die eerste twee beginsels sal uitval, omdat hulle nie meer by die ander koeie kan bybly nie.
By ’n stoetkudde wat in ’n kuddeboufase is, kan die voorgenoemde beginsels sagter toegepas word. Koeie wat vir ’n tweede keer ’n kalf met ’n speenindeks van onder 85% speen, kan uitgeskot word. Dit behoort ’n maklike praktyk in ’n stoet te wees, omdat daar baie inligting vir die stoetkoeie beskikbaar is. Swakker speenindekse of -teelwaardes oor meer as een gespeende kalf kan ’n aanduiding van swakker genetika – met ander woorde, minder melk – wees.
’n Goeie manier om druk op vrugbaarheid in die kudde te bewerkstelling, is om teelbulle ná 65 dae van die teelseisoen met terminale bulle te vervang. Indien die bulle van ’n ander kleur is, sal hul kalwers maklik uitgeken word en die koeie met hul kalwers bemark kan word. Volgens John sal dit die oorblywende kudde se vrugbaarheid binne drie tot vier jaar laat optel.
Funksionele moeders
Hendrik Strydom, ’n beesboer in die Petrusburg-omgewing, bedryf beide ’n kommersiële en stoetkudde. Sy uitskotbenadering is op drie beginsels gebaseer. Vrugbaarheid word eerste gestel, en daar word van elke koei verwag om jaarliks ’n kalf te speen. Verse moet teen driejarige ouderdom reeds een kalf gespeen het én weer dragtig wees, anders word hulle uitgeskot.
Tweedens word daar na moedereienskappe gekyk, met die verwagting dat ’n bemarkbare kalf met ’n speengewig wat met die kuddegemiddeld vir die seisoen ooreenstem, gespeen word. Dit is belangrik dat koeie na hul kalwers omsien. Indien ’n koei se kalf byvoorbeeld deur ’n jakkals gevang word, of sy nie bly staan by die gat waar haar kalf ingeval het nie, word sy uitgeskot. Dié beginsels is vir Hendrik ononderhandelbaar.
Derdens moet die vroulike diere funksioneel vir die gebied waarin daar geboer word, wees. Hier word die dier se vermoë om te loop geëvalueer, waar die kloue, bene en struktuur beoordeel word. Die vermoë van diere om gras te benut, word ook in ag geneem deur hul kondisietelling te evalueer.
’n Ander aspek van belang by funksionaliteit is dat die verse en koeie maklik en self moet kan kalf, sodat hulle vinnig weer kan herstel vóór die volgende dekseisoen.
Tweede kanse
Dit is so dat nie alle koeie wat by die bulle geloop het en daarna dragtig bevestig is, aan die einde van die seisoen ’n kalf gaan speen nie. Sommige koeie aborteer weens verskeie redes, terwyl ander kalwers weens moeilike kalwings, predasie, diefstal of iets eenvoudig soos ’n kalf wat in ’n gat beland, verlore raak.
Hoe streng produsente daaroor is om vir dié koeie nog ’n kans te gee, hang volgens John van ’n paar aspekte af. Produsente wat graag hul vroulike diere wil vermeerder, sal minder streng wees en die rede vir die kalf se verlies in oorweging bring. In ’n fase waar die kudde verklein moet word, byvoorbeeld tydens droogtes, kan daar strenger teen hierdie koeie opgetree word.
Goeie rekord moet egter gehou word van koeie wat ’n tweede kans kry, om te verhoed dat hulle onproduktiewe diere in die kudde word. Hendrik gee slegs in uitsonderlike gevalle vir sy koeie ’n tweede kans, byvoorbeeld as die fetus geaborteer is in ’n tydperk waarin die koei siek was.
Die uitskot van jonger diere
Die eerste rondte waartydens diere uitgeskot kan word, is reeds gedurende speentyd, waar fenotipiese beginsels gebruik kan word, sê John. Op dié ouderdom kan daar reeds vir aspekte soos korrekte hoewe, bekke en goeie uierontwikkeling geselekteer word. Ander aspekte sal eers later begin wys en daar kan voortdurend teen dié aspekte gewaak word.
