Estimated reading time: 7 minutes
- Toe Uys in 1995 saam met sy pa begin boer het, is die vervaardiging van die oorplaatjies uitgebrei, en het hy toetse begin doen en die tegnologie om die plaatjies elektronies te lees, vooruitgeloop.
- Hulle vervaardig nou onder meer RFID-oorplaatjies, QR-kodes (oorplaatjies), en aluminium oorplaatjies in die fabriek op die plaas, en selfs skouhoenders en duiwe dra van Komarsekraal se QR-kode-plastiekringe om hul pote.
- Die ontwikkeling van QR-kodes was ’n groot deurbraak vir prestasiemeting, aangesien dit goedkoop tegnologie is, maklik leesbaar is, en waardevolle inligting bevat.
- Uys sê die RFID is meer robuus, maar die QR-kode kan presies dieselfde inligting insamel, en die voordeel van die QR-kode is sy bekostigbaarheid.
- Uys bedryf ’n gemengde boerdery bestaande uit kleingraan en kleinvee, waar hy 4 500 diere bestuur, waarvan 40% sy eie is, en sy Merino-stoetery het 700 ooie.
Dirkie Uys van die Komarsekraal-landgoed naby Bredasdorp, is vanjaar as SA Stamboek en Standard Bank se Unieke Presteerder van die Jaar aangewys vir die rol wat hy in die Merinobedryf en ook by SA Stamboek speel wat betref prestasiemeting en die insameling van data.
Uys se Kormarsekraal Merino-stoet is jaar na jaar onder SA Stamboek se top Elite-kleinveekuddes en SA Stamboek beskou hom as ’n innoverende denker wat uitdagings raaksien, slim planne maak en dit tot voordeel van die bedryf aanwend.
Hy sê Komarsekraal was een van die eerste boerderye in Suid-Afrika wat met diere-aantekening begin het toe sy pa dit in die sewentigs begin gebruik het. In daardie tyd het Suid-Afrikaanse boere gesukkel met swak gehalte metaal-oorplaatjies wat uit Australië ingevoer is. Sy pa het dus begin om metaal-oorplaatjies op die plaas te vervaardig en plaaslik beskikbaar te stel. Die klein vervaardigingsaanleg het terselfdertyd vir plaaswerkers se vroue werk geskep.
Toe Uys in 1995 saam met sy pa begin boer het, is die vervaardiging van die oorplaatjies uitgebrei. Selfs toe elektroniese diere-identifikasie in sy kinderskoene was, het hy toetse begin doen en die tegnologie om die plaatjies elektronies te lees, tot ’n mate vooruitgeloop.
Die gebruik van betroubare plastiekplaatjies, hetsy vir sigbare lees of elektroniese gebruik, was die volgende stap en hy het saam met twee vennote ’n fabriek vir hierdie doel gekoop. Hulle vervaardig nou onder meer RFID-oorplaatjies, QR-kodes (oorplaatjies) en aluminium oorplaatjies in die fabriek op die plaas. Selfs skouhoenders en duiwe dra nou van Komarsekraal se QR-kode-plastiekringe om hul pote.
Diere-aantekening kom ’n lang pad
Uys sê toe sy pa met diere-aantekening begin het, was gewone prestasietoetsing gedoen en is eienskappe soos geboortedatum, speen-, liggaams- en wolgewig aangeteken. “Die Kleinveeverbeteringsinstituut het sedert 1993 die prosesse verfyn en formules verbeter, en ons het vanag 1995 ook BLUP begin toepas,” sê Uys.
Sedert 1995 was die groot merkers in diere-aantekening die implementering van reproduksie in 2003, ’n teelwaarde gekoppel aan stapellengte ’n paar jaar later, wat ’n baie groot voordeel in die ses-maande skeersels was, en daarna in 2011 toe meer telers met goeie data begin deelneem het, wat die verwysingspopulasie meer akkuraat gemaak het.
“Min of meer in dieselfde tyd is die SM2000-model in werking gestel. Daarna is begin om kondisietelling te meet wat vorentoe ’n groot rol gaan speel in die verkryging van optimale paringsgewig en om die dier se paringsgereedheid van die kondisietelling af te lei. Hoewel kondisietellingdata al minstens vyf jaar oud is, is die eienskap se teelwaardes nog in sy kinderskoene en raak dit nou eers beskikbaar.”
Genomika is die jongste van die metingstegnologie wat gebruik word. Die toepassing van genomika het ook in ongeveer 2018 begin, maar is ’n baie ingewikkelder tegnologie. Hoewel genomika ook nog in sy kinderskoene is, kan sekere afleidings al gemaak word en kan reproduksie byvoorbeeld 11% akkurater voorspel word, wat wesenlik is.
