Wednesday, September 18, 2024

Topskaapboer floreer met ’n simplistiese lae-inset benadering

Estimated reading time: 7 minutes

  • Wikus Bekker, ’n Dohne-Merino-boer van die plaas Geluksdam by Edenburg in die Vrystaat, se passie vir teling, en sy toewyding en meelewing in sy boerdery is die hoeksteen van sy sukses.
  • Wikus sê hy het op stoetteling besluit omdat sy ooie van so ’n hoë standaard was dat hy sy eie ramme kon teel. Sy ramme was van goeie gehalte en daar was ’n groot aanvraag vir sy uitskotramme.
  • Sy skaapvertakking sluit tans ’n ekstensiewe ooiboerdery en ramteling vir eie gebruik in. Sy boerdery bestaan uit 80% kommersiële en 20% stoetskape, met ’n klein kommersiële beesvertakking.
  • Wikus verkies die Dohne-Merino weens hul vrugbaarheid en dubbeldoel-eienskappe.
  • Wikus se kommersiële lammers word op vier tot vyf maande gespeen en direk aan voerkrale gelewer. Die gemiddelde speengewig is tussen 34 en 36kg. Hy vermy swaar lammers omdat voerkrale dit nie verkies nie. As die lammers te swaar raak, word hulle vroeër gespeen.
Wikus gebruik slegs AA-ramme in sy stoet en kommersiële kuddes. (Foto: Wikus Bekker)
Wikus gebruik slegs AA-ramme in sy stoet en kommersiële kuddes. (Foto: Wikus Bekker)

Wikus Bekker, ’n Dohne-Merino-boer van die plaas Geluksdam by Edenburg in die Vrystaat, se passie vir teling, en sy toewyding en meelewing in sy boerdery is die hoeksteen van sy sukses. Boerdery is nie vir hom ’n werk nie, maar ’n plesier, en dit is toekennings soos die 2023 Skaapboer van die Jaar wat deur Voermol Voere georganiseer word, wat hom motiveer.

Wikus is ’n vierde-geslag boer. Sy pa, wyle Dons, het in die vroeë 1970’s op die familieplaas, Rusbeek, met Dohne-Merino’s begin boer en later op ramteling gefokus. Wikus was van jongs af by die boerdery betrokke en het in 1995, nadat hy sy BCom Rekeningkunde-graad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het en ouditwerk by PwC gedoen het, hom voltyds by die boerdery aangesluit.

Lees meer oor die gebruik van soja-oesreste in skaapboerdery hier.

‘n Stewige fondasie

Na sy troue met Adéle het hy op Geluksdam begin om kommersiële ramme te teel en verkoop. In 2007 het hy sy Dohne-Merino-stoetery, All-in-One Crux, geregistreer en twee keer per jaar in Februarie en Oktober stoet- en produksieveilings begin hou. Sedertdien het hy al 18 stoetveilings gehou, en sy 19de veiling vind vanjaar op 10 Oktober by die Edenburg-gholfklub plaas.

Wikus sê hy het op stoetteling besluit omdat sy ooie van so ’n hoë standaard was dat hy sy eie ramme kon teel. Sy ramme was van goeie gehalte en daar was ’n groot aanvraag vir sy uitskotramme. Sy skaapvertakking sluit tans ’n ekstensiewe ooiboerdery en ramteling vir eie gebruik in. Sy boerdery bestaan uit 80% kommersiële en 20% stoetskape, met ’n klein kommersiële beesvertakking. Hy boer met tussen 8 000 en 10 000 ooie. Sy stoetgetalle wissel en hy het al by geleentheid 2 000 geregistreerde stoetooie gehad.

Sy teeldoelwitte sluit in vrugbare ooie wat elke jaar lam en goeie gehalte lammers in sy stoet- en kommersiële kuddes onder ekstensiewe toestande speen. Daarmee saam moet sy kudde goeie gehalte wol lewer wat nie vir suiwer wolskape terugstaan nie. Stoet- en kommersiële diere word onder dieselfde omstandighede geteel en die diere wat onder hierdie toestande gedy, word geselekteer en hul genetika word vermeerder.

Waarde van Dohne-Merino

Wikus verkies die Dohne-Merino weens hul vrugbaarheid en dubbeldoel-eienskappe. Die wolkomponent dra 20 tot 25% van sy inkomste by, met vleisproduksie wat die res dek. Dohne-Merino’s is bekend vir hul goeie moedereienskappe, gehardheid, en aanpasbaarheid.

Die wol-tot-vleis verhouding by die Dohne beteken dat ooie in droogtetoestande beter vaar as rasse wat meer wol dra. Dit is vir hom belangrik dat sy kudde nie te veel wol dra nie, omdat dit ’n negatiewe uitwerking op raseienskappe soos gehardheid en moedereienskappe kan hê. Dohne-lammers is boonop gewild by voerkrale weens hul vinnige groei.

Die ras is oor 80 jaar wetenskaplik in Suid-Afrika geteel met behulp van teelwaardes en BLUP-syfers, wat ’n voorsprong bied. Wikus volg ’n lae-inset boerderybenadering wat in harmonie met die natuur is en uitgawes laag hou. Hy gebruik 99% van die tyd geen byvoeding nie, hoewel aanpassings veral in droogtetye gemaak moet word. Die natuurlike weiding, wat bossie- en soetveld insluit, word wetenskaplik bestuur.