Gewoonlik sal alle ongewenste bulle en verse afkomstig uit die stoet ná speen bemark word, tesame met alle bulkalwers afkomstig uit ’n kommersiële kudde. Dit is raadsaam om meer verse terug te hou as wat uiteindelik in die kudde opgeneem gaan word. Nie alle vervangingsverse gaan dragtig wees ná die dekseisoen nie, en daar mag ook meer koeie uit die teelkudde uitgeskot word as wat beplan is.
Indien daar steeds bykomende dragtige verse is ná die uitskotproses, kan hulle bemark word. In Hendrik se boerdery word ’n dekseisoen van 45 dae vir die stoet- en kommersiële verse toegepas. Verse word gesinkroniseer en aan die begin van die dekseisoen kunsmatig geïnsemineer, waarna die bulle dan vir 45 dae bygesit word. Nie-dragtige verse word na afloop van die dekseisoen uitgeskot.
Ras en genotipiese beginsels
By stoetkuddes is die uitskotproses op grond van genotipiese aspekte uiters belangrik. Hier is die versameling van akkurate data noodsaaklik en volgens John, kan daar oorweeg word om aanhoudend die swakste 15% van die kudde uit te skot. Verwerkte data behoort sowat ’n maand nadat dit na die genootskap ingestuur is, beskikbaar te wees om die swakker diere mee te identifiseer.
By kommersiële diere is daar normaalweg nie volledige aantekeninge beskikbaar nie en sal die seleksie van bulle wat aangekoop word, deeglik oorweeg moet word. Maak seker dat die bulle wat jy vir die kommersiële diere inkoop, se syfers positief is vir die eienskappe wat jy in die kudde wil bevorder.
Waar ’n stoet bestuur word, kan raseienskappe ook gebruik word om diere uit te skot. Hier kan diere met ongewenste eienskappe uitgeskot of na die kommersiële kudde oorgedra word.
Bykomende raad
Hendrik raai aan dat dinge van die begin af reg gedoen word by nuwe kuddes, om probleme wat later mag opduik, te vermy. Vir hom is dit belangrik om saam met die natuur te boer, sodat die kalwers aankom wanneer die koeie se behoeftes met die beskikbare weiding ooreenstem. Die optimale kalftyd sal tussen streke verskil, afhangend van reënval.
Om ’n tweede kalfseisoen te hê is nie vir hom die moeite werd nie. Om jong kalwers deur die winter te kry, sê hy, is ’n gesukkel, en twee groepe kalwers per jaar bemoeilik die bestuur van die kudde. Waar ’n groter groep speenkalwers beskikbaar is om op een slag te bemark, kan dit help om ’n beter prys te onderhandel.
Wanneer om te bemark
As daar na die tendense van vleispryse oor die afgelope paar jaar (Figuur 1) gekyk word, is dit duidelik dat die Klas C-prys minder deur die jaar wissel as in die geval van Klas A se prys, met die beste pryse vir Klas C wat gewoonlik in Desember elke jaar aangeteken word.
Wat bemarking aanbetref, is Hendrik se benadering om stoetkoeie wat nog waarde tot ander kuddes kan bydra, as teelmateriaal op sy produksieveiling te verkoop en sodoende ’n beter prys as die slagwaarde vir hulle te verdien. Al die ander uitskotkoeie word nie weer gedek na hulle laaste kalf nie en word deur die winter vetgemaak om teen November bemark te word.
Deur sy diere op hierdie stadium van die jaar te bemark, trek hy gewoonlik voordeel uit beter pryse in die aanloop tot die Kersseisoen. Dit is wel ook so dat nie alle produsente die beskikbare hulpbronne het om uitskotkoeie deur die winter te dra of self af te rond nie.
Dit is duidelik dat die uitskotproses nie net op ou diere in die kudde moet fokus nie, en dat dit ’n deurlopende proses is om die kudde te verbeter. Die spesifieke beginsels wat gebruik word mag dalk effens tussen produsente verskil, maar dit bly belangrik om beginsels in plek te hê om te verseker dat jy na ’n punt toe werk.
Vir meer inligting, kontak dr WA Lombard by LombardWA@ufs.ac.za, John Rafferty by 078 187 3073, of Hendrik Strydom by 073 289 5111.