Kuddeboer kan ook data insamel
Wat data-insamelingstegnologie betref, is elektroniese identifikasie (RFID’s) asook QR-kodes nou in Suid-Afrika gevestig. Met data-insameling is daar twee komponente. Die een is die kommunikasie tussen die oorplaatjie en datalesers, en die ander is die integrasie van die opgeneemde data in die dataverwerkingstelsels ,toe, sê Uys.
“Die integriteit van data is baie belangrik by prestasietoetsing. Jy kan nie goeie besluite op grond van swak data neem nie. Enige produsent moet goeie data gebruik. Gelukkig is die tegnologie nou beskikbaar om geloofwaardige data in te samel.”
Die ontwikkeling van QR-kodes was ’n groot deurbraak vir prestasiemeting, aangesien dit goedkoop tegnologie is, maklik leesbaar is en waardevolle inligting bevat. Omdat ’n QR-kode goedkoop is, is dit nou ook vir die kuddeboer moontlik om groot hoeveelhede data beskostigbaar in te samel. ’n QR-kode (oorplaatjie) kos R2,40 en die dataleser wat nodig is om die QR-kode te lees, kos ongeveer R4 000.
Uys sê die RFID is meer robuus, maar die QR-kode kan presies dieselfde inligting insamel. “Die voordeel van die QR-kode is sy bekostigbaarheid. As jy ’n boerdery met 3 000 ooie as voorbeeld neem, sal dit met QR-kodes ongeveer R12 000 kos om die inligting in te samel.”
Die skoolgeld is reeds betaal
Die voordeel vir produsente wat data van hul diere wil begin insamel, is dat die wolmakelaars goeie diensverskaffingstelsels het. Die produsent kan dus sy wolmakelaar kontak om leiding te kry in aspekte soos watter data ingesamel moet word en wat die protokolle behels. Hy hoef nie te raai nie, die skoolgeld is reeds deur ander betaal.
Daarna moet die produsent oorplaatjies en datalesers (RFID’s of QR-kodes) kies. Die diensverskaffers het ook programme en prosedures geskryf wat die ingesamelde inligting outomaties integreer met die dataverwerkers, soos SA Stamboek. Die produsent kry die data sinvol in ’n verslagformaat terug.
Dit is belangrik dat die stoetteler of die kuddeboer wat die data begin insamel, ’n teeldoelwit moet hê. “Jy moet ’n bepaalde plan hê om die data toe te pas ten einde te verbeter. Jy begin by ’n bepaalde punt en verbeter na jou doelwit.”
Graan en vee in harmonie
Hoewel die ontwikkeling en gebruik van tegnologie sy passie is, plaas hy in sy boerdery steeds baie klem op hand-en-oog-seleksie. “Jy begin met ’n hulpbron en eindig by die eindproduk en kan deur die toepassing van tegnologie, wat eintlik verwerkte inligting is, bepaal hoe jy optimale wins uit die hulpbron kan maak.”
Uys bedryf ’n gemengde boerdery bestaande uit kleingraan en kleinvee. Die graanvertakking, waar hy ten volle bewaringsbewerking toepas, maak 70% van die boerdery se omset uit. Hy boer ook in ’n maatskappy saam met sy bure, op ’n plaas wat hulle saam gekoop het en waarop hulle ’n voerkraal bedryf. Hy bestuur in totaal 4 500 diere, waarvan 40% sy eie is.
Komarsekraal se Merino-stoetery het 700 ooie. In sy tweede kudde, wat almal ooie is wat uit die stoetery kom, gebruik hy Dormerramme. Die lammers in die tweede kudde word almal bemark.
Versnelde paringstelsel
Sy eie stoetooie is op ’n nege maande-paringstelsel, terwyl sy tweede kudde en die ooie in die maatskappy-boerdery op ’n versnelde paringstelsel is. Met die bestuurstelsel bemark hy 140 tot 150% lammers per ooi per jaar.
By die versnelde paringstelsel bepaal die ooie se kondisie en die omgewingsomstandighede hoe gou die ooi weer gepaar word. Die ooie moet ten minste in ’n agt-maande paarstelsel wees, maar as die omstandighede gunstig is, kan die ooie na ses maande gepaar word. Daar is dus nie ’n spesifieke lamtyd nie.
Om binne ses maande weer te paar, word die lammers vroeër gespeen en as die ooi se kondisie afneem, kry sy deurvloeiproteïen en word tydens die herstelfase word sy vir ’n maand gepaar. Om dit te kan doen, moet daar goeie weiding vir die ooi wees en die boerdery moet genoeg voergars hê om die lammers wat vroeg gespeen is, in ’n voerkraal af te rond, sê Uys.
Vir meer inligting, skakel Dirkie Uys by 082 413 0580, of epos duys@yebomail.co.za.