Hy plant ’n klein hoeveelheid droëlandhawer as byvoeding vir ooie met tweelinge, wat vir twee tot drie weke daarop wei as hulle uit die lamhokke kom. Sy lamhokstelsel is eenvoudig en bestaan uit sowat 2 500 lamhokke. Dit is van beskikbare afvalmateriaal gebou en is naby aan sy huis geleë met die oog op lamtyd.

Natuurlike dekking

Wikus gebruik meestal natuurlike dekking, met slegs 20% van die dekkings wat bestaan uit laparoskopiese inseminasie van die stoetooie met saad van topramme. Met natuurlike dekking in Maart/April, werk hy met 50 tot 60 ooie per ram, wat neerkom op tussen tien en 12 ramme per trop van 500 ooie. Daar is ook groter parings met 800 ooie in ’n 1 000ha kamp. Dragtige ooie met een- en tweelinge loop in afsonderlike troppe van 400 tot 500 ooie in kampe van 500 tot 700ha met drie tot vier waterpunte.

Wikus gebruik stoetramme op sy kommersiële ooie. Vir stoetdoeleindes gebruik hy slegs AA-ramme wat deur geakkrediteerde inspekteurs van die genootskap goedgekeur is. Sy doel is om hoë-gehalte wol te produseer wat gelykstaande is aan dié van Merino-boere.

Tydens lamtyd in September en Oktober kom dragtige ooie met tweelinge na die lamhokke naby sy huis. Dekking vind oor twee siklusse plaas en 80 tot 90% van die ooie lam in die eerste 17 dae. Ná geboorte bly ooie en hul lammers vir sowat sewe dae in hokkies, waarna hulle in groepe in kleiner 1ha kampies gehou word. Na twee weke word die groepies vergroot totdat daar 80 ooie en lammers per kamp is.

Ooie wat eenlinge dra lam in die veld in hoërliggende, droër kampe. Ná geboorte word grootuierooie na ’n volgende kamp geskuif. Jong ooie wat die eerste keer lam word vinniger na ’n ander kamp geskuif. Wikus handhaaf die afgelope drie jaar ’n lampersentasie van 125 tot 130% uit ’n besettingsyfer van ongeveer 98% met ’n speensyfer van gemiddeld 119%.

Skandering word gebruik om die kondisie van ooie te bepaal en dra daartoe by dat meer tweelinge gebore word. Potensiële meerlinge word so geïdentifiseer en daardie ooie kry meer aandag en weiding, en lam in die lamhokkies.

Dragtige ooie met tweelinge word in lamhokkies van 2 x 3m aangehou. (Foto: Wikus Bekker)
Dragtige ooie met tweelinge word in lamhokkies van 2 x 3m aangehou. (Foto: Wikus Bekker)

Kommersiële en stoetlammers

Wikus se kommersiële lammers word op vier tot vyf maande gespeen en direk aan voerkrale gelewer. Die gemiddelde speengewig is tussen 34 en 36kg. Hy vermy swaar lammers omdat voerkrale dit nie verkies nie. As die lammers te swaar raak, word hulle vroeër gespeen.

Hy gebruik streng seleksie. Hamellammers word aan voerkrale bemark, terwyl ooilammers op 18 maande vir hul wol- en strukturele eienskappe geëvalueer word. Die swakste 20% word uitgeskot en as tweedekudde-ooie verkoop, terwyl die oorblywende 60% as aanteelooie gebruik word. Stoetlammers word op 100 dae gespeen en geweeg, met ’n gemiddelde speengewig van ongeveer 32kg. Ongeveer 10% van die ramlammers word dan uitgeskot.

Ná speen word die lammers afgeskeer, getop, en deur ’n veldtoets gesit. Ramlammers bly in die kamp tot hulle ’n jaar oud is, word weer geskeer en elke vag word geweeg. Prestasiedata word ingesamel en swak lammers word geslag. Op 12 maande word hulle finaal vir strukturele en wolfoute geëvalueer om te bepaal watter lammers gehou moet word.

Bemarking van ramlammers

Wikus se ramlammers ondergaan ’n streng seleksieproses. Uit ’n groep van 800 ramlammers wat die veldtoets voltooi het, word 200 voor skeer in Augustus uitgeskot. Hy hou 100 lammers (die top 20%) vir eie gebruik, sit 200 (nog 20%) op veilings wat hy deur die jaar aanbied, en verkoop die oorblywende 300 uit die hand.

In 2020 het Wikus embrio’s suksesvol na Patagonië in Argentinië uitgevoer. Sowat 2 000 stoetooie is saam met die koper op sy plaas geïnspekteer en 40 ooie is geïdentifiseer vir embriospoeling, waarvan die embrio’s uitgevoer is na Tierra del Fuego, na die plaas Estancia los Flamencos waar 40 000 skape deur Ivon Roberts bestuur word. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Wikus Bekker by cruxdohnes@gmail.com.